Noordwes-renosterplaas, wêreld se grootste, het nuwe eienaar

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die wêreld se grootste renosterplaas, Platinum Rhino in Noordwes, het ʼn nuwe eienaar nadat daar maande lank gesukkel is om ʼn koper te kry.

African Parks, ʼn nie-regeringsbewaringsorganisasie wat 22 beskermde gebiede in vennootskap met 12 regerings oor die hele Afrika bestuur, is die nuwe eienaar van Platinum Rhino en is van voorneme om die meer as 2 000 suidelike witrenosters wat hier aangehou word, oor die volgende 10 jaar weer in die natuur te hervestig.

Platinum Rhino, wat sowat 8 000 ha beslaan, is op 26 April op ʼn veiling aangebied, maar daar is geen aanbiedinge ontvang nie. Die bod vir die plaas het by $10 miljoen, oftewel R181 miljoen, begin. John Hume, die vorige eienaar wat al jare lank renosters bewaar en met hulle teel, het op 81-jarige ouderdom besluit om handdoek in te gooi nadat dit vir hom onbekostigbaar geraak het om met sy bewaringswerk voort te gaan.

Volgens African Parks is hy deur talle besorgde mense uit die bewaringsektor genader om ʼn oplossing te bied ten einde ʼn moontlike bewaringskrisis te voorkom, en om die toekoms te help verseker vir die bedreigde spesie.

“Nadat ʼn deeglike omsigtigheidsondersoek gedoen is en met die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering, asook noodfinansiering verkry is om die transaksie moontlik te maak, het African Parks ingestem om die plaas en al 2 000 renosters, sowat 15% van die wêreldwye renosterbevolking wat nie in aanhouding is nie, te koop,” sê Peter Fearnhead, uitvoerende hoof van African Parks.

“African Parks het een duidelike doelwit: om hierdie renosters oor die volgende tien jaar in goed bestuurde en veilige gebiede te hervestig. Die teelprogram sal uitgefaseer word en die projek sal eindig sodra al die renosters in die natuur vrygelaat is.

“Die omvang van hierdie onderneming is eenvoudig enorm, en daarom skrikwekkend. Dit is egter ook een van die opwindendste en wêreldwyd mees strategiese bewaringsgeleenthede. Ons sal saam met verskeie regerings, finansieringsvennote en bewaringsorganisasies saamwerk, wat daartoe verbind is om hierdie hervestigingsvisie ʼn werklikheid te maak.”

Barbara Creecy, minister van visserye, bosbou en omgewingsake, het African Parks en Hume gelukgewens met “die bereiking van hierdie belangrike ooreenkoms wat ʼn bewaringsoplossing fasiliteer vir die renosters wat tans in ʼn aanhoudingsfasiliteit is”.

Hume het oor die jare heen sowat $150 miljoen (R2,7 miljard) aan die plaas en sy byna 2 000 suidelike witrenosters bestee. Die daaglikse bedryfskoste van die plaas beloop glo sowat R188 000.

Hume het vroeër vanjaar gesê dit is onderhandelbaar of die voorraad renosterhorings wat in sy besit is, by die bod gevoeg sal word. Sowat 10 ton horings is oor die jare voorkomend afgesny as ʼn manier om stropers te ontmoedig. Die horings is na raming $500 miljoen, oftewel R9 miljard, op die swartmark werd. Dit is nie duidelik of die renosterhorings eindelik saam met die plaas en diere verkoop is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Taurus ·

Ek stem met Saartjie saam. Publiseer sommer ook die koördinate. Dit maak die soek nog makliker.

SjN ·

As jy die plaas se opset en sekuriteit sien en ken sal jy dit nie durf waag nie Taurus, die enorme kostes daaraan verbonde vorm deel van die gedwonge transaksie, as die geoeste horing net verkoop kon word was die verkoop nie nodig.

SjN ·

Baie bly vir oom John, sy leweslange ideaal en trots moes hy in die mark sit, indien wetgewing vir verkope van renosterhoring goedgekeur was, sou die transaksie nie nodig gewees het nie en die oom en familie kon die liefde vir renosters voortbou.

Jaco ·

Al dié berigte in die gedrukte en elektroniese media oor wat op suksesvolle plase aangaan, is alles net ope uitnodigings wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Dieselfde met TV reekse soos Grootplaas, Megaboere en selfs Boer Soek ‘n Vrou. Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Hulle kyk ook TV en lees ook die Afrikaanse media en baie van hulle het ook DSTV. Wanneer gaan die media, veral die Afrikaanse media, leer om nie ons reeds kwesbare boere so bloot te stel nie?

Goldy ·

Eat n hartseer storie eintlik. Die realistiese benadering om renosters te bewaar gaan uitfasseer en eienaarskap aan kaders in die regering gegee word.

Goldy ·

Ek het al lank gewonder hoekom word renosterhoringmark nie eenvoudig oorvloed deur goedkoop bees en skaaphoring fyn te maal of dit selfs sinteties te maak nie? Enige hare en naels van slagpaaldiere en selfs mense vannaf haarappers en skoonheidssalonne, want als bestaan net uit keratien. Op grondvlak gaan gewone mense wat glo renosterhoring maak gesond dit bly glo maak nie saak wat die bron is nie. Kan dit werk om renosters te bewaar en hierdie onwettige handel minder aanloklik te maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.