Nuwe regulasies oor sport, kultuur by skole uitgevaardig

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Skole kan weer teen mekaar begin meeding te midde van die Covid-19-pandemie en leerders wat aan kontaksportsoorte deelneem mag weer oefen.

Kultuuraktiwiteite soos debat en koor kan ook hervat word. Dít alles natuurlik met sommige beperkings.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het vandeesweek nuwe regulasies rakende buitemuurse aktiwiteite by skole in die Staatskoerant gepubliseer.

Volgens Motshekga kan nie-kontak sportwedstryde, nie-kontak sportverwante aktiwiteite en kuns- en kultuurgebaseerde aktiwiteite tussen skole (interskole) hervat word mits daar geen toeskouers is nie.

Diegene direk betrokke by die wedstryde en aktiwiteite, waaronder deelnemers en afrigters, mag ook nie 50% van die lokaal se kapasiteit oorskry nie.

Slegs 250 persone of minder sal toegelaat word indien die aktiwiteite binnenshuis geskied terwyl ’n maksimum van 500 mense toegelaat word indien die aktiwiteite buite plaasvind.

“Met dien verstande dat nie meer as 50% van die lokaal se kapasiteit gebruik word nie en persone sosiale afstand handhaaf,” sê Motshekga.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Skole moet register hou van almal teenwoordig.

Nasionale kampioenskappe en toernooie vir nie-kontak sportsoorte wat vereis dat leerders na ander skole of provinsies moet reis, word weer toegelaat mits daar ook ʼn register gehou word.

Hoewel deelnemers nie gesigmaskers gedurende ’n wedstryd of kultuuraktiwiteit hoef te dra nie, is gesigmaskers wel verpligtend wanneer persone die lokaal binnekom asook in die kleedkamers.

Handreiniger met ’n alkoholinhoud van minstens 70% moet beskikbaar wees vir gebruik deur alle amptenare, afrigters, assistente, leerders en deelnemers.

Fasiliteite moet beskikbaar gestel word vir die was van hande en alle vensters en deure moet oopbly waar moontlik. Sosiale afstand moet ten alle tye gehandhaaf word en niemand sal toegelaat word om van dieselfde waterbottel of energiedrankie te drink nie.

Kontaksport

Motshekga sê oefening in kontaksporte kan hervat word mits sosiale afstand, higiëne en alle veiligheidsmaatreëls gehandhaaf word en daar geen fisieke kontak gedurende die oefening tussen deelnemers is nie.

Skole moet verseker dat die lokaal asook alle toerusting wat tydens die oefening gebruik word, deeglik skoongemaak word vóór en ná oefening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Nou nie juis of dit saakmaak nie, maar praat die lotte nie met mekaar nie? Die gesondheids clown het gese die nuwe infeksies wat nou voorkom dui op n oplewing in hulle virus. So een en een maak nou n ander somtotaal hier…. Vir my se dit dat die virus nie regtig ernstig deur die klomp wat in beheer is op gevat word nie… Wat is die gevolgtrekking dan?

Bloemies7 ·

Okay, so kan ek hieruit aflei dat normale span sporte soos rugby en netbal se wedstryde tussen skole waarskynlik nie volgende jaar gaan plaasvind nie? Maar atletiek & swem kan wel kompeterent plaasvind maar net sonder toeskouers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.