Ohrigstad-plaasmoorde: Slagoffers ‘gemartel, verbrand’

Hegte vriende Hennie Claassen (78) en Anneke Claassen (76) is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek vermoor. (Foto: Verskaf)

Anneke Claassen (76) en haar goeie vriend, Hennie Claassen (78), is vermoedelik eers gemartel voordat hulle Saterdag helder oordag in hul afsonderlike huise op die plaas Klipfonteinhoek in Ohrigstad aan die brand gesteek is.

Die bekende Eggogrotte is op dié plaas geleë en is al jare lank ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid. Daar is ook ʼn hotel op die plaas.

Anneke, ʼn bedrewe sakevrou en boer, het die plaas, asook die Eggogrotte en die hotel op die perseel bestuur. Die grond behoort al langer as ʼn eeu aan die Claassen-familie.

“My ma het die pot aan die kook gehou. Sy was ʼn goeie sakevrou en het tot haar dood alles eintlik alleen bestuur,” het haar seun, Jan-Daniël Claassen (43), Maandag aan Maroela Media gesê.

“Ons is stukkend. Ons sit met baie meer vrae as antwoorde – ook oor die mensdom. Hoe kan mense so wreed wees? My ma en oom Hennie was goeie, eenvoudige mense wat hul lewe aan die gemeenskap toegewy het. Hulle het vir soveel mense werk geskep.”

Jan-Daniël sê hul familie was uiters geskok toe hulle Saterdagmiddag ʼn oproep oor die voorval, wat tussen 13:00 en 14:30 plaasgevind het, ontvang het. Dié soort misdaad is boonop nie algemeen in Ohrigstad nie, sê hy.

Daar is aanvanklik alarm gemaak toe iemand opgemerk het Hennie se huis is aan die brand. Daar was Saterdag ook twee toergroepe op die plaas en een van die toergidse het aanvallers met klapmusse naby Anneke se huis opgemerk en ook alarm gemaak. Daar was vermoedelik twee of drie aanvallers.

“Ons het daarna hulp van die boere in die omgewing ontbied,” het Jan-Daniël gesê.

Hy sê daar was teen 15:15 verskeie plaaswagte en lede van die omliggende boeregemeenskap op die plaas, onder wie lede van AgriLimpopo, die Ohrigstad-boerevereniging en die teen-renosterstropingseenheid van Hoedspruit met hul snuffelhonde.

Anneke Claassen (76) was ‘n bedrewe sakevrou en boer. (Foto: Verskaf)

Werkers het toe reeds die deur van Hennie se huis oopgebreek en hom uitgetrek. “Hy is lewend aan die brand gesteek, in die huis toegesluit en vir dood agtergelaat. Hy het nog geleef toe hulle hom uitgehaal het, maar hy is op die toneel dood.”

Anneke se huis was vol rook en reaksiespanne het alles moontlik geblus met emmers water voordat hulle Anneke se liggaam in die gang van haar huis aangetref het. Sy was onherkenbaar verbrand en daar was verskeie items soos komberse en tydskrifte op haar liggaam gepak wat aan die brand gesteek is.

Oor die motief vir die grusame moorde kan Jan-Daniël net bespiegel. Hy vermoed in dié stadium dat sy ma dalk op die “verkeerde plek op die verkeerde tyd” was. Niks is uit haar of Hennie se huise gesteel nie, ook nie hul selfone of ander persoonlike besittings nie. Dit lyk wel of die aanvallers die kluis in die hoofhuis, waar Anneke al jare lank woon, vergeefs probeer oopbreek het. Die agterdeur van dié huis is ook met ʼn staalstang of iets soortgelyks oopgedwing.

“Ek vermoed my ma het hulle dalk betrap toe sy Saterdagmiddag van die dorp af teruggekeer het. Miskien het sy hulle geken en daarom het hulle haar doodgemaak. Ek weet nie of hulle dalk die sleutels van die kluis in oom Hennie se huis gaan soek het en toe besluit het om hom te vermoor toe hulle hom daar sien nie. Daaroor kan ons nog net bespiegel.”

Beskikbare inligting dui egter daarop dat die aanvallers reeds in die huis besig was toe Anneke van die dorp af teruggekeer het. Die kluis was uit die kantoor in die huis verwyder en dit was duidelik dat daar verskeie pogings was om dit oop te breek.

Reaksiespanne en die polisie het ure lank na die verdagtes gesoek, onder meer met behulp van hommeltuie en snuffelhonde, maar die spoor het later verdwyn.

Cor Cross, ondervoorsitter van die Ohrigstad-boerevereniging, sê hulle staan die polisie in die ondersoek by en soek steeds na die aanvallers.

Groot skok, slagoffers geliefd

Volgens Cross is die plaaslike veiligheidstrukture en plaaswagte in dié omgewing baie aktief. Hy sê boere is uiters paraat en daar is gereeld patrollies.

Hennie Claassen (78) is Saterdag in sy huis op die plaas Klipfonteinhoek op Ohrigstad vermoor. (Foto: Verskaf)

“Daar is ook ʼn baie goeie verhouding met die polisie en goeie samewerking tussen gemeenskapslede en landelike strukture.

“Dit is ʼn groot skok. Ons is gelukkig dat daar oor die afgelope jare eintlik net geringe misdaad in die omgewing was. Anneke en Hennie was baie betrokke in die gemeenskap en ook baie geliefd.”

Jan-Daniël sê sy ma én Hennie was hardwerkende mense en nog baie fiks en gesond.

“Hulle was gʼn bejaard nie. Hulle het so hard gewerk en was in alle opsigte betrokke in die gemeenskap.”

Jan-Daniël se tandarts-pa, dr. Daan Claassen, is jare gelede oorlede en sy ma het destyds al haar “stadshakies vir die rooigrond van Ohrigstad verruil” waar sy geboer en oor die jare verskeie sakeondernemings op die been gebring en bedryf het.

“My ma het soveel deursettingsvermoë gehad en was boonop nog saggeaard ook. Sy het met almal oor die weg gekom en soveel respek vir ander betoon. Sy het baie mense gehelp en aan baie mense werk gegee.”

Hennie het ook al jare op die plaas gewoon.

“Hy was selfs nog sagter as my ma – as dit moontlik is. Hy was ʼn goeie mens, eenvoudig. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het alles vir ons en ander mense gedoen. Hy was ʼn besproeiingsboer en gekwalifiseerde dieselwerktuigkundige. Hy kon enigiets regmaak – van geisers tot trekkers.

“Ek dink nie daar is iemand wat ʼn skewe woord oor oom Hennie kan sê nie.”

Jan-Daniël sê hy hoop die skuldiges word vasgetrek en boet vir hul dade. Intussen fokus hulle daarop om sy ma se lewe te vier en beplan hulle tans aan haar gedenkdiens.

“Ons is ook so dankbaar vir die hulp en ondersteuning uit die gemeenskap. Dit dra ons.”

Anneke laat haar seun, twee dogters, drie skoonkinders en sewe kleinkinders agter.

Hennie word onder andere deur sy vier kinders en verskeie kleinkinders oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Nettie ·

‘n Mens sit net verslae en verstom. Soveel wreedheid. So onnodig. Niemand verdien so ‘n dood nie, maar veral nie 2 mense soos hierdie nie. Mens kan net bid en hoop dat God hul genadig was dat hulle hopelik bewusteloos was ten tyde van die ergste wreedheid.

Dis nie meer reg nie. Dis nie meer aanvaarbaar nie. Hoe lank nog?

Sterkte aan die families en vriende en gemeenskap. Julle het ons diepe en innige meegevoel, simpatie en gebede. Mag God julle onderskraag.

Harley Davidson ·

Dit gaan nie ophou voor die media nie sê wie die aanvallers is en wie die slagoffers is nie want dit sal die moorde op n ander hoogte plaas,nou lyk dit soos n inbraak wat skeefgeloop het.

Niklaas ·

Ek het haar goed geken , jare lank . Sy was een ystervrou , ook altyd opgeruimd en deurgans so ‘n waardige dame. Mag daardie aanvallers gou agter tralies wees.

Nettie ·

Ek is jammer oor jou persoonlike verlies Niklaas. Mag haar siel in vrede rus.

Jubba ·

Agter tralies? Sodat my belasting geld vir hulle kossies en bersies koop solank ek leef en werk? Nee!

Pietertjie ·

Jan-Daniël is heeltemal reg as hy sê dat mense nie só optree nie.

Papsak ·

Sjoe sjoe dit is bo onmenslik wreed dood gemaak was dit nodig vra ek ons gaan maak hulle nie op sulke wrede maniere dood nie maar gaan ook niks weer oor kom nie maar gaan doen dit met hulle dan kyk jy wat gebeur gee hulle vir ons asb

Fran ·

Hoeveel nog Here? Hoe lank moet ons nog uithou? Moenie ons Afrikaners vergeet nie Here. Ons smag na U redding.

Nettie ·

Ons gebede styg op. Na elke artikel. In elke aandsgebed. Kom Here, kom!

Rooikoos ·

Volgens ramaparra bestaan daar nie iets soos plaasmoorde nie, onthou hoe het hy dit vir die wêreld uitbasuin?

Misky ·

Ek kan nie die barbarisme en wreedheid meer verstaan nie. Hoe doen mens so iets aan einge ander wese?

Francois ·

Kom ons kyk hoe vinnig Kameraad Cele sy “public relations” besoekie gaan doen…

Yvonne ·

Boosheid van die tipe mens ken geen perke nie….hulle vergeet egter WIE hulle wel gesien het????

Sandra ·

Aai my innige simpatie. Dit klink beslis soos iemand wat hulle geken het, of die uitleg van die huis geken het, want hoe het hulle geweet van die kluis. Ek hoop hulle vind hulle en sluit hulle toe, en gooi dan die sleutel in die see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.