Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Saterdagaand weer vloedwaarskuwings vir gebiede in Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal uitgereik.
Edwin Thema, ʼn weervoorspeller, het gesê swaar reënval word Sondag oor die hele Gauteng, suidelike dele van Mpumalanga en die noordelike dele van KwaZulu-Natal verwag.
“Ons kan op verskeie dae vloede in KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng verwag,” het hy gesê. “Die swaar reënval kan vloede veroorsaak. Ons het ook berigte ontvang van verskeie voorvalle regoor die gebiede wat geraak word waar bome weens die nat grond omgeval het.”
Vloede het die afgelope paar dae chaos in onder meer Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en Limpopo aangerig. Dit het ook veroorsaak dat die kragreus Eskom se steenkoolvoorrade nat geword het, wat die land se elektrisiteitsnetwerk onder druk plaas. Beurtkrag moes Donderdag regdeur die land in werking gestel word om druk op die netwerk te verlig.
Maroela Media het Saterdag berig dat twee bejaardes van Bela Bela vermis word nadat ʼn kitsvloed Vrydagmiddag die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord in Limpopo getref het. Klik hier om meer te lees en om foto’s van dié vloed te sien.
Maroela Media wag nog vir kommentaar van die polisie oor die vermiste bejaardes