Nog twee kinders dood wat snoepgoed eet

(Argieffoto)

Twee seuns is dood en nog twee is in die hospitaal nadat hulle Woensdag lekkergoed en aartappelskyfies van ’n verkoper in West Deep by Westonaria aan die Wes‑Rand in Gauteng geëet het.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê twee kleuterseuns, onderskeidelik twee en drie jaar oud, is dood verklaar met hul aankoms by die Bekkersdal-Wes-gemeenskapsentrum.

Die ander twee seuns, onderskeidelik vier en ses jaar oud, is vir observasie en verdere mediese behandeling na die Leratong-hospitaal in Krugersdorp oorgeplaas. Albei is tans in ’n stabiele toestand.

“Die departement het die nodige trauma-beradingsdienste vir die geraakte families gereël,” bevestig Modiba.

Hierdie voorval volg ná twee gr. 1-leerders op Sondag dood is nadat hulle koekies en sap ingeneem het wat hulle by ʼn spazawinkel gekoop het en daarna siek gevoel het. Die twee seuns was onderskeidelik leerders aan die Kgauhelo Primary School en Karabo Primary School in Soweto.

“Ná die onlangse geval is altesaam vier kinders in een week oorlede weens voedselvergiftiging.”

Uitbrekingsreaksiespanne in Johannesburg en aan die Wes‑Rand bly ontplooi in Naledi, West Deep en omliggende gebiede in Westonaria om gesondheidsopvoeding aan plaaslike inwoners ter bewusmaking te verskaf.

“Die bewusmaking fokus op hantering, voorbereiding en berging van voedsel asook voedselveiligheid. Dit is belangrik om die voedsel se verval-etikette na te gaan en hande te was voordat voedsel hanteer word. Gemeenskappe word ook ingelig oor wat om te doen wanneer voedselvergiftigingsimptome voorkom. Dit kan insluit maagkrampe, naarheid, braking of diarree.

“Deel van die spanne se werk is ook om verskaffers en spazawinkels in die omgewing in te lig oor die nakoming van wette en regulasies rakende voedsel, skoonheid‑ en ontsmettingsmiddels en voedseletikettering.”

Die uitbrekingsreaksiespanne het die gesinne wat geraak is, besoek om ondersteuning en berading te verskaf asook om verdere ondersoek in te stel.

Die departement doen ’n beroep op die publiek om hul naaste gesondheidsfasiliteit te besoek wanneer hulle simptome soos braking, skielike borspyn, liggaamspyn of swakheid, koors of skuim in die mond ervaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

agenee….. simpatie aan die ouers, familie en vriende. Ek hoop dat hier iets gaan van kom, ons moet al ons kinders beskerm.

Anel ·

Dit is omdat enige iemand op enige plek ‘n sambreel kan opslaan en enige ding te eet kan verkoop. Geen permit of toestemming nie. Geen hiegihene nie. Mag nie gestop word nie want foeitog, probeer ook maar ‘n ou geldjie maak. En kyk nou. Dis hoe allerhande siektes uitbreek en lei tot die dood van mense. En niemand aanvaar verantwoordelikheid nie. Maar dis hoe dit gaan in Afrika!!! In ander lande kan jy nie eens ‘n melktert bak en verkoop sonder toestemming van die departement van gedondheid en ander reels en regulasies nie.

Amelia ·

Kyk maar hoe lyk paul kruger str in pretoria van damvis tot geslagte hoenders hoelank is dit in son vliee oral als word op straat verkoop dit is so vuil maar lyk of niemand omgee nie

Bolandse Nooi ·

Bestaan Paul Krugerstraat in Pretoria nog? Ek sou dink dat hulle dit lankal al na Ma-Gqabada-Winnie-Mathabela straat hernoem het …

Bolandse Nooi ·

Klaarblyklik is die “uitbreking” van sterftes a.g.v. van “voedselvergiftiging” glad nie laasgenoemde nie. Dis omdat die spaza-winkels glo gifstowwe in dieselfde winkels aanhou, wat dan kosvoorrade besmet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.