NSFAS-hoof afgedank

Andile Nongogo (Foto: X)

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hy is verheug oor die afdanking van Andile Nongogo, uitvoerende hoof van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS).

Dit volg op die aanbevelings wat gemaak is in ʼn verslag van die regsfirma Werksmans Attorneys en adv. Tembeka Ngcukaitobi SC, wat deur die NSFAS-direksie opdrag gegee is om die bewerings van onreëlmatighede met ʼn tenderproses te ondersoek.

Tenders is goedgekeur aan vier ondernemings wat die uitbetaling van toelaes aan NSFAS-studente moet behartig.

Outa het reeds in Augstus vanjaar gewaarsku dat Nongogo nie naby die openbare beursie toegelaat moet word nie ná Outa se ondersoek na sy termyn as uitvoerende hoof van die onderwys- en opleidingsowerheid vir die dienstesektor (SSeta).

Volgens Rudie Heyneke, Outa se ondersoekbestuurder, het hul ondersoek getoon dat Nongogo betalings afgeteken het vir goedere en dienste wat aan SSeta gelewer is as deel van ʼn uiters duur veldtog om die SSeta-handelsmerk te vernuwe. Dit het belastingbetalers sowat R37 miljoen uit die sak gejaag.

Outa het ook Nongogo se optrede by die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) aangemeld en ʼn strafregtelike klag by die polisie teen hom gelê wat verband hou met ʼn tender by SSeta.

“Outa se waarskuwings is ongelukkig deur NSFAS sowel as dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, geïgnoreer. In plaas daarvan het NSFAS vir Outa met regstappe gedreig en ons toegang tot dokumentasie omtrent die tenderproses geweier. Die betalingskema is op 30 Junie vanjaar geïmplementeer, wat daartoe gelei het dat duisende studente nie hul toelae ontvang het nie,” sê Heyneke.

Outa se bevindinge is bevestig deur die Werksmans-verslag, wat aanbeveel het dat Nongogo afgedank moet word.

“Onder Nongogo se leiding het NSFAS ook Futgenx Technologies, ʼn maatskappy wat voorheen persoonlike beskermingstoerusting (PPE) vervaardig het, aangestel as ʼn inligting- en kommunikasietegnologie-spesialis wat die taak het om ʼn studenteberekeningsinstrument te ontwikkel teen ʼn koste van meer as R4 miljoen. Die maatskappy is nou verwant aan Coinvest, een van die direkte betalingsvennote. Die kontrak met Futgenx is beëindig omdat die maatskappy nie die goedere en dienste kon lewer wat deur NSFAS vereis word nie, hoewel Futgenx steeds meer as R3 miljoen betaal is.

“Verder het Nongogo ʼn huurooreenkoms vir die NSFAS-hoofkantoor in die Foreshore in Kaapstad onderteken. Volgens die tender was dit veronderstel om ʼn huurkontrak van twee jaar te wees met ʼn opsie om dit vir nog drie jaar te hernu. Nongogo het ʼn vyf jaar huurkontrak gesluit. Die kantoor beslaan altesaam 8 479 m² en die koste oor die huurtydperk is sowat R1,7 miljoen. As jy in ag neem dat daar 451 werknemers is, beteken dit die jaarlikse huur sal neerkom op iets soos R74 000 per werknemer.”

Volgens Heyneke moet daar ook kennis geneem word dat NSFAS sy subsidies vir studenteverblyf tot R45 000 per student per jaar verminder het, wat baie studente nie in staat stel om verblyf te bekostig nie. “Dit terwyl NSFAS in weelderige omgewings werk.”

Onder Nongogo se leierskap by NSFAS het ʼn nuwe akkreditasie-tender vir verblyf ook uitgegaan, en 39 maatskappye is aangestel om studenteverblyf te inspekteer om seker te maak dat dit aan die departement van hoër onderwys en opleiding se minimum standaarde voldoen. Tot op hede is slegs sowat 25 000 eenhede geakkrediteer, met ʼn behoefte aan meer as 400 000 eenhede in 2024. Van die diensverskaffers wat aangestel is, het noue bande met Nongogo se ampstermyn by SSeta. Een van die maatskappye wat ʼn tender gekry het, word deur ʼn senior provinsiale regeringsamptenaar gelei.

“Outa se ondersoek na hierdie aangeleentheid toon ook dat sommige maatskappye wat akkommodasieverskaffers is, terselfdertyd verblyfakkrediteure sal wees – ʼn duidelike botsing van belange.”

Volgens Heyneke het Nongogo se optrede en onreëlmatige besluite NSFAS groot skade berokken.

“Die skade kan nie in rand en sent gemeet word wanneer dit kom by studente wat weke lank sonder toelae moes klaarkom, uit hul verblyf geskop is, honger ly en nie hul studies kon voltooi nie.”

Chantel King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, het gesê die party sal stappe doen om seker te maak al die bewerings teen Nongogo word ondersoek. Sy meen Nzimande word ook daarby betrek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jack ·

In die afgelope 30 jaar het ons geleer dat die mense glad nie in die finansies afdelings in enige maatskappy aangestel kan word nie.Hulle het nie integriteit en kennis wat benodig word as dit by geld kom nie.Stel hulle gerus aan maar in die afdelings waar hulle 24/7 gemonitor kan word en waar enige betalings of geld nie deur hulle hande gaan nie.

Marthina ·

Het julle al gedink as ons al daardie fondse wat waar ook al gestel is an terug kry sal ons land die land kon wees en dat daar baie minder armes gewees het maar nou ja die rykes Sal nog ryker word en die arm mense nog aremer.

annie ·

Vertel ons meer oor sy bankrekening… Waar ookal…. Dalk in Kuba of Dubai….

SjN ·

Hou ook die verantwoordelik en ondersoek maar die wat deel was van sy aanstellingsprosses, gewoonlik deel hul in die sogenaamde winste.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek wag in spanning om spoedig te verneem welke persone is krimineel vervolg en wat hul strawwe is. Geregtigheid moet gesien word te geskied.

Casper ·

Blake Nzimande is die makulu baas by hoër onderwys en hy en die NSFAS dreig OUTA wetende dat die man stout is so Nzimande het geweet daarvan.Hoe gaan die verkwiste geld verhaal word.

Amelia ·

Is omdat elke persoon met 33% wil gaan studeer ek sou se laat slegs studente met onderskeidings lenings kry hul sal ok nie staak en eiese stel nie Hoeveel van d ie studente wat van die geld ontvang slaag eksamen en voltooi waarmee hul begin het m aar nou ja verblyf kos ens word betaal so hoekom moeite doen is mos verniet

Andre ·

Nongogo en Blade moes seker sukkel om gelyktydig uit díe trog te eet!

Ronél ·

Die aanstellings word strategies beplan sodat vele ander by die finansiële voordeel kan baat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.