NSFAS: Administrateur aangewys; Nzimande sal nie bedank

Dr. Blade Nzimande (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, meen daar is geen rede waarom hy moet bedank nie.

Nzimande het Sondag ʼn mediakonferensie gehou rakende verwikkelinge by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). In reaksie op talle partye se oproepe dat hy moet bedank weens die probleme by NSFAS het Nzimande gesê dit is nie dié partye wat hom aangestel het nie en dat hy NSFAS as instelling laat groei het tot ʼn begroting van meer as R50 miljard.

“Hulle speel politiek. Ek gaan nie bedank nie,” het Nzimande gesê en ook van die geleentheid gebruik gemaak om na die DA, een van die partye wat sy bedanking eis, te kap. Hy het gesê die DA ontken volksmoord in Israel. “Daar is geen rede hoekom ek moet bedank nie.”

Nzimande het tydens die mediakonferensie Freeman Nomvalo aangekondig as die nuwe administrateur van NSFAS. Volgens Nzimande het Nomvalo meer as 25 jaar se werkservaring en was hy die voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters.

Nzimande het verlede week NSFAS se raad ontbind en die instelling onder administrasie geplaas.

Volgens Nzimande het hy konsekwent sy bekommernisse en ongelukkigheid met die ontbinde NSFAS-raad geopper oor die onvermoë om van die mees basiese verantwoordelikhede uit te voer en te implementeer. Dié onvermoë hou onder meer verband met die beëindiging van kontrakte van diensverskaffers wat onreëlmatig aangestel is en om toe te sien dat studentetoelaes betyds betaal word.

Volgens Nzimande word NSFAS steeds deur ernstige uitdagings in die gesig gestaar rakende sy sakeprosesse, IT-stelsels, kapasiteit, beleid en beheermaatreëls.

Nomvalo se werk sal wees om die bestuur en administrasie van NSFAS oor te neem vir ʼn tydperk van 12 maande. Dit sluit onder meer in om data-integrasie-uitdagings as ʼn saak van dringendheid op te los, om al die nodige befondsingsbesluite en uitstaande betalings te finaliseer, seker te maak dat alle NSFAS-kwalifiserende studente befondsing ontvang, die daaglikse werk van NSFAS te bestuur en die organisasie te stuur om volledig aandag te gee aan sy operasionele uitdagings.

“Die besluit om die NSFAS-raad te ontbind was nie ʼn ligte een nie en ek wil die publiek verseker dat ek, met die neem van hierdie besluit, alle moontlike implikasies oorweeg het, insluitend die impak wat dit op NSFAS-werknemers en die studente kan hê.”

Volgens Nzimande het hy diepe waardering vir die progressiewe en transformerende rol wat NSFAS in die 33 jaar van sy bestaan gespeel het, “as een van die demokratiese regering se mees beslissende instrumente in die stryd teen intergenerasie armoede”.

“In sy geskiedenis het NSFAS meer as vyf miljoen begunstigdes ondersteun, en sodoende honderdduisende geskoolde, professionele persone en die middelklas opgelewer, veral vanuit die arm en werkersklasafdelings van die samelewing. Dit is beslis een van die belangrikste prestasies van hierdie regering oor die afgelope 30 jaar van ons demokrasie en dit moet so gevier word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hannes ·

“Hy het gesê die DA ontken volksmoord in Israel. “Daar is geen rede hoekom ek moet bedank nie.” Ek sien geen verband tussen die 2 stellings nie, die kaders moet “lees met begrip” klasse neem, hulle is ‘n skande vir Suid Afrika.

Gert ·

Hoe kan die minister van verswakte onderwys, vergetenskap en intevering, meen daar is geen rede waarom hy moet bedank nie?

Rooikoos ·

Hoekom sal hy nou bedank? Daar is nog baie sous op die trein om te skep.

Ore ·

Ons is reeds in April minister en u tree nou eers op? Het u eers gewag dat u vriend wat aan die hoof gestaan het bedank? Waarom mag/kan die universiteite nie self meer hierdie funksie vervul nie? Dalk omdat hulle die werk goed en reg gedoen het? Waarom moet daar alyd rade wees wat aangestel word? U onbind die raad datem vinnig….so voor die verkiessing en natuurlik is u weer die slagoffer.

Di ·

Sal ook graag wil weet waarvoor hy ISRAEL insleep in die storie. Die siel het nog geen positiewe bydrae gelewer vandat hy aangestel is nie. Dis hoogtyd dat hy aftree, lankal te oud vir DIE pos. Sy tipe sal vasklou aan hulle poste totdat hulle letterlik uitgeskop word.

koos10 ·

Ek was onder die indruk dat volksmoorde plaasvind as dit landgenote mekaar vermoor? Anders is dit mos oorlog, as twee lande baklei.
Nogmaals dankie, dis die heel eerste keer dat ‘n ANC lid erken dat Israel burgers vermoor word, al het dit niks met hierdie “issue” uit te waai nie.

willie ·

Ek wil sien watse 50mil het hy ingevorder, seker is sy eie sak ja.

Martie Smartie ·

BELASTINGGELD alles BELASTINGGELD wat so misbruik word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.