Olifant kry huis in Swakopmund

Die olifantbul in Swakopmund. (Foto: Facebook)

Swakopmund het ʼn nuwe vierpotige inwoner.

Die ministerie van omgewing en toerisme het besluit om ʼn rondloper olifantbul vir eers in Swakopmund te laat aanbly, nadat beamptes hom verskeie kere na die Omaruru-rivier probeer skuif het.

“Die ministerie het besluit om die olifantbul wat die afgelope weke aan die kus van Swakopmund beweeg, toe te laat om te bly,” het die Namibiese ministerie van omgewing en toerisme Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Die olifant is die eerste keer op Oukersaand in die omgewing van Swakopmund gesien. Beamptes van die ministerie en ander belangegroepe het die olifant na die Omaruru-rivier geskuif, waar ons gedink het hy sou floreer aangesien hier baie plantegroei en water is,” sê die ministerie. Die dier is ook in Januarie met ʼn satelliethalsband gemerk, sodat die ministerie sy beweging kon naspoor.

Die olifant het egter Saterdag na die kusgebied teruggekeer en so ver as Langstrand in die rigting van Walvisbaai beweeg.

“Lede van ons personeel kon die olifant na die Swakoprivier verskuif. Die olifant is tot dusver baie rustig en geen tekens van skade of aggressie is aangemeld nie,” sê die ministerie. “Ons hoop die olifant sal ʼn tuiste vind en floreer. Dit is Namibië se Kersgeskenk en die olifant se welstand is vir ons belangrik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

Daardie woestynolifante is baie gehard. Ek het al baie gewonder hoe oorleef hulle met so min water en kos. Dit is verbasend hoe diere by omstandighede kan aanpas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.