Nuwe oproepe om SA’ner in Mali te bevry

Gerco van Deventer. (Foto: Facebook)

Die familie van ’n Suid-Afrikaner wat al meer as vyf jaar lank deur jihadiste in Mali as gyselaar aangehou word, het Saterdag ʼn nuwe beroep vir sy vrylating gedoen nadat ʼn Franse joernalis enkele dae gelede vrygelaat is.

Gerco van Deventer (47), ʼn ervare paramedikus, is op 3 November 2017 in Libië ontvoer waar hy ʼn maand lank kontrakwerk sou verrig. Hy is reeds op die eerste dag by sy nuwe werk saam met drie Turkse ingenieurs ontvoer. Dié Turke is sewe maande ná die voorval vrygelaat nadat ʼn losprys vir hulle betaal is.

Van Deventer het egter in gevangeskap gebly en is sedertdien na Mali verskuif.

“Ek rig weer ’n pleidooi … ons het hom uiters nodig by die huis,” het sy vrou, Shereen, in ʼn aanlyn onderhoud uit Swellendam in die Wes-Kaap aan AFP gesê.

“Hy is ’n pa van drie kinders [tussen 12 en 18 jaar oud]. Sy ouers, in hul 80’s, mis hom, so ook sy broers en susters. Ek mis hom. Dis tyd, dis al te lank.”

Shereen sê dis vir hulle as familie uiters moeilik en dat hulle opnuut by sy gevangenemers pleit om Van Deventer vry te laat.

Die gesin het Saterdag weer ’n video op die Bring Gerco Home-Facebook-blad geplaas waarin gesien kan word hoe hy om sy vrylating pleit. In die video word gehoor hoe Van Deventer sê dit is op 15 Maart 2023 opgeneem.

Vir sy vrou was hierdie video bemoedigend om te sien. “Dit is ʼn verligting om te weet hy leef nog.”

Van Deventer, wat ten tyde van sy ontvoering vir ʼn sekerheidsmaatskappy gewerk het, is volgens Shereen die enigste Suid-Afrikaanse burger wat deur nie- in die Sahel-streek aangehou word.

Die nuwe oproepe vir sy vrylating volg enkele dae nadat die Franse vryskutjoernalis Olivier Dubois (48) vrygelaat is. Die 61-jarige Amerikaanse nooddienswerker Jeffery Woodke is ook onlangs vrygelaat. Dié twee mans is onderskeidelik in 2021 en 2016 ontvoer.

Gerco van Deventer en sy vrou, Shereen. (Foto: Facebook)

Nuwe hoop

Vir Van Deventer se geliefdes het dit opnuut hoop laat ontstaan dat hy dalk ook sal kan huis toe kom.

Dubois het ná sy vrylating in ʼn onderhoud met die Franse radiostasie Radio France Internationale gesê dat hy net meer as ʼn jaar saam met Van Deventer in aanhouding deurgebring het.

“Hy is nou in sy sesde jaar [van aanhouding]. Hy verdien dit nie. Hy moet huis toe gaan,” het Dubois gesê.

Verskeie rolspelers was ná Van Deventer se ontvoering by onderhandelings betrokke vir sy vrylating, maar dit is volgens Shereen deur die Covid-19-pandemie tot vroeg vanjaar vertraag.

Die Suid-Afrikaanse regering het ook aan Shereen gesê dat hulle steeds probeer om Van Deventer huis toe te bring.

“Onderhandelings duur voort. Ons probeer om hom daar uit te kry,” het ʼn woordvoerder van die departement van buitelandse sake aan AFP gesê.

Imtiaz Sooliman, hoof van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers, het aan AFP bevestig dat die organisasie ook by onderhandelings betrokke is. Sooliman sê ʼn onderhandelaar sal binne die volgende paar dae na Mali reis om ʼn “beroep op die ontvoerders te doen”.  Gift of the Givers was in 2017 ook by bemiddelingspogings betrokke om die vrylating van die Suid-Afrikaner Stephen McGown, wat vir byna ses jaar deur Al-Kaïda in Mali gehou is, te bewerkstellig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.