Nóg treine brand in Kaapstad

In die jongste voorval is 18 treinwaens uitgebrand. (Foto: Twitter)

Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, gaan pres. Cyril Ramaphosa vra om die Valke te beveel om ʼn spesiale ondersoekspan op die been die bring om brandstigting op treine in die stad te ondersoek.

Meer as 140 treinwaens, wat sowat 40 treinstelle beslaan, is die afgelope drie jaar in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek.

In die jongste voorval – waarna Plato as ekonomiese sabotasie verwys – is 18 treinwaens vanoggend by die Kaapstad-stasie aan die brand gesteek en is duisende pendelaars gestrand gelaat. Aanvanklike aanduidings is dat ook dié brand doelbewus gestig is.

Nie in enige van die voorvalle is ʼn enkele mens nog in hegtenis geneem nie, het Plato gesê.

“ʼn Paar maande gelede is ʼn persoon wat glo geestesversteurd is, in hegtenis geneem. Buiten daarvoor het die polisie se speurdienste die mense van dié stad in die steek gelaat.

“Ons treindiens is ʼn skadu van wat dit eens was. Honderde duisende pendelaars roep treindienste vaarwel toe, terwyl ons paaie al hoe meer motors, busse en taxi’s moet hanteer. Prasa, Metrospoor en die polisie moet hulle sake regruk. Ons kan nie toelaat dat hulle mislukkings ʼn uitwerking op die stad se inwoners het nie,” het Plato gesê.

Die brand het tot grootskaalse ontwrigting van treindienste in die provinsie gelei. (Foto: Twitter)

Die burgemeester het gesê as diegene wat tans in beheer van die spoorweë is dit nie wil bestuur nie, hulle dit moet oorhandig aan iemand wat bewys het dat hulle behoorlik kan regeer.

Alle treindienste in die provinsie is aanvanklik tydelik opgeskort, maar sommige dienste is intussen reeds hervat. Op sosiale media is daar by werkgewers gepleit om begrip te hê vir werkers wat weens die grootskaalse ontwrigting laat sou opdaag.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gaan die stasie na verwagting vanmiddag besoek waar hy na die omvang van die skade sal kyk. “Ons almal moet die beskadiging van dienste – wat die weerloosstes in die samelewing help om na die werk en huis toe te pendel – veroordeel,” het die minister gesê.

“Brandstigting op treine is ʼn gewelddadige aanval op die armes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frans C ·

Waarom die spoorwegpolisie ontbind is weet nugter alleen.

Mog-het-troffe ·

Die eerste vraag wat die ondersoekspan moet vra om by die skuldiges uit te kom, is “Wie trek voordeel uit die nie-beskikbaarheid van die treindienste”. Die maklike antwoord sal julle help na waar om te begin soek vir die skuldiges.

JohanR ·

In watter land in die wereld word vervoer vernietig wat daar is om mense na hulle werk toe te neem om ‘n geldjie te verdien om hulle families te voed? Waar is Mr Fixit? Ek dog Fikile Mbalula weet alles nog voor dit gebeur? Hy is die 21ste eeu se Nostridamus!

Hennie ·

Tyd om allesogenasmde taxi’s te verbied. N taxi is nie veronderstel om n roete te hê nie, dit veronderstel om te ry waarheen die klient gaan. Die “taxi base” bedryf eintlik n busdiens met ongeëwenaarde bushaltes het. Dit kompeteer direk met die munisipale bus vervoer. Stel ook ekstra belastings in op “taxi’s” om te betaal vir skade aan treinwaens. As die goed nie skuldig is nie dan sal hulle vinnig die skuldiges opspoor en uitsorteer!

Stuiwer ·

Polities gedrewe. Die Kaap word nie gegun om beter as die res van die ANC dele te funksioneer nie.

Gerrie ·

Laat die blikskottels loop. Laat die metro polisie hulle werk doen en taxis afgooi. Dwing hulle om te stap

Peter Holmes ·

In die ou dae sou die Veiligheidstak hulle gou gearresteer het. En hulle sou hangpaal gekry het !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.