Nuwe hoof vir Skoleondersteuningsentrum aangewys

Hugo Vermeulen en Leon Fourie gesels tydens die SOS se eerste virtuele kongres op 24 September. (Foto: Verskaf.)

Leon Fourie, ʼn bedryfsingenieur en senior projekbestuurder, is Donderdag as die nuwe uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangewys.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en een van die hoofsprekers van die geleentheid, het die aankondiging by die SOS se eerste virtuele kongres vir onderwysers gemaak.

Hermann het Fourie beskryf as ʼn roepingsgedrewe spesialis met diepgewortelde morele waardes wat sy doen en late rig. Fourie het meer as tien jaar se ondervinding en spesialiseer in die ontwerp, ontwikkeling, implementering en verbetering van grootskaalse projekte. Hy het in Julie vanjaar by die SOS se bestuurspan as besigheidsontwikkelingsbeampte aangesluit.

Hermann het verder gesê die SOS het die afgelope paar maande nie net Suid-Afrikaanse onderwys op alle vlakke beskerm en ondersteun nie, maar ook gegroei tot ʼn instelling waarop onderwysers en ouers kan staatmaak.

‘n Kykie agter die skerms van die SOS se eerste virtuele kongres. (Foto: Verskaf.)

ʼn Opname van Solidariteit het getoon dat 4,8% van onderwysers voor Covid-19 van aanlyn opsies gebruik gemaak het. Ná Covid-19 sê 68% van onderwysers dat hulle meer gereeld of permanent van aanlyn opsies gebruik maak.

“Afrikaanse onderwys is deur die krisis verbeter – ons het nuwe metodes ontgin en tegnologie op nuwe maniere aangewend. Afrikaanse onderwys is meer veerkragtig as ooit vantevore,” het Hermann bygevoeg.

Die keuse van Groei as tema vir die SOS se eerste virtuele kongres, is ʼn weerspieëling van die groei wat vanjaar op alle terreine by skole ervaar is. Die kongres was aan die voorpunt van tegnologie met 21 sprekers, 20 unieke wegbreeksessies en boonop ʼn Braaidagboodskap van Jan Braai, en dit het alles aanlyn gebeur.

(Foto: Verskaf.)

Die SOS se impak op Afrikaanse onderwys het tydens die Covid-19-pandemie eksponensieel toegeneem. Platforms soos Zoom en Teams het oornag deel van die daaglikse roetine geword en begrippe soos omgekeerde klaskamers en vervlegte leer het huishoudelike name geword.

Om te voldoen aan die behoefte aan aanlyn inhoud is Die Wolkskool tydens inperking uitgebrei tot ʼn volwaardige aanlyn leerstelsel en is 40 bykomende vakspesialiste gekontrakteer om vakinhoud te vervaardig. ʼn Bykomende vier voltydse personeellede is by die SOS aangestel. Die Wolkskool se getalle het gegroei tot meer as 123 000 leerders en 39 000 onderwysers het opleiding deur die platform se webinare ontvang.

Die Wolkskool as platform sal gratis aan onderwysers en leerders beskikbaar wees tot die einde van 2020 omdat die SOS onderwysers steeds wil ondersteun wat nou kontakklasse en aanlyn onderrig tegelyk moet aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.