Noodsaaklike goedere en dienste in afsonderingstyd

Foto: (Denis Balibouse/Keystone via AP, Pool)

Alle ondernemings wat toegelaat sal word om noodsaaklike dienste te lewer, moet goedkeuring by die departement van handel, nywerheid en mededinging kry.

Minister Ebrahim Patel het gesê die ondernemings moet by die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom se Bizportal-webtuiste (www.bizportal.gov.za) aansoek doen om ʼn sertifikaat te bekom wat hul in staat sal stel om aan te hou handel dryf. Dié diens is van vanoggend (26 Maart) af beskikbaar.

Die sertifikaat sal as bewys dien dat die onderneming inderdaad toestemming van die regering gekry het om handel te dryf en dat sy werknemers net in dié opsig onbeperkte beweging het. Die minister het gewaarsku dat ʼn vals aansoek as bedrog beskou kan word en tot strafregtelike vervolging kan lei.

Werkers van sulke ondernemings sal ten alle tye ʼn brief of permit en ʼn vorm van identifikasie in hul besit moet hê.

Die lys van noodsaaklike goedere en dienste tydens die 21 dae tydperk van afsondering is gister bekend gemaak.

Noodsaaklike goedere is:

  1. Kos

Enige kosprodukte, insluitend nie-alkoholiese drankies; kos vir diere; en chemiese, verpakking- en aanvullende produkte wat gebruik word in die produksie van enige voedselproduk.

  1. Skoonmaak- en higiëneprodukte

Toiletpapier, sanitêre produkte en kondome.

Handreiniger, ontsmettingsmiddels, seep, alkohol vir industriële gebruik, huishoudelike skoonmaakprodukte en persoonlike beskermende toerusting.

Chemiese, verpakking- en aanvullende produkte wat gebruik word in die vervaardiging van enige van bogenoemde.

  1. Medies

Mediese en hospitaalvoorraad, mediese toerusting en persoonlike beskermende toerusting.

Chemiese, verpakking- en aanvullende produkte wat gebruik word in die vervaardiging van enige van bogenoemde.

  1. Brandstof, insluitend steenkool en gas
  2. Basiese goedere, insluitend lugtyd en elektrisiteit

Noodsaaklike dienste is:

Kategorieë van noodsaaklike dienste sal beperk word tot die volgende dienste:

  1. Medies, gesondheid (insluitend geestesgesondheid), laboratorium- en mediese dienste;
  2. Rampbestuur, brandvoorkoming, brandbestryding en nooddienste;
  3. Finansiële dienste wat nodig is om die funksionering van die bank- en betalingsomgewing te handhaaf, insluitend die JSE en soortgelyke beurse, sowel as versekeringsdienste;
  4. Vervaardiging en verkope van die goedere wat hierbo gelys word;
  5. Kruidenierswinkels, insluitend spaza-winkels;
  6. Produksie, verskaffing en instandhouding van elektrisiteit, water, gas en brandstof;
  7. Kritieke poste vir noodsaaklike regeringsdienste soos bepaal deur die hoof van die nasionale of provinsiale departement in ooreenstemming met riglyne van die departement van staatsdiens en administrasie, insluitend die betaling van maatskaplike toelae;
  8. Geboorte- en sterftesertifikaat en vervanging van identifikasiedokumente;
  9. Noodsaaklike munisipale dienste;
  10. Versorgingsdienste en maatskaplike hulpverlening aan ouer persone, geestesongesteldes, persone met gestremdhede, siekes en kinders;
  11. Begrafnisdienste, insluitend lykshuise;
  12. Wildbestuur-, teenstroping-, diereversorging- en veeartsenykundige dienste;
  13. Koerant-, uitsaai- en telekommunikasie-infrastruktuurdienste;
  14. Produksie en verkope van chemikalieë, higiëneprodukte en farmaseutiese produkte vir die mediese of kleinhandelsektor;
  15. Skoonmaak-, sanitasie-, riolering-, afval- en vullisverwyderingsdienste;
  16. Dienste wat verband hou met die noodsaaklike funksionering van howe, regterlike beamptes, die meester van die hooggeregshof, balju’s en regspraktisyns wat benodig word vir daardie dienste;
  17. Noodsaaklike dienste deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), soos gedefinieer deur die kommissaris van die SAID;
  18. Polisie, vredesbeamptes, verkeersbeamptes, militêre mediese personeel en soldate, beamptes van korrektiewe dienste en verkeerbestuursdienste;
  19. Pos- en koerierdienste wat verband hou met die vervoer van mediese produkte;
  20. Private veiligheidsdienste;
  21. Lugverkeernavigasie, burgerlugvaartowerhede, vragvaart- en skeepwerfdienste;
  22. Goud, goudraffinaderye, steenkool en noodsaaklike mynbou;
  23. Akkommodasie wat gebruik word vir persone wat noodsaaklike dienste lewer, vir kwarantyn, vir isolasie en vir die periode van afsondering;
  24. Produksie, vervaardiging, verskaffing, logistiek, vervoer, aflewering, kritieke instandhouding en herstel ten opsigte van die lewering van noodsaaklike dienste, insluitende onderdele en toerusting;
  25. Vervoerdienste vir persone wat noodsaaklike dienste en goedere lewer, en vervoer van pasiënte;
  26. Dienste gelewer deur die uitvoerende gesag, parlementslede, lede van die provinsiale wetgewer, lede van plaaslike rade, die regbank, tradisionele leiers en nasionale ampsdraers van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig is;
  27. Kommissarisse van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Taal-, Kultuur- en Godsdiensregte, die Openbare Beskermer en Adjunk- Openbare Beskermer; en
  28. Vervoer en logistiek ten opsigte van noodsaaklike goedere (soos heel bo uiteengesit) na buurlande.

Die finale lys van regulasies tydens die tydperk van afsondering is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Alta
Dit is inderdaad die regte skakel na die webwerf. Ons verneem dat dit buitewerking is as gevolg van teveel mense wat gelyktydig toegang tot die webtuiste probeer verkry.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Johan Venter ·

Al die koswinkels by ons is vandag tot oorlopens toe vol, daar is nie vir ‘n muis plek nie, dit nog nooit so beleef nie, die rye waarin mense staan om te betaal strek tot doer teen die agterste rakke. Dié wat nie vandag ‘n nies optel nie, sal nooit in 100 jaar nie.

Maar van more af word net 50 mense per winkel toegelaat en dan moet hulle nie teen mekaar staan nie.

Aai ·

Nr 8 is verkeerd geen binnelandse sake sal oop wees was gister op news live bevestig.

Moedeloos ·

Sal graag wil weet of privaat slaghuise ook oop mag bly.

Anel ·

Ek sal maar môre of so winkel toe gaan en die basiese kry. In die winkels by ons was daar geen parkeerplek nie en toe ek gaatjie kry kon ek maar los. Rakke leeg. Hoop die wat si alles gekoop het sit oor week met alles wat vrot is. My argument, koop wat jy nodig het. Môre is nog ‘n dag. Die hoenders gaan nie ophou lê nie, die koeie gaan nie ophou melk gee nie, die tamaties gaan nie sê , wag, ek sal oor 21 dae ryp wees nie, ens, ens, ens. JY MAG GAAN KOS KOOP!!! Hopelik is die malles dan by die huis en ons armes wat eers Woensdag pensioen kry kan dan rustig ons dag se goedjies gaan koop, by vol winkels!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.