Nog ’n Pretoriase leerder neem eie lewe

(Argieffoto)

’n Gr. 9-leerder aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion is Woensdag oorlede nadat hy sy eie lewe Dinsdagaand probeer neem het.

Dié tragiese voorval volg maar enkele dae ná die dood van ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria-Oos vroeër vandeesweek. Kaylee-Shaye Coetzer het Maandagaand haar eie lewe geneem. Sy was 13 jaar oud.

Dr. Dewald Strydom, skoolhoof van die Hoërskool Zwartkop, het Donderdag aan Maroela Media gesê die skool se gr. 9-groep van sowat 400 leerders is vanoggend in twee groepe opgedeel sodat beraders en predikante met hulle kon gesels ná die dood van hul klasmaat.

Beraders is ook beskikbaar gestel vir leerders van ander grade wat moontlik die behoefte het om met iemand te gesels.

“Ons kinders is vir ons belangrik en ons koester hulle. Ons kinders trek vandag swaar,” vertel Strydom, ’n jarelange opvoeder en skoolhoof aan dié skool. Strydom self het ʼn doktorsgraad in sielkunde.

Strydom sê die moontlikheid bestaan dat die voortslepende Covid-19-pandemie ’n bydraende faktor in selfmoordneigings onder tieners speel en dat onderwysers in dié tyd hoop moet skep.

“Kinders is sosiale wesens en hierdie virus verwyder leerders van mekaar. Ons kan nie alles daaraan toeskryf nie, maar ek dink dit is moontlik ’n bydraende faktor.”

Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), beaam dit.

(Argieffoto)

Maree sê daar is die afgelope paar maande wêreldwyd ’n toename in voorvalle waar jongmense hul tot selfdood wend.

“Covid-19 raak ongetwyfeld ons kinders. Hulle voel asof hulle nie met hul maats kan kommunikeer nie… Kinders wil met hul maats praat. Hulle wil weet wie hulle is en waar hulle inpas. Covid-19 vat ons identiteit weg,” verduidelik hy.

Maree sê voorts kinders “verstaan en is slim”. Hy verduidelik dat kinders nes volwassenes gedurende die pandemie hoor, lees en gekonfronteer word met die sterftes wat gepaardgaan met die koronavirus.

“Dit is ’n baie moeilike tyd. Dit speel in daardie idee van vryvloeiende angs. Dit maak my bang. Dit maak jou bang en ons het geen beheer daaroor nie. Dít is uiters destruktief.”

Maree sê faktore soos huishoudelike omstandighede, ’n tekort aan ondersteuning en boeliery beïnvloed natuurlik ook ’n kind se geestestoestand.

“Niks is vir ʼn kind in puberteit meer pynlik as maats wat hom of haar uitlag of wegstoot nie.”

Raad aan ouers

Volgens Maree ken ’n ouer ’n kind beter as enigiemand anders. Ouers kan dus op die uitkyk wees indien ’n kind meer óf minder slaap of meer óf minder as gewoonlik eet. “Elkeen reageer anders.

Argieffoto

“Wees daar vir jou kind. Vra jou kind uit. As hy nie wil praat nie, is dit ’n rooi vlag. Ek raak bekommerd as die kommunikasiekanaal verstop.”

Maree raai ook ouers aan om hul kind gedurende hierdie tyd aan te raak en liefde aan kinders te betoon. “Sê vir jou kind jy is lief vir hom en haar. Herhaal dit.”

En hoe gemaak met jou kind wie se klasmaat sy of haar eie lewe geneem het?

Maree meen die belangrikste ding is dat ’n kind daaroor praat. “Moenie dink jou kind verwerk dit op sy of haar eie nie. Vra jou kind daaroor uit. Laat die kind teken of selfs ’n briefie skryf. Laat die kind kommunikeer.”

Hy herinner ook ouers daaraan dat daar hulpbronne soos sielkundiges beskikbaar is om ’n kind by te staan.

“Praat, praat, praat. Luister, luister, luister en luister nog ’n keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Dis so tragies. My hart is seer vir die ouers. Mag GOD hul vertroos in die moeililke tyd

Johan ·

Maar niemand gee om vir ons kinders nie…”sit op jou masker” en basta. Ekt nou al probeer kla daaroor omdat ek elke dag sien hoe dit hul negatief maak, maar elke keer trap die skoolhoof hul net uit om op te hou kla….kom nou Maskermal en Bende, wat se werklike voordeel hou die masker dra in v ons kinders? Selfs in die UK is dit nie verpligtind nie. Besef julle drommels dat as jy onder 60 is, is jou kaans beter om aan selfmoord te sterf as aan Covid! Julle speel met ons kinders se lewens!

DIABLO ·

Ek dink n oordosis informasie danksy die internet speel ook n rol. Oral lees mens van besoedeling, natuurlike hulpbronne wat uitgeput word, mense wat mekaar vermoor vir 5 sent. Die lys gaan aan. geen wonder kinders wonder wat die punt om te lewe is nie.

Elize ·

Hierdie is ‘n moeiliker tydperk vir aktiewe kinders. My kleinseuns moes hulle drome opgee. Eerste span rugby wat nou gemarniliseer is na ‘n skoolfoto met ‘n rugby trui aan, Revue tot niet. Dit het nou ons plig geword om alternatiewe te vind om hulle te motiveer en hulle gemoedere hoog te hou. Ons eet elke aand aan tafel en bespreek verskillende onderwerpe. Speel bordspeletjies, karaoke en dans saam om te bly beweeg. Verf blikkies en plant plantjies daarin. Ek leer hulle ook dat beurtkrag daar is en hoe ons rondom dit werk. Ons praat oor Covid en hoe om veilig te bly. Ons leuse is doen wat jy moet doen. Masker, distansie en sanitasie vir ONS veiligheid. Skermtyd hou ek min want hulle raak vinnig verslaaf daaraan . Wanneer jy positief is vryf dit af aan die om jou. Maak tyd vir mekaar in hierdie tyd!!

Blomme ·

Baie moeilike tyd vir die ouers van die kind.. Ek hoop hulle kry genoeg ondersteuning. Dis seker maar moeilik vir enige ouer om so iets te verwerk veral as jy nie die waaroms daar rondom weet nie. Ek dink nie enige spekulasies van wat moontlik daartoe kon lei dat kinders selfdood oorweeg, sal vir enige ouer in diè tyd berusting bring nie. Gee net eers die nodige ondersteuning aan die kind se naasbestaandes en ondersoek moontlikhede heelwat later. Is dit te veel gevra van die kundiges.

Samuel ·

Dit is baie hartseer om hierdie berig te lees. Mag die ouers, leerders en ander naasbestaandes vrede vind in Jesus se teenwoordigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.