Nog te veel vrae oor SA se R11 miljard-lening

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA eis dat pres. Cyril Ramaphosa sy minister van finansies in die bek ruk omdat hy volgens die party nie voldoende antwoorde gegee het oor Suid-Afrika se lening van R11 miljard by die Wêreldbank nie.

Die lening is vroeër vandeesmaand goedgekeur.

Dion George, die DA se adjunkskaduminister van finansies, sê Enoch Godongwana het in ʼn komiteevergadering oor finansies gewys “hoe min hy omgee oor Suid-Afrika se finansies” en die parlement se oorsigrol.

George sê die minister het sonder ʼn aanvaarbare verskoning ʼn halfuur laat by die vergadering opgedaag, vir minder as ʼn minuut gepraat en toe gesê hy sal vrae beantwoord.

“Dit is nie die eerste keer dat die minister die mense van Suid-Afrika en die belangrike werk wat van hom verwag word, absoluut verontagsaam nie. Hy het ook sonder enige verduideliking versuim om ná sy mediumtermynbegrotingsrede voor die komitee te verskyn.”

Daar is intussen steeds geen duidelikheid waarvoor die lening gebruik gaan word, of wat die voorwaardes daaraan verbonde is nie, sê George. Die minister kon ook geen besonderhede verskaf en die tesourie was vaag oor vrae daaroor.

Suid-Afrika se skuldlas styg steeds en die terugbetaling van rente beteken dienslewering bly agterweë, terwyl die diens van skuld binnekort die grootste gedeelte van die land se begroting in beslag gaan neem.

“Die regering het die mense se geld wanbestuur deur verkwistende besteding op mislukkende staatsbeheerde ondernemings, asook deur toe te laat dat groot bedrae uit die staatskas lek. Die staat sal eerder meer leen om sy rekeninge te betaal, pleks daarvan om sy gordel in te trek en ekonomiese groei te stimuleer.

“Dit lyk of die minister nooit dié les geleer het nie: Die eerste stap om jouself uit ʼn gat te kry, is om op te hou grawe.”

George sê terwyl dit lyk of die minister nie die parlement ernstig opneem nie, die DA dit wél doen en die uitvoerende gesag aanspreeklik sal hou.

“Omdat die minister nie bereid was om self vrae te beantwoord nie, het ek geskrewe vrae aan hom gerig wat hy hopelik meer tyd sal hê om te beantwoord.

“Ek sal ook aan die president skryf en verdere besonderhede vra, gegewe die versuim van die minister om behoorlik verantwoording te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frikkels ·

Nou wil mnr George die uitvoerende gesag verantwoordelik hou! Op watter manier? Die regbank staan bankvas agter hulle kaders. Hulle wil die geld gebruik om hulleself en die kaders nog verder te verryk ten koste van ons land en sy mense. Stuur die hele korrupte spul tronk toe en gooi die sleutels weg! Raak dan ontslae van vakbonde, taxi assosiasies, die oordrewe onregverdige menseregte komisie, en voila! ñ splinternuwe werklike nuwe suid afrika wat met die regte bekwame leiding, eindelik op die wenpad sal wees.

mattk ·

Die kaders weet van leen en spandeer, maar ken nie van terug betaal nie.

Frikkels ·

Jy is verkeerd. Die uitvoerende gesag kort nou nog net 49c, dan het al die “belangrike” kaders hulle deel van die 11 miljard gekry. Nou gaan hulle nog ñ heffing op die brandstof pryse byvoeg om die 49c te verhaal, en siedaar, uiteindelik klop hulle boeke!

Grassie ·

Die ANC is bankrot, ‘n deel van daardie geld word seker op ‘n slinkse wyse na hulle leë geldkassie herlei. Mnr George van die DA sal sekerlik nooit presies kan vasstel wat van die geld geword het nie. Daar is ‘n ander skelmstreek wat in verskeie Afrikalande gedoen is, nl die druk van note. As hulle geld kort druk hulle bloot ‘n baie groot klomp note wat nie op rekord is nie. Mugabe het dit op groot skaal gedoen en dit was deels die rede vir sy land se ekonomiese ineenstorting. Ek voel so aan my bas dat hierdie land se regering dit al lankal doen.

Grassie ·

Julius – ek dink daar gaan ‘n dag kom dat die SA rand net 0.06 Amerikaanse dollar werd is.

Shakespeare ·

Wat is die DA se probleem ? Hulle behoort na 27 jaar te weet hoe dit werk. Enoch gaan dit uitdeel onder al die kader tjommies.

Marius ·

Die ANCancer het nie n einde nie,hul weet reeds presies wat met die geld gaan gebeur,rede vir nie die vrae beantwoord….en ons weet ook,die ANCancer is n skande vir hulself…n land….die wêreld!!!

Misky ·

Hierdie ouens weet nie dat jy ‘n lening weer moet terugbetaal nie. Hulle gewoond aan “handouts” en bedel en hierdie geldjies moet saam rente weer terugbetaal word.

Nie Verbaas ·

Die rede hoekom daar geen duidelikheid is nie is oor die totale onbevoegdheid van die ANC. Hoekom is die lening in die eerste plek toegestaan terwyl die hele wêreld weet hoe hopeloos die ANC is? Dit gaan gesonde verstand te bowe.

Jacobus ·

Hoe kan hulle nie weet waarvoor geld is nie? Dis eenvoudig om die druk op land se mense te behou. Só behou die poppemeesters die aandag van die heersende kabaal!

Renier johannes ·

Hulle leen net vir sakgeld nie vir die land se belang nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.