NWU-student skryf onderskeidings uit hospitaalbed los

René Swart het in die hospitaal eksamen geskryf en drie onderskeidings behaal. (Foto: Verskaf)

Die 22-jarige René Swart, ʼn eerstejaarstudent in aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het die maagpyn wat sy op 21 Mei ondervind het aan die stres van ʼn bestuurslisensietoets toegeskryf.

Min wetend dat haar toestand haar langer as twee maande in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp sou laat beland.

Nietemin het Swart drie onderskeidings behaal in eksamens wat sy uit haar hospitaal bed geskryf het.

Swart is op 29 Mei in die Mediclinic in Potchefstroom opgeneem waar dokters bevind het dat sy ʼn verdikking op haar kolon het. Sy is kort daarna na die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas waar sy met ʼn bakteriële infeksie in haar kolon gediagnoseer is.

Sy is Vrydag uit dié hospitaal ontslaan en sterk tans by haar ouerhuis in Lyttelton in Centurion aan.

“Ek het aanvanklik vir ʼn vriendin gevra om vir my Buscopan-medikasie vir die maagpyn te gaan koop. Ek het egter later blou kolle op my heupe opgemerk en besef daar is iets groots fout.

“My ouers het toe deurgekom en my hospitaal toe gevat.”

Swart en haar ouers is kort ná haar oorplasing in kennis gestel dat sy ʼn operasie sal moet ondergaan.

René Swart sterk tans by haar ouerhuis in Centurion aan. (Foto: Verskaf)

“Weens die infeksie het maagsappe uit die kolon in my buik gelek.

“Daar moes ʼn stuk van my kolon weggesny word en die buik moes skoongemaak word.”

Sy kon egter nie dadelik dié operasie ontvang nie aangesien die infeksie haar bloedplaatjies afgetakel het.

“Ek is intussen met medikasie behandel en moes ook ʼn bloedoortapping kry. Ek is toe ʼn paar dae ná my opname geopereer en sal ʼn stoma-sakkie moet dra totdat ek wéér oor sowat drie maande ʼn operasie kan ondergaan.”

Boonop was die blou kolle wat sy toenemend op haar lyf opgemerk het bloeding onder die vel wat ook deur die infeksie veroorsaak is.

“As gevolg hiervan het baie weefsel onder my vel doodgegaan en moes ek op verskeie plekke – veral aan die onderste gedeelte van my lyf – veloorplantingsoperasies ondergaan.

“Dit was ʼn baie pynlike proses.”

Swart sê sy moes sowat een keer ʼn week teruggaan teater toe waar haar wonde skoongemaak en behandel is.

“Daar het enkele kere sepsis ontwikkel wat ook skoongemaak moes word.

René Swart studeer tans aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. (Foto: Verskaf)

“Ek het dikwels gehuil van die pyn.”

Swart sê sy was egter gemotiveerd om haar eksamens af te handel, ondanks die situasie waarin sy haarself bevind het.

“Ek het baie hard gewerk om te kom waar ek is en wou nie die jaar oordoen nie.”

Swart het haar BSc-graad met fisiologie en sielkunde voltooi waarna sy met aptekerswese begin het.

“Dit was soms ʼn uitdaging om die hospitaal te studeer. Daar was baie onderbrekings en ek kon nie juis regop sit nie.

“Ek is gewoond daaraan om my werk op te som en dié opsommings dan in stilte te leer.”

Sy sê die ondersteuning van haar gesin, dosente en die hospitaalpersoneel het haar egter gedra, sowel as die berading wat sy ontvang het.

“Die berader het vir my gesê dis oukei om soms mismoedig en gefrustreerd te voel. Eindelik is ek daardeur.”

Swart is kort voor haar skielike mediese terugslag van haar pa, Albert, se werksmediese fonds gehaal en sou binnekort by ʼn nuwe fonds aansluit.

Intussen hoop die gesin se mediese uitgawes op. Geliefdes het vir haar ʼn fonds op Back a Buddy gestig met die hoop om die gesin met die mediese koste te help.

Swart moet oor drie weke weer die dokter besoek en sal nog verskeie behandelings moet ondergaan en moontlike opvolgoperasies moet ontvang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Spoedige herstel word jou toegewens mens…..
Dank Due Vader vir u prestasie en vra Hom vir volkome herstel…

Karina ·

Baie geluk, dit wys jy het deursettings vermoe, hoop jy word gou gesond om voort te gaan met jou studies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.