NRO’s trek swaar onder Covid-juk

Argieffoto ter illustrasie.

In Suid-Afrika is daar meer as 127 000 geregistreerde nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat op ʼn verskeidenheid vlakke hulp aan behoeftige mense lewer. In baie gemeenskappe word hierdie organisasies as sleutelrolspelers beskou en daar word op hul ondersteuning van projekte staatgemaak.

Baie van hierdie organisasies het as vrywillige hulpondernemings hul ontstaan gehad en later tot meer formele ondernemings gegroei. Meer as 90% van die vrywilligerorganisasies is gesetel in die gemeenskappe wat hulle bedien, wat die fokus van die ondersteuning beklemtoon.

Daar is egter hulporganisasies wat op nasionale en selfs internasionale vlak hulp aan verskillende hulpbehoewendes verleen.

Buiten die nieregeringsorganisasies is daar ook nog maatskappye sonder winsbejag, voorheen bekend as die artikel 21-maatskappye, wat welwillendheidswerk op vrywillige grondslag doen. Dit maak ongeveer 3,5% van al die hulpverleningsinstansies uit. ʼn Derde vorm van hulpverlening word gevestig in niewinsgewende trusts, wat gewoonlik op spesifieke mense of doelwitte afgestem is.

Ook in die Covid-19-afsonderingstyd is die meeste van die bedrywighede deur hierdie tipe organisasies gerig op maatskaplike dienste. Dit sluit in dienslewering en ondersteuning aan bejaardes en die jeug, verskaffing van lewensmiddele, asook behuising en ontwikkeling.

Jeanneret Momberg (Foto: Verskaf)

Op Stellenbosch is ʼn nuwe nieregeringsorganisasie met die aankondiging van die afsonderingstyd, Stellenbosch Unite, geskep om hierdie maatskaplike dienste aan hulpbehoewende mense in die gemeenskap te lewer.

“Ons ondersteuning kom hoofsaaklik vanaf private hulpverskaffers en ondernemings, asook die Universiteit Stellenbosch en die plaaslike munisipaliteit. Hier is baie ruimhartige mense wat herhaaldelik groot bedrae aan ons inbetaal het. En dan is daar ʼn massa kleiner bedrae. Die ondersteuning is groot en ons het reeds amper R2 500 000 ingevorder,” vertel Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Stellenbosch Unite.

“Die Stellenbosch-munisipaliteit, een van ons vennote, dra maandeliks R100 000 by tot Stellenbosch Unite en bied heelwat hulp met infrastruktuur, ondersteuningsdienste en personeel. Daar bestaan ʼn uitstekende samewerkingsverhouding met die plaaslike owerheid. Dan het die provinsiale regering ook geld aan munisipaliteite bewillig wat die plaaslike munisipaliteit aan ons beskikbaar gaan stel. Daardie R900 000 stel ons in staat om ons noodlenigingsaksies ten minste tot einde Oktober te kan voortsit. Ons versprei tans meer as 47 000 porsies sop per week en deel 2 000 kospakkies uit. Dit gebeur alles deur ʼn netwerk van NRO’s aan wie ons pakkies en sop voorsien, asook ons eie netwerke van gemeenskapskoördineerders,” verduidelik sy die ondersteuning van die plaaslike regering.

Badisa is ʼn niewinsgewende organisasie wat in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap  maatskaplike hulp aan kinders, bejaardes, gestremdes en talle ander hulpbehoewendes deur 145 projekte verleen.

Die organisasie is aanvanklik onder die vaandel van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika bedryf, maar talle ander rolspelers is by die organisasie betrokke.

“Ons ontvang steeds ons staatsubsidie soos voor die Covid-19-uitbreking, maar ons is onder groot finansiële druk,” sê Christine Quickfall, hoof- uitvoerende beampte van Badisa.

“Ons takke en programme het ernstige finansiële druk, veral maatskaplike kantore en VKO- dagsorgsentrums en tehuise in die platteland, omdat geen fondswerwingsaktiwiteite kan voortgaan en ouers nie fooie kan betaal nie. Ons monitor hul finansiële posisie maandeliks.

“Ons het onvoorsiene bykomende uitgawes vir beskermende toerusting, toegang tot en bywerking van tegnologie (rekenaars en selfone) en internettoegang waarvoor ons geld benodig. Dit word genoodsaak weens die feit dat die nieresidensiële Badisa-dienste vanuit tuiskantore voortgesit word, asook omdat ʼn nuwe benadering van fisiek kontaklose maatskaplike dienste in hierdie tyd vereis word.

“Ons is bekommerd dat die opheffing van inperkings ʼn dramatiese toename in infeksies tot gevolg sal hê, en dat die algemene publiek dalk aanvaar dat hierdie verslappings sinoniem is met ʼn verlaging in infeksies. Ons verwag dus dat die druk op bestuurders van Badisa-programme om vrye toegang tot ons fasiliteite toe te laat, asook meer vryheid van beweging vir kliënte te voorsien, sal toeneem. Dit sal beslis ʼn nuwe dinamika meebring vir die beskerming van ons inwoners. Ons versoek dus die gemeenskap se welwillendheid en begrip, aangesien ons prioriteit onveranderd is, om ons fasiliteite sover moontlik teen die uitwerking van die pandemie te beskerm,” was Quickfall se pleidooi.

Hannes Noeth, hoof van Helpende Hand, help kos uitdeel in Derdepoort. Foto: Verskaf.

Die Helpende Hand-organisasie van Solidariteit ontvang geen subsidie of finansiële ondersteuning van die regering nie en tree heeltemal onafhanklik op, iets wat hulle verkies.

“Ons het ongelooflike steun van die publiek gekry en skenkings stroom daagliks in,” vertel Chantelle Marx van Helpende Hand.

“Ons probeer ons projekte op ʼn volhoubare grondslag bedryf, maar moes weens die Covid-19-pandemie ons dienslewering aanpas. Waar ons voorheen voedingsprogramme by skole aan behoeftige kinders kon verskaf, het dinge nou verander omdat hierdie kinders nou nie meer op een plek saamgetrek is nie. Dit is nou moeilik om te bepaal wie werklik hulpbehoewend is en ons kry ook met gesinne in nood te make.

“Ons het baie skenkings ontvang, in produkte asook finansiële ondersteuning, byvoorbeeld skenkings van ongeveer R7 miljoen van die Douw Steyn-familietrust wat ons in staat stel om nuwe en meer uitgebreide nooddienste te kan verskaf. Ons moes ook meer maatskaplike werkers aanstel om mense in nood by te staan,” het sy vertel.

Hannes van Zyl, trustee van die Greater Stellenbosch Development Trust (GSDT), meen die regering moet meer doen om nieregeringsorganisasies te ondersteun.

“Hulle moet NRO’s soos kleinsakeondernemings hanteer, want ons lewer noodsaaklike dienste aan die gemeenskap. Ons kry geen geld van die regering nie, maar moet nou, in ʼn ramptoestand, meer as gewoonlik doen om ons gemeenskappe te ondersteun.

“Ons het in Maart vanjaar toetsstasies in die gemeenskappe wat nie goed deur mediese dienste gedek word nie, opgerig om te help met die monitering van die koronavirus – op ons eie koste. So help ons die owerhede met die bestuur van die pandemie, maar ons kry niks bykomende geldelike hulp daarvoor nie.”

Argieffoto (Foto: malibuunites.com)

Petra du Toit van Alzheimer’s SA, wat in 1985 as ʼn niewinsgewende organisasie gestig is, sê die organisasie trek ook swaar onder die beperkings van die Covid-19-pandemie.

“As dit nie was vir buitelandse ondersteuning deur die London School of Economics nie, sou ons dit nie gemaak het nie.

“Die regering gee wel geld vir ons werk in sekere streke soos die Vrystaat, Kwazulu-Natal en die Noord-Kaap, maar dit is maar ʼn klein subsidie wat onder alle gemeenskappe verdeel moet word.

“Wat die regering nie besef nie, is dat ons nie nou op ons eie fondswerwing kan staatmaak nie omdat almal ingeperk is. Geldwerwing, opleiding en konsultasies is gestaak weens sosiale afstandhandhawing en daar is weens die pandemie groot druk op die lewering van bykomende dienste.

“Dit is hartseer omstandighede aangesien ons kliënte nou dikwels nie verstaan wat aangaan nie – hul familie besoek hulle nie meer nie, hulle kry geen aandag nie en hulle voel onseker. Ons is dankbaar vir die bietjie Lotto-geld wat ons ontvang, maar dit is nie genoeg nie.

“Ons eise vir werkloosheidsversekering vir April is ook sonder redes deur die regering afgekeur – dit laat die druk net verder toeneem,” het sy gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Moenie die NCCC te veel pla nie NRO’s. Hulle vreet hulle ma lekker dik vir ontbyt, tee, middagete, tee, aandete, happie en dan doe-does…. and repeat. NDZ lyk asof sy ‘n jaar se maaltye kan misloop!

Willem ·

Stem 100% saam. WCAPD trek ook geweldig swaar en spesifiek op die platteland. Ons ondersteun/staan by alle Persone met Gestremdhede. Die bewys is daar dat as dit kom by Persone met Gestremdhede, kyk 90% van die samelewing, ingesluit die regering, anderkant toe. Na beraming is 15% van SA se bevolking Persone met Gestremdhede. SA julle behoort julle te skaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.