OB hoor dán oor haar interdik teen parlement

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, behoort eersdaags te weet of haar poging om ʼn interdik te verkry teen die parlementêre proses om haar moontlik uit haar amp te verwyder, suksesvol gaan wees.

ʼn Hofsaak oor die kwessie is tans in die Wes-Kaapse hooggeregshof aan die gang voor ʼn volbank regters: Vincent Saldanha, Monde Samela en Elize Steyn.

Woensdag het Mkhwebane se regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, haar kant van die saak gestel, en Donderdag was dit die geleentheid van haar opponente om hul teenargumente te lug.

Die saak is tot 18 Augustus uitgestel wanneer regters na verwagting aanduiding sal gee van wanneer hulle uitspraak oor die aansoek om ʼn interdik sal lewer.

Die respondente in die saak is pres. Cyril Ramaphosa, die DA en Thandi Modise as speaker van die Nasionale Vergadering.

Die speaker se regsverteenwoordiger, adv. Andrew Breitenbach, het aangevoer die speaker het binne haar regte opgetree toe sy kragtens die reëls van die parlement ingestem het dat ʼn parlementêre ondersoek na Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos kan voortgaan.

Breitenbach het namens die speaker verskil van Mkhwebane en Mpofu se interpretasie dat die speaker eers die openbare beskermer se kant van die saak moes aanhoor voor sy kon instem tot die ondersoek.

Volgens Breitenbach sal die OB wel meer as genoeg tyd kry om haar saak te stel wanneer die ondersoek aan die gang is.

Hy het voorts gesê daarom sal haar reputasie geen onherstelbare skade kan ly deur die feit dat daar ʼn ondersoek teen haar is – soos Mpofu beweer – nie.

Adv. Nazreen Bawa, namens Ramaphosa, moes die president verdedig teen Mkhwebane se aanspraak dat Ramaphosa geen besluit kan neem om die openbare beskermer te skors of af te dank nie, omdat daar ʼn konflik van belange bestaan.

Mpofu voer aan die konflik van belang is omdat Ramaphosa in ʼn hofgeding met die openbare beskermer gewikkel is om haar bevindings rakende die fondsinsameling vir sy suksesvolle CR17-veldtog om ANC-leier te word, tersyde te stel.

Bawa het egter namens Ramaphosa gesê dat hy weens enige moontlike konflik van belang reeds besluit het om enige besluit oor moontlike optrede teen die OB na ʼn kabinetslid te verwys, sodat hy as president nie ʼn rol in die besluit het nie.

Adv. Stephen Budlender, namens die DA, het ontken dat die DA ’n spesifieke vendetta teen Mkhwebane voer, en het verwys na al die hofbevindings wat aantoon dat sy onbevoeg is vir haar amp.

Die DA vra voorts dat Mkhwebane persoonlik verantwoordelik gehou word vir die hofkoste as haar aansoek sou misluk, sodat die belastingbetaler nie vir haar kaperjolle moet opdok nie.

Tegniese probleme het Mpofu se repliekargumente onderbreek, en die saak is uitgestel tot 18 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.