Nuwe kursus by hoërskole vir jong sitruskwekers

(Foto: Vaalbos Trust)

Die nuwe skooljaar het pas afgeskop en 16 hoërskole landwyd gaan vanjaar ʼn kursus in sitrusproduksie aanbied, het die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) aangekondig.

Die Sitrus Sekondêr-program, wat deur die Sitrusakademie – ʼn filiaal van die CGA – aangebied word, skep ʼn geleentheid vir leerders om reeds ʼn erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal.

Jacomien de Klerk, uitvoerende hoof van die Sitrusakademie, sê meer as 450 leerders by die betrokke skole sal na verwagting vanjaar vir die program inskryf.

“Dit word deur skole in sitrusproduserende streke aangebied. Altesame 16 skole sal die program instel. Dit sluit in Bonnievale en Riversdal in die Wes-Kaap, Patensie, Kirkwood en Fort Beaufort in die Oos-Kaap, Umzimkulu in KwaZulu-Natal, Kakamas in die Noord-Kaap en Hoedspruit, N’wamitwa en Tzaneen in Limpopo,” sê De Klerk.

Dié opvoedkundige geleentheid word oor twee jaar gefasiliteer en is gemik op gr. 10- en gr. 11-leerders.

(Foto: Philippe Gauthier/Unsplash)

“Die modules is ingestel om saam met die sitrusproduksiesiklus te val. Leerders word bekend gestel aan onderwerpe soos ondernemingsbeplanning, besproeiing, finansiële bestuur, plaagbestuur en plantmanipulasie.

“Die program is ten volle kurrikulum-belyn en kan as deel van landboubestuurspraktyke, ʼn skoolvak, gebruik word. Dit kan ook as ʼn buitemuurse aktiwiteit ingestel word waardeur leerders ʼn waardevolle kwalifikasie kan verwerf,” sê De Klerk.

Sy sê dít is ʼn bedryf wat talle geleenthede bied.

“Dit pak ʼn uitdaging wat baie skoolverlaters ongelukkig in die gesig staar: om min bemarkbare vaardighede te hê terwyl hulle nie toegang tot tersiêre opleiding het nie.”

Sy sê Sitrus Sekondêr ondersteun ook hul doelwitte om die transformasie van die sitrusbedryf voort te sit, en “om ʼn heel nuwe, passievolle generasie toetreders tot die sektor te skep”.

Verlede jaar is die program in twee skole – in die Sondagsriviervallei en op Humansdorp – van stapel gestuur.

“Tydens dié loodsprojek het ons so baie geleer oor hoe om die program prakties te laat werk, maar wat ons uitgevind het, was dat daar regtig ʼn geweldige belangstelling in en behoefte aan hierdie soort kwalifikasie is,” sê De Klerk.

Theo Bezuidenhout, ʼn gemeenskapsontwikkelingskoördineerder van die Sundays River Valley Collaborative, sê een skool se registrasies het verdubbel namate die program gevorder het.

“Dit gaan oor die herkalibrering van die huidige onderwysstelsel en om saam met die plaaslike gemeenskap en plaaslike regering te werk sodat die stelsel ʼn sistemiese uitwerking op dinge soos werksvooruitsigte kan hê.”

De Klerk sê die CGA se Sitrusakademie sal die program se inhoud, assessering en administrasie verskaf deur die akademie se e-leerplatform te gebruik.

“Daardeur kan leerders ook toegang tot ondersteunende inligting, video’s, klankgrepe en interaktiewe materiaal verkry.”

Die sitrusbedryf in Suid-Afrika het verlede jaar altesame 165,1 miljoen aan (15 kg-) houers na wêreldmarkte uitgevoer. Dit onderhou 140 000 werksgeleenthede ​​op plaasvlak en genereer meer as R30 miljard per jaar in uitvoerinkomste.

“Projeksies dui daarop dat die bedryf met ʼn verdere 100 000 poste in die volgende agt jaar kan groei as alle rolspelers saamwerk om verhoogde marktoegang en verbeterde uitvoerlogistiek te verseker.

“Die Sitrus Sekondêr-program het die potensiaal om ʼn beduidende bydrae tot die groei van plaaslike vaardigheidspoele te lewer en om sodoende in die vraag na geskoolde werkers te voorsien,” sê De Klerk.

(Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nommer 7 ·

Ek hoop hulle gaan geleer word hoe om soet vrugte aan die verbruiker te lewer. My laaste boksie Clementines van R86,00 kon net sowel suurlemoene gewees het.

electricmango ·

Dis veronderstel om algemene kennis te wees. Daai klomp 25 jarige graad 9’s behoort darem die vak te slaag – touch wood….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.