Oekraïense leeus in SA reservaat vrygelaat

Jamil tydens sy vrylating. (Foto: Born Free)

Ná ʼn uitmergelende reis van ongeveer 12 000 km van die oorloggeteisterde Oekraïne is twee leeumannetjies in die Shamwari-natuurreservaat in die Oos-Kaap vrygelaat.

Die drie jarige Tsar en Jamil wat in 2022 uit die oorlog gered is, het Maandag in Suid-Afrika aangekom. Die Shamwari-natuurreservaat is die tuiste van sowat 50 wilde katte.

Sedert hul redding uit Oekraïne is Tsar en Jamil deur kundiges by ʼn diereskuiling in België versorg. Dit het as ʼn toevlugsoord vir die leeus gedien terwyl die internasionale nie-winsgewende organisasie Born Free, wat by hul redding betrokke was, noukeurig planne vir hul hervestiging in Suid-Afrika gemaak het.

Die leeus is as welpies van hul ma in ʼn Oekraïense dieretuin weggeneem, waarna hulle aan ʼn plaas verkoop en vir lank as ʼn “toeriste-attraksie” uitgebuit is.

Die jong leeus is in haglike omstandighede aangehou.

Ná druk van plaaslike dierebeskermingsorganisasies is hulle aan ʼn wildreddingsentrum in Kiëf oorhandig.

Hier het die volle omvang van hul lyding duidelik geword. Veeartsenykundige ondersoeke het aan die lig gebring dat albei leeus ʼn kalsiumtekort het.

Die drie jarige Tsar. (Foto: Born Free)

Met behoorlike sorg en voeding het Tsar en Jamil egter van hul beproewing begin herstel – totdat verdere swaarkry oor hulle pad gekom het.

Vroeg in 2022 het die uitbreek van die oorlog in Oekraïne ʼn nuwe bedreiging vir die leeus se toekoms ingehou. Ten spyte van ondraaglike toestande het ʼn span by die Oekraïense reddingsentrum saam met ʼn Poolse dieretuin gewerk om die leeus na veiligheid in België te bring.

Die leeus is van daar na die Luxemburgse lughawe vervoer, voordat hulle na Johannesburg vertrek het.

By hul aankoms by Born Free se Big Cat Sanctuary by Shamwari in die Oos-Kaap, het hulle reguit uit hul kratte die bosse ingevaar.

Maggie Balaskas van Born Free sê dat dit tyd sal neem vir Tsar en Jamil om in hul nuwe omgewing aan te pas.

“Na ʼn traumatiese begin in die lewe, en nadat hulle reeds in vyf verskillende huise gewoon het, is dit ʼn groot verligting om te weet dat Tsar en Jamil uiteindelik na ʼn beter toekoms kan uitsien.

“Die Born Free-span sal die leeus fyn dophou, en hoop dat hulle binnekort hul nuwe tuiste met vrymoedigheid sal verken.

“Ons is ongelooflik dankbaar aan elke individu wat deel van hulle reis was. Born Free sal voortgaan om onverpoos te werk om die gevangenskap, mishandeling en uitbuiting van wilde diere te beëindig.”

Catherine Gillson, bestuurder van Born Free Shamwari-reservaat het bygevoeg hulle is opgewonde oor die aankoms van die leeus.

“Dit het vir groot opwinding by die Born Free Shamwari-span gesorg. Ons is vasbeslote dat hulle goed in hul nuwe omgewing sal aanpas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sê maar net ·

Pragtige diere. Uiteindelik vry! Hulle sal nou sterk en gesond word. Dankie julle!

Di ·

Dankie aan almal wat betrokke was om hierdie pragtige diere ‘n beter lewe te gee.

Michele ·

Ek het hul storie van die begin af gevolg en gewonder wanneer hul huis toe kom. So bly hulle is uiteindelik veilig

Bolandse Nooi ·

Jip, bly dat hul “tuis” is … ek hoop net die leeustropers bly weg!!!!!!!!!!!

Karina ·

Dankie vir die hartbly storie. Hulle gaan baie gelukkig wees by Shamwari.
Bolandse Nooi, ag nee, so ‘n mooi blye boodskap en jy gooi negatiwiteit in, wees positief en leeus word nie gestroop nie, renosters word gestroop van hulle horings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.