OB se skorsing ‘ongeldig’ sê hof

Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die hooggeregshof in die Wes-Kaap het Vrydag pres. Cyril Ramaphosa se skorsing van die Openbare Beskermer (OB) omgekeer en dit as “onvanpas” bestempel.

Die hof sê die “haastige wyse” waarop Busisiwe Mkhwebane geskors is, dui daarop dat dit dalk in reaksie was op ʼn ondersoek na Ramaphosa wat die OB kort voor die skorsing van stapel gestuur het.

Mkhwebane is in Junie vanjaar geskors, kort nadat sy vir hom vrae gestuur het oor ʼn inbraak by sy plaas Phala Phala. Mkhwebane het die hof gevra om hierdie besluit om te keer.

“Die applikant se besluit om die president te ondersoek, het die president aangespoor om nie ʼn dag langer te wag om haar te skors nie,” lui die hofstukke.

Die hof sê hoewel die proses om haar te skors reeds in Maart aan die gang gesit is, is dit in Junie bespoedig.

Haar skorsing is gevolglik ongeldig verklaar.

ʼn Parlementêre komitee is tans besig met ʼn artikel 194-ondersoek na die OB se geskiktheid om in haar pos aan te bly, nadat die einste hooggeregshof die speaker van die parlement die groen lig gegee het om met die ondersoek voort te gaan. Mkhwebane sou aanvanklik geskors bly totdat dié proses afgehandel is.

Die president se kantoor het Vrydagaand gesê hy neem kennis van die uitspraak en sal nou die Grondwet bekyk vir leiding oor watter stappe om volgende te doen.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christo ·

En so word ons belasting geld vermors met die anc se binne gevegte en die advokate word skat ryk!

Wildemien ·

Uiters onbekwame Hooggeregshof amptenare!!! Regters kan mens hulle nie noem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.