Onbestendigheid laat rand wipplank ry

(Argieffoto: Maroela Media)

Dit is meer as ʼn week later en die rand neig steeds aan die verkeerde kant van R19 teenoor die dollar.

Teen Vrydagoggend het die rand op R19,30 teenoor die dollar verhandel. Dít terwyl ʼn dollar jou ʼn jaar gelede sowat R15,30 gekos het.

Everest Wealth sê die onlangse tuimeling van die rand wys weer eens hoe kwesbaar die plaaslike geldeenheid vir internasionale en plaaslike onstabiliteit is.

Dié private beleggings- en welvaartbestuursmaatskappy glo die alewige beurtkrag, die begrotingsrede in Februarie, die land se insluiting op die internasionale grys lys en algehele onsekerheid oor ekonomiese en politieke beleid is te blameer vir die rand se gesukkel.

Die rand kry eenvoudig nie ʼn blaaskans nie, sê Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

“Politieke en ekonomiese onsekerheid het die afgelope tien jaar ʼn groot invloed op die rand gehad en tot gevolg gehad dat die geldeenheid behoorlik wipplank gery het. Dié gebeure kan ook tot ʼn gebrek aan buitelandse beleggings lei wat weer tot ʼn depresiasie van die rand lei.”

Van Zyl wys ook daarop dat verwikkelinge in die Amerikaanse finansiële mark tot dusver vanjaar ʼn groot uitwerking op die rand gehad het. Suid-Afrika se handelsbalans is ook een van die katalisators wat die rand beïnvloed.

“ʼn Beduidende handelstekort kan druk op ʼn land se geldeenheid plaas. Indien ʼn land meer goedere en dienste invoer as uitvoer, is daar ʼn groter vraag na buitelandse geldeenhede wat lei tot depresiasie van die binnelandse geldeenheid. Suid-Afrika het in die afgelope tien jaar verskeie kere handelstekorte beleef wat druk geplaas het op die rand.”

Suid-Afrika is ʼn groot uitvoerder van kommoditeite soos goud, platinum en steenkool. Die rand se waarde word ook beïnvloed deur die verandering in internasionale kommoditeitspryse. “Indien kommoditeitspryse daal, kan dit Suid-Afrika se uitvoerinkomste, handelsbalans en die algehele waarde van die rand negatief beïnvloed,” verduidelik van Zyl.

Aankondigings deur sentrale banke en monetêre beleidsbesluite het ook ʼn invloed op ʼn land se geldeenheid.

“Indien ʼn sentrale bank beleid volg wat die geldvoorraad verhoog of die rentekoers verlaag, kan dit veroorsaak dat die geldeenheid verswak. Albei faktore kan die rand se waarde relatief tot ander geldeenhede beïnvloed.”

Só het die rand oor die afgelope tien jaar teenoor van die wêreld se grootste geldeenhede gevaar, aldus Everest Wealth:

(Grafiek: Everest Wealth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Agie@toeka ·

Soos hulle aan gaan is die papier een van die dae meer werd as waarvoor dit aan gewend word!

JohanR ·

Onthou nog die naweek toe ou Des van Rooyen(weekend special) minister van finansies geword het? Dit was ‘n Jacob Zuma/Gupta hostile takeover van die Reserwe Bank. En toe nose dive die rand. Die rand het nou weer ge=nosedive met die Rusland en Eskom nonsens. Wil net se toe ek Europa toe was in 1988 was dit R1.71 vir $1. Ek het maar R5000 saam met my gevat en lekker 5 weke getoor. Ek het terugekeer met nog R400 in die sak.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Geagte Mede-Suid-Afrikaners, wees nie bekommerd of bevrees nie. Mzansibabwe (post 1994 Suid-Afrika) is nou deel van die BRICS met die BRICS Bank en die nuwe BRICS Geldeenheid is oppad. En die ANC se Mzansibabwe is arm-om-die-blaas bevriend met sy sielsgenoot Rusland.
Goeie, eerbare Suid-Afrikaners se grootste vyand is die ANC. Ons durf nie polities apaties wees nie: ons nageslagte sal ons daaroor verwyt. Wees ‘n politieke Aktivis vir Geregtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.