Nog talle witdoodshaaie by Plet opgemerk  

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Oleksandr Sushko / Unsplash)

Altesaam 12 witdoodshaaie is Woensdagoggend tydens ʼn lugopname van die Plettenbergbaai-kusgebied – wat van die Robberg-skiereiland tot by die Grootbank-gebied verby Keurboomstrand strek – opgemerk.

Die Plett Shark Action Group (PSAG) het die opname in samewerking met verteenwoordigers van Bitou-omgewingsbestuur en Plett Great White Shark Research onderneem.

Volgens die Bitou- plaaslike munisipaliteit se verklaring is die getal haaie wat opgemerk is, meer as wat gewoonlik tydens Plettenbergbaai se lenteseisoen verwag word.

“Redes hiervoor kan verskil. Daar kan dalk prooi in die baai wees wat die haaie daarheen lok, en die seetoestande en verandering in watertemperatuur kan haaie na die baai dryf. Dit kan beslis ook ʼn vertraagde uitwerking wees van die walviskarkas wat onlangs in die omgewing was.

“Ons is ook bewus van haaie wat moontlik uit Mosselbaai en ander kusgebiede verdryf is, moontlik weens verhoogde moordvis-interaksie en -verdrywing.”

Die munisipaliteit het mense gevra om ten alle tye die instruksies van Bitou-lewensredders, die Nasionale Seereddingsinstituut op Plettenbergbaai- en Bitou-strandbeheerbeamptes na te kom en om slegs in aangewese areas te swem terwyl lewensredders aan diens is.

Benewens die haaie is verskeie ander spesies ook tydens die lugopname opgemerk. Dit sluit in pylsterte, dolfyne, ander haaispesies en talle groot en kleiner vissoorte.

“Gegrond op [ervaring in] vorige jare kan dié roofdiere binnekort migreer en die baai verlaat.

“Haaie, walvisse, dolfyne en ander seelewe besoek die kusgebied regdeur die jaar – meer dikwels tydens die wintermaande van Mei tot Oktober. Ons moedig inwoners en besoekers aan om ten alle tye bewus te wees van seeveiligheid en veiligheidsmaatreëls en seelewe te eerbiedig.”

Twee witdoodshaai-aanvalle is die afgelope drie maande op Plettenbergbaai aangemeld. In die mees onlangse voorval is Kimon Bisogno (39) naby die Sentraalstrand in ʼn haai-aanval dood, terwyl Bruce Wolov einde Junie dood is toe hy by die Sanctuary-strand deur ʼn haai aangeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter9 ·

Verstaan nie die ‘bohaai’ oor haaie in die see nie? Waar dink die media is haaie veronderstel om te wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.