Nog ʼn slag vir OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: ANA)

Die geskorste Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, is Woensdag nog ʼn slag toegedien nadat die hof haar tweede aansoek om sy uitspraak oor haar vervolging nietig te verklaar, van die hand gewys het.

Dié aansoek is boonop as “ʼn misbruik van die hofproses” beskryf.

Die Konstitusionele Hof het in ʼn kort bevel gesê dat geen saak vir herroeping uitgemaak is nie en Mkhwebane beveel om die koste van die aansoek in haar persoonlike hoedanigheid te betaal.

Mkhwebane het haar vir ʼn tweede keer tot die Konstitusionele Hof gewend in ʼn poging om sy uitspraak teen haar, wat die weg gebaan het vir die parlement om voort te gaan met stappe om haar in ʼn staat van beskuldiging te plaas, tersyde te stel. Sy het kort ná dié uitspraak haar vir die eerste keer na die hof gewend.

Sy wou met die jongste aansoek egter ook gehad het dat die hof bevind dat ʼn vroeër SMS wat aan ʼn parlementsadvokaat gestuur is, haar benadeel het.

Die hof het Woensdag gesê dat die tweede aansoek “ʼn misbruik” is.

“Die Konstitusionele Hof het die aansoek om herroeping oorweeg. Dit het tot die gevolgtrekkinge gekom dat die aansoek van die hand gewys moet word aangesien geen saak vir herroeping uitgemaak is nie. Die applikant behoort die koste in haar persoonlike hoedanigheid te betaal aangesien hierdie aansoek neerkom op ʼn misbruik van die hofproses,” lui die bevel.

Mkhwebane se tweede aansoek het gehandel oor die wyse waarop die hof ʼn SMS hanteer het wat sy gesê het op ʼn lekkasie van die hooggeregshof in ʼn afsonderlike, maar verwante saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof in April, gedui het, berig Times Live.

Die regsanalis en -konsultant, Ismail Abramjee, het destyds, nog voordat dit eintlik aangekondig is, in die SMS gesê dat hy dit “op baie goeie gesag” het dat Mkhwebane se eerste herroepingsaansoek van die hand gewys sou word.

ʼn Ondersoek na die boodskap het egter bevind dat daar geen bewyse is dat hy enige vertroulike inligting gedeel het nie.

Die parlement se artikel 194-komitee, wat belas is met die proses om Mkhwebane moontlik uit haar pos te verwyder, se komiteesitting duur Donderdag weer voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Sy wil maar net nie luister nie.Oral sien sy haar g.t en maak sy ‘n bespotting van haarself.Hoekom bedank sy nie net nie.Sy sal die hele land ‘n guns doen.

SjN ·

Wat verstaan of wil sy nie verstaan nie, klou styf vas om op die soustrein te bly!!

Christine ·

Sy speel vir tyd, want sy is geskors met volle salaris en sal dit uitrek so lank sy kan.

Jr ·

Saak no 1000000 verloor deur hierdie
” bekwame” vrou. Whoo hoo viva. Grap van die jaar

Yvonne ·

Tipies, herken niks en klou vir lewe en dood aan onbeholpenheid……so gaan dit aan en aan en aan

domheks ·

Mooi skoot! Kry vir jou en kry in jou kop jy is nie ‘untouchable’ nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.