ʼn Man is Saterdagaand dood nadat ʼn trein hom naby Petrusburg in Bloemfontein in die Vrystaat getref het. Dit is die derde geval in twee dae.
Maroela Media het vroeër berig twee mans is onderskeidelik Vrydag en Saterdag in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal dood nadat treine hulle getref het. Klik hier om meer te lees.
“ʼn Pasiënt het in die middel van die spoor gelê toe paramedici by die toneel in Petrusburg opgedaag het,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. “Die man het ernstige beserings aan sy kop, bors en bene opgedoen. Hy was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.”
Plaaslike owerhede sal ondersoek instel.