Nóg ’n rekord vir manjifieke Gerda

Gerda Steyn het die Twee Oseane-marathon in ’n rekordtyd gewen. Foto: Twitter.

Gerda Steyn se drafgetuigskrif sorg ongetwyfeld vir indrukwekkende leesstof: Daar is die Comrades-rekord, die sterk Olimpiese vertoning in Japan en die gereelde uitblinksessies by van die wêreld se grootste wedlope.

Maar vandag het sy vir die derde agtereenvolgende keer die Twee Oseane-marathon in die Kaap gewen en terselfdertyd sommer een van Suid-Afrika se oudste drafrekords laat spat.

Die 32-jarige Steyn het die 56 km in ’n spogtyd van 3:29:42 voltooi om Frith van der Merwe se rekord van 3:30:36 te verbeter.

Om dinge net vinnig in konteks te plaas: Van der Merwe het haar spoggerige tyd in 1989 gehardloop!

Sodoende het sy R500 000 in die sak gesteek – R250 000 vir die oorwinning en R250 000 vir die rekordtyd.

“Ek het vir myself gesê ek moet kalm bly. Toe ek na die horlosie kyk en 3:29 op die skerm sien, het ek geweet die oomblik waaroor ek die afgelope paar jaar gedroom het, kan vandag ’n werklikheid word,” het Steyn gesê.

Sy was in ’n lekker tweestryd met Irvette van Zyl gewikkel en ’n sterk eindpoging (skaars twee kilometer weg van die eindstreep) het gesorg dat sy met die uiteindelike louere wegstap.

Tog kan Van Zyl ook in haar noppies met haar poging wees: ’n Tweedeplektyd van 3:30:31 beteken dat sy óók Van der Merwe se rekord verbeter het.

“Ek het my boeglam geskrik toe Gerda my ingehaal het. Ek het ’n bietjie by Constantia-nek gesukkel, maar ek het my bes gedoen en ek is baie tevrede met my vertoning,” het Van Zyl gesê.

Die gewilde Pretorianer het R50 000 ontvang omdat sy ook die rekord verbeter het.

Twee Suid-Afrikaners op die hoogste plekke van die Twee Oseane-marathon is beslis goeie nuus.

In die mansafdeling het Ethiopië se Edndale Belachew die wedloop met sy tyd van 3:09:05 gewen, met Suid-Afrika se Nkosikhona Mhlakwana (3:09:08) kort op sy hakke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.