Nuwe baadjie vir Wonderboom-lughawe

(Foto: Facebook)

ʼn Opwindende nuwe era het vir die Wonderboom-lughawe in Pretoria aangebreek nadat die Tshwane-metro besluit het om die lughawe aan die privaat sektor deur middel van ʼn tenderproses oor te dra.

Kamogelo Mangena, die Tshwane-metro se woordvoerder oor paaie en vervoer, sê die metro, onder leiding van Cilliers Brink, het Woensdag ʼn verslag vir ʼn nuwe bedryfsmodel vir die Wonderboom-lughawe goedgekeur.

“Die Wonderboom-lughawe is ʼn belangrike en strategiese bate vir die stad. Dit kon egter dekades lank nie tot sy volle potensiaal bedryf en ontwikkel word nie.

“Nadat ons verskeie moontlike oplossings ondersoek het, het die Tshwane-metro besluit om ʼn omgewing te skep waar die betrokkenheid van die privaat sektor die lughawe in staat kan stel om optimaal te funksioneer en sy volle potensiaal te bereik,” sê Mangena.

Sy sê die voortdurende finansiële belegging en munisipaal gedrewe pogings deur verskillende politieke administrasies was onvolhoubaar.

“Nadat ons na verskillende modelle en volhoubare oplossings vir die lughawe gekyk het, het ons bevind dat dit die beste sal wees om die lughawe te behou en aan ʼn operateur in die mark te verhuur. Sodoende sal ons die privaat sektor toelaat om die lughawe en die omgewing tot voordeel van inwoners in die stad te ontwikkel.”

Volgens Mangena het die Tshwane-metro ʼn plan goedgekeur en die stadsbestuurder opdrag gegee om ʼn tegniese span saam te stel om toesig oor die proses te hou en om dienste van ʼn transaksionele raadgewer te verkry om die proses te lei.

“Die aanvaarding van die nuwe bedryfsmodel vir die Wonderboom-lughawe het die potensiaal om beleggings te lok, geleenthede te skep en ekonomiese groei aan te dryf.”

Wonderboom-lughawe. Foto: Facebook

Peter Meijer, VF Plus-raadslid en voorsitter van die ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanningskomitee in dié metro, sê die VF Plus ondersteun dié besluit heelhartig.

“Hierdie innoverende stap is gedoen met die doel om die lughawe in ʼn kragtige ekonomiese katalisator vir die Tshwane-metro te transformeer. Die oorgang na privaat bestuur beloof om aansienlike finansiële en werkskeppingsvoordele vir die gemeenskap te bied.”

Hy sê die privaat sektor het nou die geleentheid om sy ekonomiese krag te ontplooi, deur middel van beleggings en vernuwing van infrastruktuur.

“Hierdeur kan die Wonderboom-lughawe sy funksie as ʼn sleutelbepalende skakel in Tshwane se ekonomiese ontwikkeling versterk.”

Meijer meen die openbare tenderproses verseker ʼn eerlike, deursigtige en mededingende keuring en aanstelling van die bes gekwalifiseerde en geskikte privaat maatskappy om die lughawe te bestuur.

“Hierdeur word die belange van die gemeenskap beskerm en ʼn geleentheid word gebied vir ʼn suksesvolle vennootskap tussen die openbare en privaat sektor.

“Die koalisieregering in die Tshwane-metro, waarvan die VF Plus deel is, is vasbeslote om ʼn sinergie van samewerking te skep waarby die Wonderboom-lughawe en die breër gemeenskap sal baat.”

Volgens Meijer is hierdie inisiatief  ʼn duidelike bewys van die raad se toewyding tot die bevordering van ekonomiese groei, werkskepping en toeganklikheid deur middel van lugvaart vir kommersiële én privaat vervoerdoeleindes.

“Aan die hand van die besluit lyk die toekoms van die Wonderboom-lughawe belowend en die Tshwane-metro sien daarna uit om saam met die privaat sektor te werk om ʼn nuwe era van welvaart en geleenthede vir die metropool te ontsluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.