Nóg trokke brand

Nog twee vragmotors is later in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek. (Foto: Verskaf)

Nog vragmotors is opnuut landwyd op verskeie plekke geteiken en summier aan die brand gesteek, met altesaam 16 vragmotors wat oor die afgelope paar dae uitgebrand het.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ʼn vragmotor is Maandag in die vroeë oggendure op die R547 by Lydenburg deur ses mans voorgekeer. Die vragmotor was op pad om chroom by ʼn myn af te lewer toe dit voorgekeer is.

“Twee van die verdagtes het vuurwapens gehad en hulle het die bestuurder beveel om die pad met die vragmotor te versper,” sê Ledwaba.

“Die bestuurder moes deur die venster uit die vragmotor klim en dit is aan die brand gesteek.”

Nog twee vragmotors wat agter die eerste een gery het, is ook aan die brand gesteek voordat die verdagtes op die vlug geslaan het.

Die bestuurders van al drie vragmotors is ongedeerd.

Die polisie ondersoek nou ʼn saak van gewapende roof en saakbeskadiging.

In KwaZulu-Natal het die polisie ook Maandagaand reageer op nog ʼn voorval waar gewapende mans op vragmotors toegeslaan het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, sê beamptes is om 22:00 na ʼn gedeelte van die N2 tussen Enseleni en Empangeni ontbied nadat twee vragmotors daar aan die brand gesteek is.

Volgens Naicker het ʼn groep gewapende mans die bestuurders van die twee vragmotors oorrompel en beroof.

“Die bestuurders is uit die vragmotors gedwing voor dit aan die brand gesteek is.”

Al die bestuurders het in dié gevalle ook ongedeerd daarvan afgekom.

Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord.

Die jongste voorvalle volg kort na twee vorige afsonderlike voorvalle waar vragmotors voorgekeer en aan die brand gesteek is.

In die eerste voorval is ses vragmotors Saterdagaand op die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek en nog vyf vragmotors is net voor die Waterval-Boven-tonnel in Mpumalanga aan die brand gesteek.

Die motief vir die aanvalle is volgens die polisie onbekend.

Geen inhegtenisnemings is tot dusver gedoen nie.

Die Padvragvereniging het vroeër oor een van die aanvanklike aanvalle gesê dit is met “doelgerigte presisie” uitgevoer. Fleetwatch, ʼn tydskrif vir die padvragbedryf, het ook sy kommer te kenne gegee oor die uitwerking wat die voortgesette aanvalle op die sektor en die breër ekonomie gaan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vrystaat2109 ·

Ai hierdie mooi land van ons het ‘n misdaadhool geword, ons misdaad broers van die buurlande is welkom hier, dankie ANC.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie is die werk van plaaslikes. Hulle is glo teen buitelandse bestuurders.

Kiewiet ·

Kan Ramaphosa nie ‘n persverklaring op nasionale tv doen en hierdie mense aanspreek nie verstaan hulle wat hul besig is om te doen hulle gaan ook daaronder ly..Dink nie hulle verstaan dit!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa het lankal beheer verloor. Selfs sy eie mense lag vir hom.

Sobymykoolkop ·

Ek VERMOED. En dis net ń vermoede, hy gaan ń komissie van ondersoek aanstel met ñ afgetrede regter as voorsitter.

Gregory ·

Ek het net een vraag…. Hoe is dit moontlik dat die polisie nie die motief vir hierdie misdade kan identifiseer nie. Dit is baie duidelik sindikate/mafia is betrokke landswyd. Kyk net na die modus operandi.

Jessey ·

Ek weet dat dit glad nie maklik is vir Padvervoer maatskappye om so iets te doen nie, maar miskien, net miskien moet hulle vir ‘n week of twee hulle bedrywighede stopsit. Dit sal vir die klomp “aktiviste” ‘n idee gee van wat sal gebeur as die padvervoer stopgesit is, en sal ‘n groot impak he op belasting. Miskien dan sal die regering actually opstaan en ophou beloftes maak en reageer. Dit stel mense se lewens in gevaar en is ‘n ongelooflike bedreiging vir die land se ekonomie wat net eenvoudig nie kan staatmaak op spoor vervoer nie, want ons is in die posisie geplaas alreeds

Philip ·

Jy vergeet dat die skepsels wat hierdie tipe dinge doen het nie die insig of intelligensie om te dink of te kan besef watter impak hul dade het nie, hulle wil juis ‘n impak maak.
En om te hoop dat die nuttelose regering iets sal doen is wensdenkery, dit is Afrika, afbrand, afbreek, vernietig is die leuse, die enigste groei wat hulle ken en goed kan doen is om die bevolking the laat groei.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Suiwer terrorisme…ekonomiese sabotasie! Die skuldiges moet eintlik hang, maar nouja, in die nuwe (ou) SA onder ANC bewind sal die skuldiges seker net ‘n ligte rapsie oor die vingers kry. Viva ANC, Viva!

Jessey ·

Hulle sal geskors word en met vol salaris huis toe gestuur word in afwagting vir die verhoor wat miskien oor 10 jaar van nou sal gebeur, en miskien intussen gaan leer Golf speel so Schaik Schaik deur die lewe gaan

LANA is ELANè ·

Hierdie is terreur teen die ekonomiese welvaart in ons land. Hierdie mafia styl bendes wat regoor ons land in verskillende industrieë die tipe misdaad pleeg, word verseker deur iemand hoër op georkestreer.
Dit is om ons land op sy knieë te bring tot eie voordeel.
Op HSM kan mens nie name noem oor wie jy dink dit is nie, wat ek wel kan sê die tipe terreur is regoor die WESTERSE wêreld sigbaar en enige persoon wat wêreld nuusgebeure volg behoort te weet wie sit agter die tipe sabotasie, dit is nie die gewone man op straat nie!

Wakkerslaper ·

Wat is so vreemd? Die volk doen maar net wat hulle so mooi in die verlede deur die anc/sakp geleer was – gebruik terreur om jou ideologie en agendas te bevorder. En doen dit onder skuilname soos “stryd teen apartheid”, of “transformasie”, of “xenofobie”

Marthinus W ·

Die Padvragvereniging praat van “doelgerigte presisie”. Dit stem ooreen met Lana se observasie. Ons moet weier kyk en nie alles dadelik op die regering plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.