Nuwe ombudsman vir gesondheid aangewys

Prof. Taole Resetselemang Mokoena (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het aangekondig emeritus professor Taole Resetselemang Mokoena is met ingang vanaf 1 Junie 2023 die nuwe gesondheidsombudsman.

Dit volg ná prof. Malegapuru W. Makgoba se ampstermyn op 31 Mei 2023 ná sewe jaar tot ʼn einde gekom het.

Die gesondheidsombudsman is ʼn onafhanklike liggaam wat verantwoordelik is vir die beskerming en bevordering van die gesondheid en veiligheid van gebruikers van gesondheidsdienste deur klagtes in die nasionale gesondheidsorgstelsel te oorweeg, te ondersoek en te hanteer. Dié klagtes hou verband met nienakoming aan die voorgeskrewe norme en standaarde.

Die rol van die gesondheidsombudsman, selfs met sy tekortkominge en beperkings, is ʼn noodsaaklike instrument vir pasiënte en familielede om geregtigheid en aanspreeklikheid na te jaag wanneer hulle deur die gesondheidsbedryf misbruik is. Duisende klagtes is al by die ombudsman ingedien sedert die kantoor in 2013 ingestel is.

Die gesondheidsombudsman het die afgelope sewe jaar van die ergste tragedies en rampe ondersoek, waaronder die Life Esidimeni-tragedie wat die lewens van 144 pasiënte geëis het, en die haglike stand van sake by die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal (RMMCH).

“Professor Mokoena (71) is een van die beste Suid-Afrikaanse mediese geleerdes en toon aan die wêreld die kwaliteit van Suid-Afrikaanse akademiese vernuf. Hy is ʼn mediese gegradueerde van die Universiteit van Natal, ʼn D.Phil-gegradueerde van die Universiteit van Oxford en ʼn lid van die Koninklike Kollege van Geneeshere en Chirurge van Glasgow,” sê Phaahla.

Hy het onlangs afgetree as ʼn professor en akademiese hoof van die Departement Chirurgie, hoofchirurg van die Departement Algemene Chirurgie by die Universiteit van Pretoria en Steve Biko- akademiese hospitaal. “Hy gaan egter voort met sy werk op ʼn deeltydse of konsultasiebasis om voorgraadse en nagraadse mediese studente te onderrig, op te lei en te begelei, asook navorsing te doen.”

Phaahla sê Mokoena se kliniese en navorsingsbelange strek oor immunologie, onkologie en endokrinologie, en hy was voorheen deel van ʼn nieroorplantingseenheid by die Universiteite van Natal en Witwatersrand. Hy is aktief betrokke by akademiese en professionele leierskap en het op verskillende tye gedien op verskeie nasionale en professionele liggame soos die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika en die Kollege van Chirurge van Suid-Afrika.

Hy is ook aangestel as voorsitter van ʼn paneel vir die ondersoek na chirurgiese sterftes by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in 1996/7 en die paneel van ondersoek na diskriminasie binne die Departement Kardiologie by Chris Hani Baragwanath-hospitaal.

“Hierdie prestasiegeskiedenis gee geloofwaardigheid aan sy aanstelling as die nuwe gesondheidsombudsman, met ervaring in ondersoeke en ondersoeke na wanpraktyke en onregverdigheid in die gesondheidsorgbedryf. Ons het vertroue dat prof. Mokoena sy werk met ywer en ʼn absolute sin vir geregtigheid sal uitvoer, onpartydig en sonder vooroordeel teenoor enigeen.”

Phaahla sê hy en die departement van gesondheid wens Mokoena sukses toe in sy nuwe verantwoordelikheid en verseker hom van ongeëwenaarde ondersteuning te alle tye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.