Nuwe kans vir baba ná lewensreddende operasie

Ashley Meerkotter. (Foto: Verskaf)

Ashley Meerkotter het op net drie weke oud vir die eerste keer skielik ophou asemhaal. Min het haar ouers geweet dat dit tot ʼn wedloop teen tyd vir ʼn lewensreddende operasie sou lei.

“Ons het nie geweet of ons dapper klein vegtertjie haar eerste verjaardag in Februarie volgende jaar sou haal nie,” sê Ashley se pa, Adriaan Meerkotter.

Nadat Ashley op drie weke die eerste keer skielik opgehou asemhaal het, sou dit oor die volgende paar weke nog verskeie kere gebeur het.

“Ek het die eerste keer na ʼn nabygeleë apteek gehardloop, waar die klinieksuster haar gelukkig kon bybring. As ma was dit vreesaanjaend om te sien hoe my baba haar bewussyn verloor,” sê Elmarie Meerkotter.

Dit is oorspronklik aan stille refluks toegeskryf en Ashley se ouers is geleer hoe om haar by te bring terwyl hulle na ʼn oplossing gesoek het.

“Dit was ʼn baie stresvolle tyd vir ons. Benewens Ashley se gesondheidsprobleme, het ek my werk in IT-ondersteuning verloor, en ons was besig om te pak om van Carletonville na Middelburg, Mpumalanga, te verhuis. Ashley het die een keer weer ophou asemhaal, maar hierdie keer kon ons haar nie bybring nie en moes ons haar na die hospitaal haas,” onthou Adriaan.

So het ʼn angstige reis van toetse, skanderings en verwysings begin wat daartoe gelei het dat Ashley op slegs ses weke oud met die hartkwaal ventrikulêre septale defek (VSD) gediagnoseer is. Dit is ʼn gaatjie in die septum van die hart, die gedeelte wat die hart in die linker- en regterkant verdeel.

In die openbare gesondheidsorgsektor is daar ʼn aansienlike waglys vir gespesialiseerde en hulpbronintensiewe pediatriese hartprosedures en weens die gesin se finansiële situasie kon hulle nie private gesondheidsorg bekostig nie. Die vroegste datum wat die gesin vir ʼn operasie kon kry, sou in Maart 2024 wees.

Adriaan, Elmarie en Ashley Meerkotter. (Foto: Verskaf)

“Toe die Maboneng-stigting van Ashley se desperate situasie bewus geword het, het ons geweet sy het die Netcare-stigting en Netcare Sunninghill-hospitaal nodig gehad om in te gryp sodat haar operasie baie gouer kon plaasvind,” sê Mande Toubkin, Netcare se hoofbestuurder van trauma, oorplantings en korporatiewe maatskaplike beleggings (KMB).

Die Netcare-stigting is die KMB-arm van die Netcare Groep wat diegene wat dit die nodigste het in staat stel om toegang tot gehaltegesondheidsorg, mediese nooddienste en gespesialiseerde chirurgie te ontvang.

“Hierdie operasie is so tydsensitief by babas soos Ashley omdat hierdie aangebore hartdefek die are van die longe beskadig namate die kind groei, maar daar is ʼn kritieke tydperk van ʼn paar maande waar hierdie operasie onomkeerbare skade kan voorkom,” sê dr. Erich Schürmann, ʼn kardiotorakale chirurg en medestigter van die Maboneng-hart-en-longinstituut.

“Ons was opgewonde en bang toe die aansoek aanvaar is, en die datum vir die operasie is vir 6 Oktober vasgestel. Die dag toe ons by die hospitaal aankom, en veral terwyl ons buite die teater vir haar gewag het, was ons baie benoud. Ons het mekaar ondersteun en probeer kalm bly – maar dis nie maklik as dit jou kind is wat geopereer word nie,” vertel Adriaan.

Die gespesialiseerde prosedure is deur dr. Schürmann, dr. Martin Myburgh, ook ʼn kardiotorakale chirurg, asook narkotiseur dr. Krishnee Naidoo en kardiale perfusiekundige Mogotsi Mophosho uitgevoer, wat hul tyd en kundigheid pro bono afgestaan het om Ashley te help.

Nadat sy net drie nagte in die hospitaal deurgebring het, was Ashley gesond genoeg om ontslaan te word en haar herstel by die huis voort te sit. Sedertdien gaan sy van krag tot krag.

“Ons dogter het alle kanse om ʼn normale, gesonde lewe te lei, en ons kon nie vir beter dokters gevra het nie. Ons is so dankbaar vir die chirurgiese span en die sorgsame intensiewesorgeenheidspan by Netcare Sunninghill-hospitaal, asook die Netcare en Maboneng-stigtings, wat Ashley hierdie onskatbare geleentheid gegee het,” sê Adriaan.

Die familie het ook hul dank uitgespreek aan die verwysende pediatriese kardioloog.

“Dit gaan nou so goed met haar. Ashley is meer speels, en vol lag sedert haar operasie,” sê Elmarie.

Sowat 10 000 babas word jaarliks in Suid-Afrika met ʼn aangebore hartdefek gebore, maar slegs ʼn fraksie ontvang betyds die chirurgiese ingrypings wat nodig is om lewensbeperkende skade te voorkom, aldus die Maboneng-stigting, wat mediese kundigheid en skenkerfinansiering koördineer om kinders soos Ashley te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OU SAAR ·

Daar is engeldokters en mediese personeel daar buite wat nie net geld jag nie en werklik omgee vir hul pasiënte.
Mag daai dokters se hande en verstante altyd geseën word.
Pragtige babatjie en ouers. Baie sterkte vir die herstelpad verder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.