Ondersese internetkabels sal dán reg wees

Twee van die ses ondersese kommunikasiekabels wat internetverkeer om Afrika na Europa herlei, het gebreek. (Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Twee van die ses ondersese kommunikasiekabels wat internetverkeer om Afrika na Europa herlei, het weer gebreek, maar tegnici glo die foute op albei die kabels behoort teen Saterdag herstel te wees.

Sommige Suid-Afrikaners kla sedert die naweek oor stadiger internetspoed, maar dit lyk of die uitwerking van die gebreekte ondersese kommunikasiekabels nie so erg is as wat aanvanklik gevrees is nie.

Die Wacs-kabel wat Suid-Afrika aan Brittanje verbind, het Vrydagaand omstreeks middernag kort duskant die kus by Cardiff in die Verenigde Koninkryk gebreek.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsing- en Opleidingsnetwerk (SANReN) se Twitter-rekening is die herstelskip Ile D’Arix reeds uitgestuur na die punt onder die see waar die kabel gebreek het. Die skip het die kabel vandag bereik en die fout sal na verwagting teen Saterdag herstel wees.

SANReN het gesê daar is in die tussentyd ook ʼn fout op die SAT-3-kabel gevind naby die kus van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Die kabel het byna op presies dieselfde plek gebreek as waar die Wacs-kabel vroeër vanjaar gebreek het.

Die herstelskip Léon Thévenin is reeds op die toneel en besig om daaraan te werk. Tegnici verwag die fout behoort reeds teen Donderdag herstel te wees.

Die SAT-3-kabel is ʼn ouer kabel en kan 800 gigabisse se data per sekonde stuur, terwyl die Wacs-kabel 14,5 terabisse per sekonde tussen lande kan stuur.

Ile D’Arix behoort die kabel vandag te bereik en die fout sal na verwagting teen Saterdag herstel wees. (Foto: ‘n Skermgreep van die SANReN se Twitter-rekening.)

Internetdiensverskaffers soos Afrihost sê hulle is bewus van probleme met internasionale internetverkeer. Die verskaffers herlei tans die bykomende internetverkeer na ander kabels tussen Suid-Afrika en Europa in ʼn poging om die uitwerking van die twee gebreekte kabels teen te werk.

Die diensverskaffers meen plaaslike internetgebruikers sal slegs die verlies aan vermoë voel wanneer hulle groot hoeveelhede data uit die buiteland wil oordra of stuur. Selfs met die kabels wat buite werking is, behoort Suid-Afrikaners nie ʼn ernstige verlaging in die internet se spoed te ervaar nie omdat die meeste kommunikasie plaaslik geskied.

Stromingsdienste soos Netflix en Showmax stoor hul inhoud op plaaslike bedieners wat nie deur die breuke in die kabels geraak word nie. Dit geld ook vir Facebook, Google en Microsoft wat plaaslike bedieners gebruik.

Die SAT-3‑ en die Wacs-kabel het albei in Januarie vanjaar ook gelyktydig gebreek. Herstelwerk aan die twee kabels het toe meer as ʼn maand geduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leeuwyfie ·

En tog is daar steeds mense wat glo die internet werk deur satelliete.

Cherokee ·

Leeuwyfie, ek dink die eerste kabel wat gelê is vanaf Suid Afrika, se naam is Spoetnik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.