Nóg ’n verslag van OB ter syde gestel

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. (Foto: Twitter)

Nóg een van Busisiwe Mkhwebane, die geskorste Openbare Beskermer (OB), se verslae oor Ivan Pillay, die voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is onwettig verklaar en ter syde gestel.

Hierdie keer is dit ’n verslag rakende ’n ou IT-kontrak van 2006 tussen die inkomstediens en die sagtewarefirma Budge, Barone & Dominick (BBD) wat onwettig verklaar en ter syde gestel is.

Dié verslag is die derde van Mkhwebane – waarin Pillay die applikant is – om ter syde gestel te word.

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag bevind dat Mkhwebane Pillay se grondwetlike regte geskend het gedurende die opstel van haar verslag oor bewerings van wanadministrasie en onbehoorlike gedrag wat verband hou met onreëlmatige verkrygingsprosesse deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) [sic] in die aanstelling van Budge, Barone & Dominick (Edms.) Bpk.

Ivan Pillay. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die hooggeregshof het bevind dat die OB versuim het om Pillay van haar ondersoek in kennis te stel. Pillay is ook nie die reg gegun om sy saak te stel rakende die regstellende stappe wat teen hom beoog word nie. Hy het ook geen van sy regte geniet waarop hy ingevolge die Wet op die Openbare Beskermer geregtig is nie.

Pillay se regspan wys nou in ’n verklaring daarop dat die OB hom in die twee vorige verslae wat ter syde gestel is ook benadeel het. Dié verslae het gehandel oor sy vroeë aftrede by die SAID en sy pensioenvoordele, asook sy aanstelling as die voormalige SAID-adjunkkommissaris. Dit het hom ook betrek by die stigting van die sogenaamde “rogue-eenheid”.

Pillay se regspan sê Pillay het Vrydag gedurende sy getuienis voor die die parlement se art. 194-komitee, wat tans belas is met ’n ondersoek na Mkhwebane se bevoegdheid, ’n reeks soortgelyke gevalle van magsmisbruik uitgelig in die ondersoeke wat die OB teen hom gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Witbaard ·

Saak is ter syde gestel op tegniese punte maar ek is nie oortuig sy rekord is skoon nie.

Nie Verbaas ·

En die hele regering is vol van die “bevoegde kenners.” Mantashe, Lesufi, Mbalula, Cele, Sisulu, Dlamini Zuma en nog en nog en nog.

SjN ·

Soustrein kaders, daar is nog baie name wat bygevoeg moet word by jou genoemde verkorte lys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.