Nóg twee dalk beseer in Vanderbijlpark-skietery

Die vulstasie in Sharpeville waar die skieter selfmoord gepleeg het. (Foto: Twitter)

Die polisie soek na nog twee mense wat moontlik gewond of beseer is toe ʼn man Dinsdagaand op inwoners van Vanderbijlpark losgebrand het.

Altesaam drie mense, onder wie die skieter, is dood en drie ander vermoedelik gewond of beseer gedurende die skiettog wat dié dorp vandeesweek geruk het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn man het Dinsdagaand met sy goudkleurige BMW X5 rondgery en op inwoners losgebrand voordat hy homself by ʼn vulstasie in Sharpeville om die lewe gebring het.

Die 18-jarige Nathan Hebler en nog ʼn volwasse man, glo ʼn karwag by Checkers, is gedurende die skiettog raakgeskiet en het later in die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Hebler se pa, Johan, is saam met sy seun voor ʼn kitskosplek in Frikkie Meyer-boulevard geskiet toe die skieter buite in dié straat losgebrand het. Hy word steeds in die hospitaal behandel en is in ʼn bestendige toestand.

Nathan Hebler is buite die kitskosplek in Vanderbijlpark geskiet. Hy het later gesterf. (Foto: Facebook)

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die polisie vermoed dat nog twee mense gedurende die voorval beseer is.

Die polisie probeer egter in dié stadium nog vasstel waar dié mense is en of hulle wel gewond of beseer is. Dit is nie in dié stadium duidelik of die persone raakgeskiet of deur die skieter omgery is nie.

Makhubele kon ook nie in dié stadium die skieter se identiteit bekend maak nie. Hy het wel bevestig dat die man 49 jaar oud is.

Hy sê bewerings dat die man ook sy vrou en kinders geskiet het voordat hy selfmoord gepleeg het, is onwaar.

“Die motief vir die voorval is nog onbekend.”

Drie sake van moord en drie van poging tot moord word ondersoek. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Truthful ·

Het aan presies die selfde gedink…en asook. As nog mense beseer is moes hy daarvan weet…

Lize ·

Hulle maak nie sy naam bekend nie, heelwaarskynlik omdat al die familie nog nie in kennis gestel is nie, nie omdat hulle nie weet nie.

thejudge ·

Ag tog…natuurlik weet hulle wie hy is. Dink tog bietjie.

ronel ·

Geen persoon oorlede se naam mag bekend gemaak word totdat sy naasbestaandes in kennis gestel is nie, dit het niks te doen met ” weet ” nie maar wel met logika, ek glo nie enige mens wil op ‘n koerant se voorblad uitvind sy geliefde is oorlede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.