NS-treurspel: Ma steeds in psigiatriese eenheid 

Die Dickason-gesin voor die tragedie. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse ma wat teregstaan vir die moord op haar drie jong dogtertjies in Nieu-Seeland, word steeds in die psigiatriese eenheid van ʼn hospitaal in Christchurch behandel.

Die saak teen Lauren Dickason (40) is Vrydag (Nieu-Seelandse tyd) in die hooggeregshof in Christchurch voor regter Cameron Mander aangehoor, maar Dickason is verskoon om in die hof te verskyn, berig Stuff.co.nz, ʼn digitale nuusplatform in Nieu-Seeland.

Haar advokaat, Kerryn Beaton, het namens haar verskyn. Mander het gesê Dickason word steeds behandel en dat haar geneesheer gesê het dit kan nadelig wees vir haar om haar in hierdie stadium aan die hof blootgestel te word. Sy sal minstens tot 22 Julie in aanhouding bly in die psigiatriese eenheid.

Dickason is in die hospitaal opgeneem nadat sy vermoedelik haar dogters Liané (6) en die tweejarige tweeling, Maya en Karla, op 16 September vermoor het.

Dr. Graham Dickason, haar man, het ná ʼn werksgeleentheid op die liggame van sy drie dogters afgekom. Lauren, ook ʼn dokter, is na ʼn hospitaal geneem ná die voorval en het twee dae later in die hof verskyn in verband met die kinders se dood.

Die Dickason-egpaar het sowat ʼn week voor die moorde uit Suid-Afrika saam met hulle kinders in Timaru aangekom en was aanvanklik in kwarantyn in Nieu-Seeland.

Dickason het in Oktober onskuldig gepleit op die aanklagte teen haar.

Luidens berigte is ʼn aantal hofbevele steeds van krag, insluitend een wat die publikasie van besonderhede oor die saak verbied.

Dickason se verhoor is geskeduleer om in Maart 2023 te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henri ·

Die ironie laat my verslae. Hoekom verlaat jy jou geboorteland in die soeke na geluk, net sodat die grootste tragedie hom só kan laat afspeel? Die storie ruk aan my diepste binneste.

Piet ·

Die gereg en tronke in NZ is op standaard, hier in SA is dit ‘n hengse gemors.

Hennie Biebouw ·

So baie mense staak hul kroniese medikasie in pogings om immigrasiebeamptes te fnuik.

Althes ·

Ja daar is gevalle wat mense emigreer het, net om aan hul einde te kom in ñ ander land.

Casper ·

Hoe kan ‘n ma wat veronderstel is om lief te wees vir haar kinders hulle koelbloedig vermoor.Moenie vir my sê sy is mal nie want hoe het sy ‘n dokter geword.dit gaan my verstand te bowe,maar gaan sy toerekeningsvatbaar verklaar word om verhoor te kan word en wat was haar motief.

Wonder ·

Ek dink daar is baie meer agter die storie, wie weet regtig of dit wel sy was…

Kattebol ·

Dit is verskriklik tragies. Net mense wat nog nooit wanhoop beleef het nie, sal oordeel. N ma soos sy vermoor nie haar kinders nie. In n major depressiewe toestand (wat verskeie geestesongesteldhede Kan insluit), redeneer meeste sulke ouers Dat hulle hul kinders “red” van n moeilike lewe, veral as die ouer selfmoord in gedagte het. Die pa het dalk “te vroeg” teruggekeer vir die vrou om haar plan uit te voer.

Karina ·

Dit maak nie saak nie, ‘n ma maak nie haar eie kinders dood nie.Sy moes vir hulp gegaan het

miche ·

Ek is nie oortuig dat dit wél sy was wat die kinders vermoor het nie.

melaney ·

Dit is nie vir ons om te oordeel nie. Die vrou het blykbaar medikasie gebruik voordat hulle vertrek het maar het dit gestaak om toelating in NZ te bekom. Dit kan wees dat die staking van daardie medikasie nie ‘n goeie besluit was nie. Ons kan net vir altwee van hulle bid. Ek kan my nie indink hoe die twee mense nog staande bly.

yahneh ·

Hierdie gaan baie hoog bo my begrip. Dit is iets wat ek nooit sal verstaan nie. Wil ook nie begin om te probeer verstaan nie, dit sal my mal maak. Daarom sal ek myself nie uitlaat oor hierdie saak nie. Dis net te maklik om opinies te lig…

Karina ·

Sy is skuldig en moet swaar gestraf word. Sy is die naam Ma werd nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.