Nuwe rybewyskaarte verander níks, regsaksie gaan voort

lisensie

Argieffoto.

AfriForum sê hy gaan ondanks min. Fikile Mbalula se aankondiging oor die nuwe beoogde bestuurslisensiekaarte voort met sy hofsaak rakende die hernuwing van die huidige bestuurslisensiekaarte.

Die minister het Vrydag aan verslaggewers gesê dat hy die kabinet gaan versoek om ’n hernuwingstydperk van agt tot tien jaar in werking te stel.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê nou dié verlenging pak nie die regsleemte aan wat die burgerregteorganisasie met sy regsaksie geïdentifiseer het nie.

“AfriForum se regsaksie versoek dat die hernuwingstydperk van lisensiekaarte hersien en geskrap moet word, aangesien ons aanvoer dat die Padverkeerswet stipuleer dat bestuurslisensies onbeperk geldig is. Ons gaan dus voort met ons regsaksie om ’n verklarende bevel te kry dat die wetgewing wat die vyf jaar lange hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte voorskryf onredelik, arbitrêr en vaag is, asook dat motoriste nie gestraf mag word indien hulle met onhernude bestuurslisensiekaarte ry nie,” sê Duvenhage.

AfriForum het ook sy bedenkinge oor die voorgenome nuwe bestuurslisensiekaarte, aangesien die departement van vervoer volgens die burgerregteorganisasie nie ’n goeie rekord het wat die inwerkingstelling van nuwe stelsels betref nie.

“’n Voorbeeld hiervan is die NaTIS-stelsel wat 15 jaar ná vrystelling steeds nie behoorlik funksioneer nie,” sê Duvenhage.

AfriForum sê dit is verregaande dat die vereiste om bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar te hernu skynbaar op geen wetgewing berus nie.

Lees meer hier oor die organisasie se regsaksie teen die departement van vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.