Nzimande, NSFAS-voorsitter se koppe geëis ná stemopnames

Blade Nzimande (Foto: ANA/Jacques Naude)

Die drukgroep Outa dring aan op die bedanking van die minister van hoër onderwys en opleiding asook die voorsitter van die raad van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

“Indien hulle nie bedank nie, doen ons ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om hulle dadelik af te dank,” sê Rudie Heyneke, Outa se ondersoekbestuurder, te midde van bewerings oor ʼn  patronaatskapnetwerk in die departement van hoër onderwys.

Minister Blade Nzimande en Ernest Khosa van NSFAS word direk geïmpliseer.

Outa het intussen ʼn ondersoekverslag en twee stemopnames met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) – wat sedert 2022 korrupsie by NSFAS ondersoek – gedeel om die verdoemende bewerings te steun.

Die twee opnames van twee vergaderings tussen Khosa en ʼn verteenwoordiger van ʼn diensverskaffer, onthul glo hoe diensverskaffers miljoene rande aan Nzimande en Khosa asook minstens R1 miljoen aan die SAKP betaal het in ruil vir tenders en die beskerming van diensverskaffers.

Heyneke sê die gedetailleerde ondersoekverslag en die stemopnames sal ook binnekort met die Openbare Beskermer (OB), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die ouditeur-generaal (OG) gedeel word.

“Daar behoort ʼn deeglike ondersoek gelas te word na die groot web van korrupsie in die hoëronderwyssektor wat Outa se talle verslae en hierdie opnames uitwys,” sê Heyneke.

Die stemopnames

Volgens Heyneke is die twee stemopnames – wat deur ʼn fluitjieblaser uitgelek is – tydens twee afsonderlike vergaderings gemaak nadat die direksie van NSFAS op 16 Augustus verlede jaar besluit het dat Andile Nongogo (toe uitvoerende hoof van NSFAS) op spesiale verlof geplaas moet word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn ondersoek is in daardie stadium van stapel gestuur na die hulpskema se direkte betaalstelsel en bewerings teen Nongogo.

Die raad se besluit was ten tyde van die twee vergaderings egter nog nie bekend nie.

“Die aankondiging van Nongogo se spesiale verlof het gekom ʼn dag nadat Khosa met Thula Ntumba, eggenoot van Tshegofatso Ntumba, een van twee Coinvest-direkteure, vergader het,” sê Heyneke.

“Khosa het tydens dié vergadering aan Ntumba en ʼn ongeïdentifiseerde derde persoon gesê dat hy vertroud is met die inhoud van die Outa-verslag en die bewerings teen Nongogo. Khosa het gesê die enigste manier waarop die NSFAS-direksie kan reageer, is om Nongogo op spesiale verlof te plaas en dan aan die parlement verslag te doen oor die stappe wat die direksie sal doen om die situasie te hanteer.”

Volgens Heyneke het Khosa ook aangedui dat Outa se verslag nie die grootste probleem is nie, maar eerder ʼn beweerde sameswering binne die ANC. In hierdie stadium word die adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela, wat glo van Khosa en Nzimande ontslae wil raak, se naam genoem.

Minister Blade Nzimande en Ernest Khosa van NSFAS. (Foto: X)

“Khosa het tydens hierdie vergadering verder verklaar dat die direksie aan hom die uitsluitlike magtiging verleen het om die opdrag vir ʼn ondersoek op te stel, wat hom die geleentheid gebied het om alles uit te sluit wat moontlik ʼn probleem vir Nongogo sou skep. Khosa het gesê aangesien hy bewus was van Nongogo se oortredings in die verlede, sal hy seker maak dat hulle nie uitgevang word nie.

“Khosa het toe nog ʼn groot probleem genoem: die behoefte om ’n regsfirma aan te stel wat hy sal kan beheer. Hy het Ntumba vir voorstelle gevra. Ntumba het Werksmans Prokureurs vir die ondersoek voorgestel en onderneem om aan Khosa die naam van ʼn vennoot te gee wat NSFAS sal kan beheer.

“Die derde, ongeïdentifiseerde persoon het Khosa toe uitgevra oor sekere briewe wat Nongogo moes onderteken. Khosa het toe nie net bevestig dat hy die briewe gesien het nie, maar selfs erken dat hy die inhoud daarvan verander het. Hy het gewaarsku dat die minister bekommerd is dat hul verhouding met die diensverskaffers bekend sal word, en bygevoeg dat hy vermoed dat ondersoekers hul selfone dophou om vas te stel of daar vergaderings tussen die minister, die voorsitter en die diensverskaffers is.”

Heyneke wys dan daarop dat dit nie net oneties en hoogs onreëlmatig is nie, maar ook teen al die beginsels van goeie bestuur indruis wanneer die voorsitter van ’n direksie met diensverskaffers vergader en insette oor direksiebesluite vra.

“Hoekom was dit selfs vir Khosa nodig om hierdie mense te ontmoet en hulle op hoogte te bring van interne sake en hul insette vir die pad vorentoe te vra?”

Die antwoord op hierdie vraag kan gevind word in die opnames van ʼn tweede ontmoeting tussen Khosa, Ntumba en ʼn ongeïdentifiseerde derde persoon sowat twee weke ná die eerste ontmoeting, sê Heyneke.

“Die opname van hierdie vergadering het aan die lig gebring dat miljoene rande aan die SAKP, minister Nzimande en Khosa betaal is. Tydens die eerste deel van die vergadering, wat vir ʼn uur en ʼn half geduur het, het Ntumba en die ongeïdentifiseerde persoon Khosa en sy optrede uitvoerig bespreek. Hulle het glo ook saamgesweer oor hoe om hom onder druk te plaas om die ondersoekperiode na Nongogo se optrede vir minstens drie maande te verleng.

“Hulle het beweer dat dit Khosa se bedoeling was om hulle te dreig met die beëindiging van die Coinvest/NSFAS-kontrakte sodat hulle hom sou betaal om die beëindiging van die kontrakte te verhoed. Ntumba het verder beweer dat Khosa met die voorsitter van Fundi, ʼn ander maatskappy wat sake doen in die hoëronderwyssektor, vergader en voorgestel het dat Fundi Khosa moontlik betaal het en nou druk op hom plaas.”

Fundi het tenders vir verskeie NSFAS-kontrakte ingedien, maar die tenders is nooit toegeken nie, sê Heyneke.

“Hulle het ook die strafregtelike aanklagte teen Khosa terwyl hy die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Ekonomiese Bemagtigingskommissie was bespreek sowel as vorige vergaderings wat hulle met hom en die minister gehad het. Daar is ook bespreek hoe Khosa na bewering openlik gepraat het oor omkoopgeld van R6 miljoen in die teenwoordigheid van ʼn ander NSFAS-raadslid en voormalige president van Sasco, Bamanye Matiwane. Ntumba het ook melding gemaak van ʼn vergadering wat hy met Nzimande gehad het waar sy spesiale raadgewer, Nqaba Nqandela, teenwoordig was.

Ernest Khosa (Foto: X)

“Toe Khosa by die twee mans aangesluit het, het hy hulle verseker van sy goeie verhouding met minister Nzimande en hulle ingelig oor die voortgesette ondersoek deur Werksmans-prokureurs, wat hy bevestig het hy op Ntumba se advies aangestel het. Khosa het verwys na Outa se ondersoek na Nongogo se termyn as Seta se uitvoerende hoof en herhaal dat hy nie glo dat Nongogo enigiets verkeerds by NSFAS gedoen het nie.”

Volgens Heyneke het Khosa ook die vordering van die Werksmans-ondersoek bespreek, waarna Ntumba versoek het dat – indien die Werksmans-verslag sou voorstel dat die diensverskafferkontrakte gekanselleer word – dit so gedoen moet word dat Coinvest nie “skuldig” voorkom nie. Ntumba het ook na Coinvest se borgskap deur Nedbank verwys en gesê dit is te belangrik om te verloor sou dit aan die lig kom dat hulle by enige ongerymdhede betrokke is.

Albei mans het Khosa ingelig dat, hoewel alles nie volgens plan verloop het nie, die “topspelers” steeds bereid is om “aansporings” te gee, al moet dit dan nou van “ander bronne” afkomstig wees.

Ntumba het Khosa ook daaraan herinner dat hy R1 miljoen vir die SAKP-konferensie betaal het, saam met Star Sign and Print wat T-hemde en sakke vir die konferensie gedruk het. Ntumba se vrou is ʼn direkteur van Star Sign and Print.

Ntumba het die vergadering vroeg verlaat weens ʼn ander afspraak. Die opname eindig wanneer hy uitstap “wat sterk daarop dui dat hy die persoon was wat die opnametoestel gehad het”, sê Heyneke.

“Dit is onduidelik hoekom hy die gesprek opgeneem het, maar dit is Outa se siening dat hy iets nodig gehad het om teen die voorsitter te hou.”

Heyneke sê Outa glo dat die opnames baie bevestig van wat die organisasie in die verlede gesê het, veral oor patronaatskapnetwerke in die departement van hoër onderwys sowel as hoëronderwysinstellings.

“Openbare amptenare en diensverskaffers gebruik glo hierdie netwerke om sekere individue op hul beurt te verryk omdat hulle tenders en kontrakte gekry het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ek dink niemand van ons – op voetsoolvlak – het die vaagste BENUL van hoe korrup hierdie ANC-regering werklik is nie.

Grassie ·

Ek sal bly wees as daardie aartskommunis permanent uit ons akademiese instellings verwyder word maar ek dink nie die skade wat hy deur die jare angerig het kan ooit herstel word nie.

Althes ·

Korrupte spul. Die hele klomp se optrede deurtrek met skandale en vrot bestuur.

Frank ·

En so ly studente ook onder die onbeholpe diewe, ons leiers van more.

Misky ·

Dis nes jy daar sê Bolandse Nooi. En hierdie is maar ‘n druppel in die emmer en ons weet nie eens van meeste gevalle soos hierdie nie.

Gert ·

Met moedeloosheid moet ons toekyk hoe korrupte hoog geplaasde mense ons land terroriseer en gevangene hou terwyl ons maar net eenvoudig sug en ander pad kyk. Ek reken meeste van ons los maar die geveg teen die skuldiges eendag vir ons kinders?

Andre ·

…enigiets wat Blade by betrokke is, is korrup!
Dis al manier wat hy ken!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.