Nuwe Jhb-burgemeester wil ‘stad herbou’

Thapelo Amad (Foto: Mehmet Vefa Dag/Twitter)

Die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad, het Vrydag in sy eerste toespraak as burgemeester gesê sy hoofdoel is om eenheid in die metroraad te vestig en doeltreffend die nodige dienste aan inwoners te lewer.

“Ons het die inwoners te lank afgeskeep omdat ons gefokus was op politieke beheer oor die stad. Daarom moet die raad verenig en ons eed en beloftes nakom deur die gemeenskap van Johannesburg te dien,” het Amad gesê.

Amad (41) is Vrydag tydens ʼn buitengewone stadsraadsvergadering tot die nuwe burgemeester verkies en het met 138 stemme gewen. Hy het as kandidaat teen onder andere Mpho Phalatse, voormalige burgemeester en lid van die DA, en Funzi Ngobeni van ActionSA gestaan, wat onderskeidelik 81 en 46 van die stemme op hulle verenig het.

Phalatse is Donderdag tydens ʼn mosie van wantroue uit haar amp geskop. Die mosie is ondersteun deur ʼn meerderheid in die raad.

Dit was die derde mosie van wantroue wat Phalatse in die gesig gestaar het sedert September verlede jaar, toe sy die eerste keer uit haar amp geskop is nadat haar koalisie verkrummel het – net om later deur die howe as burgemeester aangestel te word.

Mpho Phalatse, burgemeester van Johannesburg (Foto: Twitter)

Phalatse het in 2021 die eerste swart vrou geword wat Suid-Afrika se belangrikste ekonomiese spilpunt gelei het, nadat die ANC plaaslike verkiesings verloor het in sy swakste vertoning by die stemming sedert die koms van demokrasie in 1994.

Amad is verkies met die steun van die ANC wat die meeste setels in die raad het, maar by die stadsverkiesing in 2021 nie ʼn volstrekte meerderheid gehad het nie.

Amad se aanstelling was ʼn verrassing, met Al Jama-ah wat slegs drie van die raad se 270 setels beklee het.

In sy toespraak het Amad vyf prioriteitspunte genoem wat nodig is om die stad te herbou: doeltreffende dienslewering, om die stad se finansies te herstel, administratiewe hervorming, om korrupsie en bedrog te beveg en om die gemeenskap by die raad se administrasie te betrek.

“Vandag behoort die dag te wees waar die koalisie se partye en opposisiepartye poog om die mees ontwykende ding in ʼn demokratiese samelewing te bereik: eenheid en doel.

“Vandag, deur hierdie verantwoordelikheid as burgemeester te aanvaar, bring ek my siel na hierdie regverdige saak om die raad te verenig en ons eed en die beloftes aan die gemeenskappe in die Stad Johannesburg te eerbiedig.”

Amad het in sy toespraak na sy geloof (Moslem) verwys en begin deur sy god te dank vir die geleentheid om die stad te lei.

Hy is die eerste Moslem wat tot burgemeester in die land verkies word.

“Ek is nederig en oorweldig en dankbaar vir die geleentheid. Vandag is daar geskiedenis gemaak deurdat die eerste Moslem-burgemeester in die land, maar ook spesifiek Johannesburg, verkies is. Maar my doel as burgemeester het niks met geloof of ras te doen nie. Ons is deel van die mensdom en ons moet as leiers die mense van die land dien.”

Hy sal Maandagoggend sy uitvoerende hoof aankondig.

ActionSA het Thapelo Amad gelukgewens met sy verkiesing as burgemeester en het beloof om ʼn opbouende opposisie binne die raad te wees.

“ActionSA is egter teleurgesteld oor die ineenstorting van die DA-geleide koalisieregering en die gevolglike terugkeer van die ANC en sy alliansie wat weer toegang tot winsgewende stadstenders kry. Soos dit die geval was in die regering, sal ActionSA sy mandaat eerbiedig en voortgaan om belangrike diensleweringsprioriteite te bevorder en korrupsie vanuit die opposisiebanke te beveg,” het Ngobeni ná afloop van die verkiesing gesê.

Kyk Thapelo Amad se toespraak hier:

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugene ·

Mev phalatse. As daar opening by my besigheid is, sal ek jou indiens Neem. Jy was eerlik met jou werk, Dan kry stank vir dank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.