Nog twee vas wat glo trokke brand

Een van die vragmotors wat in Mpumalanga aan die brand gesteek is. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het nog twee mense in hegtenis geneem wat glo by die aanvalle op vragmotors in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal betrokke is.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die verdagtes in Mpumalanga vasgetrek is.

Tot dusver is vier mense in Mpumalanga in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die aanvalle, terwyl nog iemand in Limpopo vasgetrek is.

“Die soektog na nog verdagtes duur voort,” het Mathe gesê.

Vragmotors het vandeesweek oor die hele land onder gewelddadige aanvalle deurgeloop.

Nie minder nie as 21 vragmotors is binne dae aan die brand gesteek. In die meeste gevalle het die vragmotorbestuurders ongedeerd van die aanvalle afgekom en is nie eens van hul persoonlike besittings beroof nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër vandeesweek gesê dat hulle 12 verdagtes geïdentifiseer het wat dalk by die aanvalle betrokke is.

“Bewyse toon dat [die aanvalle] georganiseerde, gekoördineerde en gesofistikeerde operasies is wat poog om die staat te ondermyn en te saboteer,” het hy gesê.

Everest Wealth, ʼn private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy, het reeds die aanvalle as “ekonomiese sabotasie” bestempel.

“Oor die afgelope paar jaar is honderde, indien nie duisende nie, vragmotors geteiken en óf geplunder en beskadig, óf aan die brand gesteek,” het Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth, gesê.

Van Zyl sê aanvalle van dié aard veroorsaak nie net dat afleweringskedules ontwrig word nie, maar lei ook daartoe dat vragmotoreienaars groot verliese ly, vervoermaatskappye eindelik hul deure moet sluit en versekeringspremies styg.

Dít terwyl verbruikers eindelik vir die gelag sal moet betaal.

Die weermag is reeds in verskeie provinsies om die polisie by te staan, en die polisie het intussen padblokkades op talle hoofroetes opgestel en gereelde patrollies word op geïdentifiseerde hoërisiko-roetes gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

Mpofu gaan hulle regsverteenwoordiger wees en die saak gaan vir jare uitgerek word. Die hoof leiers gaan nooit aan die pen ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.