Onderpresterende pensioenstelsel benodig hervorming

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Suid-Afrika gaan ʼn veelsydige benadering benodig as hy sy onderpresterende pensioenstelsel behoorlik wil hervorm.

“Hoewel daar geen oplossing is wat almal gelukkig kan maak nie, sal die vermindering van gelde, diversifisering van beleggings en die aanvaarding van volhoubare beleggingstrategieë pensioenfondse help om beter opbrengste vir hul kliënte in die komende jare te lewer,” sê Rudolph Janse van Rensburg, portefeulje-ontleder by Everest Wealth.

Die internasionale batebestuurder Allianz Group het in sy 2023 Global Pension Report bevind Suid-Afrika se pensioenstelsel slaag nie daarin om op wêreldvlak mee te ding nie. In die ontleding van die pensioenstelsels van 75 lande en die volhoubaarheid en toereikendheid van dié stelsels, is daar ook bevind dat Suid-Afrika se pensioenstelsel verdere hervorming benodig.

Volgens die verslag het Suid-Afrika van die armste pensioentrekkers en Janse van Rensburg sê dit lei tot groeiende kommer onder nie net diegene wat reeds afgetree het nie, maar ook mense wat steeds aktief werk.

“Een van die hoofredes vir die onderprestasie is die land se sukkelende ekonomie. Suid-Afrika is swaar getref deur ʼn kombinasie van hoë werkloosheidsyfers, minimale groei en politieke onstabiliteit. Hierdie faktore het dit vir pensioenfondse bitter moeilik gemaak om konsekwente opbrengste te genereer.”

Nog ʼn rede vir die onderprestasie is weens gelde wat sommige pensioenfondsbestuurders hef en wat uiteindelik ʼn kommerwekkende uitwerking op opbrengste het.

“In sommige gevalle kan die bestuurders tot 3% van totale bates onder bestuur neem wat op lang termyn eksponensieel ʼn groter uitwerking op die belegging se opbrengste sal hê,” sê Janse van Rensburg.

Allianz Group se verslag wys voorts dat Suid-Afrika minder as 2% van sy BBP aan ouderdomsvoordele bestee. Ander probleme sluit in lae dekking, die lae voordeelvlak en die gebrek aan aftreespaargeld, wat die toereikendheid van die stelsel in gevaar stel.

Volgens die verslag het Suid-Afrika wél voordele: finansiële speelruimte omdat openbare besteding vir ouer mense baie laag is en die bevolking relatief jonk bly. Maar hoe gouer hervormings deurgevoer word, hoe beter, lui die verslag.

“Suid-Afrika sal die bul by die horings moet pak. Die twee beleide wat voorgestel is, is dat pensioenfondse se gelde verminder moet word, óf om hul beleggingstrategieë te verbeter.

“Alternatiewe bateklasse, soos privaat ekwiteite, eiendom en infrastruktuur is deur markkenners voorgestel. Hierdie soort beleggings kan moontlik dien as alternatiewe oplossing waar konstante en hoër opbrengste verdien kan word.”

Die verslag stel ook voor dat Suid-Afrika sy aftreestelsel meer volhoubaar maak deur die algehele finansiële voorsiening vir aftrede te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.