Omstrede Bushiri-egpaar vlug landuit

Die Bushiri-egpaar (Foto: ANA)

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, is terug in Malawi nadat hulle ondanks hul streng borgtogvoorwaardes steeds landuit kon vlug.

Die egpaar, wat by die Enlightened Christian Gathering Church (ECG) betrokke is, se borgtog is vroeër toegestaan op voorwaarde dat hulle die oorspronklike titelakte van hul eiendom in die Midstream-landgoed in Centurion aan die staat oorhandig. Hul bewegings is tot Gauteng en Noordwes beperk en die egpaar moes elke Maandag en Vrydag by die polisie aanmeld.

Hulle moes ook hul paspoorte inhandig.

Shepherd Bushiri het egter vanoggend op Facebook aangekondig hy en Mary is in Malawi.

“Daar was tot dusver duidelike en ooglopende pogings om my, my vrou en my familie dood te maak en ondanks ons herhaalde pogings om dit by die owerhede aan te meld, was daar nog nooit staatsbeskerming nie. Om na Malawi te kom is ʼn taktiese onttrekking uit Suid-Afrika wat net gedoen is om ons lewe te beskerm,” lui Bushiri se boodskap.

Hy sê die egpaar volstaan by hul onskuld, maar sal dit nie kan bewys as hulle dood is nie.

Die twee was twee weke agter tralies voor hul borgtog toegestaan is en Bushiri sê hulle is steeds nie seker wanneer hul verhoor gaan begin nie.

“Ek wil dit duidelik stel dat ons terugkeer na Malawi nie onderneem is om weg te hardloop van die verhoor nie. Glad nie. Al wat ek en my vrou wil doen, is om ons name in ere te herstel in ʼn strafregstelsel wat regverdig en onpartydig is.”

Bushiri eis nou dat die Suid-Afrikaanse regering die egpaar se veiligheid waarborg terwyl hulle hier is.

Hulle eis ʼn onderneming dat hul borgtog nie teruggetrek gaan word nie, dat die beamptes betrokke by die ondersoek, inhegtenisneming en vervolging hulself aan die saak onttrek, asook dat die Suid-Afrikaanse regering die probleme wat Bushiri geopper en die klagtes wat hy aanhangig gemaak het, sal ondersoek.

“Laastens wil ek hê die Suid-Afrikaanse regering moet onafhanklike en professionele ondersoekers en aanklaers aanstel wat onafhanklike besluite oor die kwessies waarvan ons beskuldig word, kan neem.”

Indien daar aan dié eise voldoen word, sal Bushiri hom weer “beskikbaar stel” om voor ʼn Suid-Afrikaanse hof te verskyn. Bushiri sê hy vra ook die Malawi-regering om in dié verband met die Suid-Afrikaanse owerhede saam te werk.

Maroela Media het vroeër berig die Bushiri-egpaar en hul medebeskuldigdes word van betrokkenheid by bedrog en geldwassery ten bedrae van R102 miljoen beskuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Persheks Adri ·

Geweet hulle gaan vlug! Wie op dees aarde dink hy is hy om te “demand”? Die owerhede luister NIE en hou aan borg gee en dit vir R102 miljoen se bedrog! Die regstelsel is voorwaar ‘n teleurstelling pffft

Willem ·

En daar is die bewyse dat jy sonder paspoort die land kan verlaat

Jan ·

Hulle het Malawiese diplomatiese paspoorte… hulle land sou vir hulle onmiddelik nuwes uitgereik het…

Anel ·

Nou met wie se hulp het hulle in Malawi gekom? Hulle is misdadigers en nou wil hulle kom eise stel?

Persheks Adri ·

Wil ek ook weet Anel! Iemand help die kriminele beslis en geld praat!

Joe Olivier ·

ramaphosa het mos gister lekker saam met Malawi se prez gekuier in Pta. Die 2tjies is toe seker saam met hul prez hier weg sonder paspoorte. Wonder of hul ook vanaf Waterkloof gevlieg het.

Juffrou ·

Hoe blatant astrant is dié mannetjie! Kan Interpol hulle nie onmiddelik gaan haal nie? Wie de duiwel dink hy is hy? Net nóg ń skelm hy! Ek wonder waar is die titelakte? Seker ook in lêer 13. Hoekom het hulle in elk geval borg gekry. Wie is daai magistraat?

Dup ·

En steeds word hierdie “skelm pastore” vereer en verheerlik asof hulle uit die hemel neergedaal het.Mijoene rande se bedrog word gepleeg maar steeds glo hulle volgelinge dat hulle onskuldig is.

Pieter ·

Met sy paspoorte ingehandig, hoe kom hy land uit tot in Malawi? Malawi grens nie aan Suid Afrika nie, dus het hy minstens 2x ‘n grens sonder paspoort oorgesteek, of hy het baie paspoorte en net 1 stel ingehandig. Pateties dat so iets kan gebeur en ‘n klad op die profeet se CV, hy kon nie sien wat die toekoms vir hom inhou nie. Eerder ‘n pro-feet want hy weet hoe om met sy voete weg te hardloop.

Anton ·

Uit die artikel…”die twee is al langer as twee jaar agter tralies”…
Hoe het hulle dan ontsnap? ????

Maggies ·

Die artikel sê hulle was twee weke agter tralies voor hulle borgaansoek suksesvol was.

Persheks Adri ·

Artikel is gewysig Anton. Gaan sien Sterkwater se kommentaar. Maroela het per ongeluk ‘n fout gemaak

Politikus ·

Ek wonder of Profeet Bushiri oppad hemel toe is eendag…

Casper ·

Ek stem saam met dit wat julle opper maar kom ons wees realities.Twee jaar al agter tralies sonder dat die verhoor begin het.Wie speel die vertragingsspeletjie.Hoekom word hulle sake nie ondersoek nie.Jammer Lamola maar ek sou ook die pad gevat het.

Vlooitjie ·

Artikel is gewysig . Dit was 2 weke. Gaan sien Sterkwater se kommentaar. Maroela het per ongeluk ‘n fout gemaak

marius ·

Voetsek saam met julle prokureurs , die landdros en julle anc pelle .

Keelvol ·

Nogal demands maak maar hy’s n verdagte. Trek sy borg terug en laat die Malawiese oewrheid hom oorhandig.

Brian ·

Besit van die titelakte tot die eiendom is geen sekuriteit nie.

Swerkater ·

Maroela Media hulle was 2 weke agter tralies, nie 2 jaar nie.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Swerkater
Dit is inderdaad ‘n fout en ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is sedertdien gewysig.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

JohanR ·

En daar val ek al weer van my stoel af van die lag vir hierdie pateties ANC goverment. Seker deur Patricia de Lille se R37 miljoen stukkie draad geglip! Wie is die ou wat vir hulle borgtog gegee het. Sou se se sy bank rekening moet bietjie ondersoek word. Die wereld lag vir ons!

Toffie ·

Hoekom is ek nie verbaas nie!! Deurtrapte klomp skelms ek hoop net hul bly nou waar ookal hul is.

Riaana ·

Ek is bly hulle kon hier weg, want SA is n wreede land, en nee Bushiri’s was nie net sleg nie, hulle het duisende honger Suid Afrikaners voorsien van hoop kos ens, hulle is nie reg nie maar defnetief nie net verkeerd nie, hulle het gesorg dat die hele Pretoria gebaat het, almal het geld gemaak en verdien, so ja wag voor julle net oordeel!!!! Voor hulle Pretoria verlaat het kon mense n Salaris verdien, by die Venue wat hulle maandliks gehuur het….ons glo nie wat hy en sy kerk glo nie, maar hulle was verseker nie net sleg nie, baie meer as wat baie van ons kan se!!!!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hulle moes nooit borg gekry het nie. En hul reis-dokumente moes gekonfiskeer gewees het.

MakersMark ·

Wat sê die hoed nou ? Lyk my die skaapwagter het die magtige sa polisie om die bos gelei…..of dalk gekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.