Nuwe sentrum op Hermanus hou ruimteweer dop

Dr. Blade Nzimande tydens die opening van die nuwe ruimteweersentrum in Hermanus. (Foto: Verskaf)

Die splinternuwe ruimteweersentrum van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap (Sansa) is Donderdag op Hermanus deur die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, geopen.

Die sentrum is een van net vyf ter wêreld en die enigste in Afrika. Dit monitor en voorspel die ruimteweer dag en nag, sewe dae per week, insluitende komende geomagnetiese storms.

Volgens Nzimande is die bou van hierdie sentrum ʼn “goeie Suid-Afrikaanse storie” wat bydra tot belangrike navorsing — nie net oor die ruimte nie, maar ook oor hoe die son ʼn impak op die aarde het.

Die besturende direkteur van Sansa Hermanus, dr. Lee-Anne McKinnell, het genoem dat gebruikers van die sentrum se data die lugvaart- en skeepsvaartbedryf insluit. Volgens haar beïnvloed die son potensieel alle instrumente wat ons alledaags gebruik, soos GPS.

Die nuwe ruimteweersentrum in Hermanus. (Foto: Verskaf)

Sansa bedryf reeds die afgelope tien jaar ʼn ruimteweersentrum, maar met beperkte fokus. Die nuwe fasiliteit, wat in totaal sowat R107 miljoen in drie jaar beloop het, is in September voltooi en brei die sentrum se vermoë aansienlik uit. Hermanus is destyds gekies vanweë die relatief neutrale magnetiese ligging.

Die koste van die nuwe sentrum is grootliks deur die departement van wetenskap en innovasie gedra. Die gedagte is egter dat dit in die jare wat kom geld sal genereer uit gebruikers.

Nzimande het aangevoer dat die land nie sonder beleggings in wetenskap en innovasie kan groei of meeding nie en dat dit sentraal tot die uitbou van ʼn ontwikkelingstaat is.

Hy het daarop gewys dat besteding tydens die Covid-19-pandemie van 0,8 tot 0,7% van die bruto binnelandse produk (BBP) afgeneem het, maar hy hoop dat dit in die toekoms tot meer as 1,0% van die BBP sal toeneem.

Verteenwoordigers van Kenia, Zimbabwe, Zambië, Angola en die Amerikaanse ruimte-agentskap (Nasa) het ook die opening bygewoon.

Sansa werk ook aan ʼn reeks ander projekte, soos die daarstel van ʼn stasie in Matjiesfontein wat data rondom die beweging van die maan sal naspoor en verwerk, ter ondersteuning van toekomstige reise na die maan. Sansa is tans in gesprek met Nasa hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

My siening ·

Dit gaan nie help al kom die storms waar skuil ons want net regering sorg vir hul self en hul kaders en ander stem maar weer vir die gemors en dit vir n once- off toebroodjie!

Vonkprop ·

Hoekom was Blade daar, weet hy ooit wat daar aangaan? Kan die plek ook toekomstige ANC storms voorspel en wat die ANC se impak op die aarde is?

Pablo ·

Ek stem saam wonder net op watter planeet die Ruimte -Agentskap bestaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Bou meer westerse dinge in die Kaap, ou grote. Dit maak onafhanklikheid net aantrekliker.

E ·

Ek dink die is sommer mors van geld. Ons kan wetensakp in SA uitbou op baie ander maniere. die weer ens is sommer geld mors vir Afrika en Suid-afrika. Ons het in elk geval ver te min kinders met STEM vakke en goeie punte, kon eerder ‘n paar kinders ekstra klasse gegee het of beurse of spesialis skole vir kinders wat stem vakke wil neem.

Rocco ·

Wonderlik dat daar ‘n goeie Suid Afrika storie is, Blade. Jy was seker nie baie betrokke nie, anders sou dit nogmaals ‘n gemors afgegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.