Nuusbaas se kop geëis

Verskeie politieke partye eis die kop van eNCA se nuushoof  ná ʼn twiet waarin hy reageer op die bedanking van ʼn politieke joernalis.

Kanthan Pillay, nuushoof by dié 24-uur-nuuskanaal, het glo Dinsdag in ʼn twiet gereageer op die senior joernalis Samkele Maseko se bedanking deur hom te vergelyk met “’n rot wat na ʼn sinkende skip swem”.

Maseko het hierop gereageer met ʼn rits twiets waarin hy Pillay daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld optree deur nuusberigte te sensuur om sy “vriende” te beskerm. Volgens Maseko probeer Pillay veral vir Pravin Gordhan, minister van openbare werke, beskerm.

Maseko beskuldig Pillay ook daarvan dat hy hom Dinsdag na afloop van sy bedanking uit die kantoor geboender en soos ʼn “hond” hanteer het.

Pillay het in Oktober oorgeneem as hoof van nuus by eNCA, maar het vroeër vanjaar opslae gemaak as medestigter van ʼn splinternuwe politieke party, naamlik Capitalist Party South Africa. Dié party kon nie daarin slaag om enige setels in die parlement te wen nie. Pillay het sedert Dinsdag sy Twitter-rekening verwyder.

Die ANC se nasionale jeugtaakspan het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse nasionale redakteursforum (Sanef) gedoen om teen Pillay op te tree. Hulle het ook gevra dat die eNCA teen Pillay optree.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het Pillay se twiet “rassisties” genoem en gesê dit is veral beledigend teenoor Afrikane, omdat hy hulle met rotte vergelyk. Dié party eis dat eNCA om verskoning vra vir Pillay se optrede en van hom ontslae raak.

In ʼn verklaring het die EFF ook Pillay se gedrag veroordeel en die eNCA daarvan beskuldig dat hulle bevooroordeeld is teenoor die EFF, omdat hulle glo nie die party se nasionale kongres wou dek nie. Die EFF het gevra dat die nuuskanaal geboikot word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannetjie ·

Duidelik verstaan die joernalis nie die gesegde van rotte en sinkende skip nie.Pillay het beslis nie die swartmense met rotte vergelyk nie.

Kasper ·

So die SAKP het ‘n probleem , as iemand na een van hulle verwys as ‘n rot, maar het geen probleem as hulle en hulle makkers in die anc/eff/blf ens. na blankes verwys as verkragters, moordenaars en grond diewe nie. Snaaks dat party so selektief met die waarheid kan omgaan. Eintlik maar net ‘n klomp tweegesig huigelaars die lot van hulle.

GM van Rooyen ·

Sinkende skip is tog so waar. Dit is niks anders wat die SAN(B)C is nie.

Nico K ·

Ek verstaan nie nie mooi die storie nie. Ek is nie in die joernalistiek nie, maar ons almal weet sekere koerante ondersteun sekere politieke partye. Dit was nog altyd so. Dit is dus logies dat ‘n redakteur sal inmeng in berigte. Of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.