Nog verdagtes by die Estina-saak gevoeg

Mbana Thabethe, Limakatso Moorosi, Seipati Dhlamini en Iqbal Sharma in die hof. (Foto: Verskaf)

Twee bykomende verdagtes word bygevoeg as beskuldigdes in die saak wat verband hou met die omstrede Estina-suiwelprojek. Hulle sal na verwagting einde September vir die eerste keer in die landdroshof in Bloemfontein saam met hul medebeskuldigdes verskyn.

Klagtes teen die verdagtes hou verband met ʼn studie wat die Vrystaatse departement van landbou gedoen het om te bepaal of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is. Volgens die klagstaat is sowat R25 miljoen tussen 1 November 2011 en 28 Februarie 2012 deur die departement aan die maatskappy Nulane Investments 204 betaal om dié studie te doen.

Nulane het dit aan ʼn maatskappy, Deloitte Consulting (Edms.) Bpk., wat die studie uiteindelik teen ʼn bedrag van R1,5 miljoen gedoen het, uitgekontrakteer.

Die twee bykomende beskuldigdes, wie se name nog nie bekend is nie, sal na verwagting op 28 September saam met Iqbal Sharma, voormalige raadslid van Transnet en sakevennoot van die Gupta-familie, en sy swaer, Dinesh Patel, in die beskuldigdebank staan. Sharma is ʼn direkteur van Nulane en Patel ʼn verteenwoordiger van hierdie maatskappy.

Voormalige amptenare van die departement van landbou in die Vrystaat, onder wie Mbana Peter Thabethe en Limakatso Moorosi, voormalige departementshoofde, en Seipati Silvia Dhlamini, voormalige finansiële hoof, sal ook dan weer hul verskyning in die hof maak.

Al die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog, terwyl ʼn bykomende klag van geldwassery Sharma ook in die gesig staar. Die drie amptenare van die departement van landbou word ook van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, sê onderlinge regshulpprosesse is onderweg om van die beskuldigdes wat in die buiteland is na Suid-Afrika te bring sodat hulle verhoor kan word.

“Om onnodige vertragings in die afhandeling van die verhoor teen die beskuldigdes wat reeds in die hof verskyn het, te voorkom, sal die staat die res van die beskuldigdes in ʼn aparte verhoor voor die hof daag, sodra hulle aan Suid-Afrika uitgelewer is,” het Seboka gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Nou toe nou.Thatis how the cookie crumbles.Pay back the taxpayers money.You do the crime you do the time Dit is tyd dat hulle tot verantwoording geroep word.Hoop nie hulle word ook siek soos party mense nie.

Nie Verbaas ·

Sien is glo of enige van die ooit agter tralies gaan eindig en of staat bates gaan bevries om geld te herwin.

Ansie ·

Maar dis presies hoe die BEE-puntestelsel werk. As jy swart is met vlak 1 BEE kan jy jou pryse laai dat dit bars en jou punte sal sorg dat jy die tender wen al is iemand met laer vlak BEE-punte baie goedkoper. Dis hoekom die staat derduisende rande meer opdok vir produkte as wat nodig is.

Misky ·

25 miljoen vir ‘n studie?……. en die werk kan gedoen word teen 1,5 miljoen en daai maatskappy toon ook ‘n wins. Soms is my brein te ‘plat’ om die dinge te verstaan

Juffrou ·

Ag dis alles ń klug én vermorsing van ons geld. Hulle sal nooit die binnekant van ń tronk sien nie. Spul skelms. Daar loop vandag dan wéér 100,000 vry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.