Nuwe jaar bring goeie nuus vir motoriste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die nuwe jaar sal na verwagting op ’n goeie noot vir motoriste afskop danksy aansienlike brandstofprysverlagings.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) voorspel dat die prys van alle grade petrol in Januarie met sowat R1,85 per liter sal daal terwyl motoriste na verwagting minstens R2,47 per liter minder vir diesel sal betaal.

Die prys van paraffien sal na verwagting met sowat R1,93 per liter daal.

Dié prysverlagings beteken dat 95-oktaan-petrol na verwagting volgende maand R21,57 per liter in die binneland en R20,92 per liter aan die kus sal kos. Diesel sal na verwagting sowat R21,47 per liter kos.

Motoriste het in Maart vanjaar laas soortgelyke brandstofpryse beleef. Dit is egter nie genoeg om die brandstofprys tot dieselfde vlakke as Januarie te bring nie.

Die welkome prysverlagings is die gevolg van ’n sterker gemiddelde rand-dollar-wisselkoers, en aansienlike dalings in internasionale produkpryse.

Die AA sê die prysverlagings gaan help om die brandstofpryslas – en die gepaardgaande impak daarvan op ander pryse – te verlig. Dit is ook goeie nuus vir reisigers wat tans op vakansie is en in die nuwe jaar huiswaarts moet keer.

Die amptelike aanpassing aan die brandstofprys vir Januarie word Woensdag (4 Januarie) gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.