Numsa sê dalk gou oor hersiene aanbod

Numsa-betogers Foto: numsa.org.za

Numsa-betogers Foto: numsa.org.za

Numsa sê hy is besig om met sy lede te vergader oor ‘n hersiene aanbod van werkgewers in die staal- en ingenieursbedryf.

“Ons konsulteer nog. Ons sal Sondag ‘n mediakonferensie hou om terugvoer te gee,” het Castro Ngobese, woordvoerder van Numsa, gesê.

Numsa se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Woensdag vergader om terugvoer te kry na onderhandelinge wat deur die departement van arbeid gefasiliteer is.

Na die NUK-vergadering het verteenwoordigers van al nege Numsa-streke vergader om terugvoer aan lede te gee en ‘n mandaat te kry.

Die departement van arbeid het onderhandelinge tussen Numsa en die werkgewersorganisasies gefasiliteer in ‘n poging om ‘n oplossing te kry vir die staking wat op 1 Julie begin het.

Numsa eis ‘n 12%-verhoging met ingang van 1 Julie, ‘n behuisingstoelaag van R1 000 en ‘n bedingingsooreenkoms van een jaar. Numsa het aanvanklik 15% geëis. Die vakbond eis wel dat die gebruik van arbeidsmakelaars afgeskaf word.

Die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suid-Afrika (Seifsa) het ‘n driejaarooreenkoms met ‘n verhoging van tussen 8% en 10% in die eerste jaar aangebied.

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Naesa) bied 8% aan, onderhewig aan ‘n ooreenkoms vir die verlaging van die vergoeding van intreevlak-werknemers.

Die woordvoerder vir die minister van arbeid het Maandag gesê die partye is naby aan ‘n ooreenkoms.- Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.