Ondersoek in Krugerwildtuin ná wildkykvoertuig vlakvark doodry

Die SANParke-wildkykvoertuig wat ‘n vlakvark in die Krugerwildtuin doodgery het. (Foto: Facebook / SANParke / Beani Thies)

SANParke ondersoek ’n voorval waarin ’n vlakvark verlede week deur een van sy wildkykvoertuie in die Krugerwildtuin doodgery is.

ʼn Ontstelde besoeker aan die park het die voorval Saterdag op Facebook aangemeld en foto’s van die voertuig en vlakvark gedeel.

Volgens die besoeker, Beani Thies, het sy en haar familie langs die H10 op pad na Tshokwane gery toe hulle ʼn olifantbul teëgekom het. Luidens Thies se inskrywing op sosiale media het hulle agter ʼn SANParke-wildkykvoertuig stilgehou om die olifant kans te gee om die pad oor te steek.

Volgens haar het die SANParke-voertuig – nadat die olifant die pad oorgesteek het – weggejaag, hoewel amptelike parkvoertuie ook by die spoedbeperking van 65 km per uur moet voldoen.

“Ons het om ʼn draai gery en twee vlakvarke in die pad voor die wildkykvoertuig gesien. Ek het na my pa gekyk en gesê ‘in die verte is twee vlakvarke’ en dat ‘hy [die bestuurder van die voertuig] nie sy spoed verminder nie’.

“Ons het toegekyk hoe een van die vlakvarke van die pad af hardloop terwyl die ander een vir sy lewe voor die jaende voertuig gehol het. Nog voordat ek my sin kon voltooi, het hy die arme vlakvark platgetrap. Geen remligte, geen huiwering.”

Thies skryf verder dat hulle probeer het om die bestuurder, wat in dié stadium glo vinniger as 100 km per uur gery het, voor te keer.

“Hy het uiteindelik stilgehou. Ek het my venster afgerol en al wat hy kon sê was ‘sjoe, ek het dit gesien’ waarop ons geantwoord het dat ons hom by Laer-Sabie sal aangee.”

Volgens Thies het die bestuurder hulle probeer keer toe hulle weer wou ry en gesê hy sal dit self aanmeld. Thies en haar familie is egter na Laer-Sabie om die voorval aan te meld. Hulle is na bewering nie ernstig opgeneem nie omdat hulle nie ʼn foto van die dooie vlakvark geneem het nie. Daar is glo ook aan hulle gesê dat amptelike wildkykvoertuie nie vinniger as 65km/h kán ry nie.

Hulle het teruggery en ʼn foto van die dier gaan neem, wat leweloos tussen die gras gelê het.

Die vlakvark wat in die Krugerwildtuin doodgery is. (Foto: Facebook / SANParke / Beani Thies)

Volgens Thies het sy haar na Facebook gewend nadat sy geen terugvoer van die Krugerwildtuin of SANParke ontvang het nie, al het sy al die regte kanale gevolg om antwoorde te kry.

SANParke het kort ná die plasing op sosiale media wel reageer en aangedui dat hy dit voorval in ʼn baie ernstige lig beskou en geensins sulke gedrag duld nie.

“Motoriste, insluitend werknemers, wat die spoedgrens oorskry word tot verantwoording geroep. Vir werknemers kan dit ʼn dissiplinêre proses beteken waarvan die uitkoms hulle dalk hul werk kan kos,” het SANParke gesê.

“Ons het ʼn verslag van die afdelingsveldwagter versoek wat op die betrokke saak fokus, en ook ʼn ondersoek van stapel gestuur wat op die gegewe inligting geskoei is.

“Die uitkomste hiervan sal die volgende stappe – moontlik tugstappe – bepaal.”

SANParke het intussen alle kommentaar op hul plasing op Facebook gesluit sodat die saak “behoorlik ondersoek” kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gretha ·

Dis tyd dat daar meer wetstoepassing in Kruger geskied. Hierdie wildsvoertuie is ‘n groot probleem. Teveel van hulle ook in park.

Prikkie ·

Die wildtuin “behoort” mos aan hierdie wildkyk voertuie. Hulle kom druk voor/tussen/langs jou in en versper jou sig en doel dadels.

Jammer daar is nie ‘n video oor die voorval nie.

Die bestuurder gaan NIKS oorkom nie.

Niklaas ·

Ons is gereelde besoekers aan die KNP. Die meeste bestuurders van die wildkyk voertuie is besonder arrogant en nie vreeslik bedagsaam nie. Maar niks sal hiervan kom nie. Ek het gehoor dat die Wildtuin ‘n groot inkomste inpalm uit hierdie firmas en hierdie voertuig getalle sal dus nie sommer verminder word nie.

Casper ·

Hoe weet julle wat sy spoed was.Die een se dood is die ander se brood.Die park het sekerlik nie net een vark nie.Gun die aasvoëls ook iets om te eet.

Kuver ·

So casper wat as dit n Luiperd, Leeu of Wildehond was sou jy dan nog steeds so gevoel het.

Paul ·

Ek stem saam, die Parkbestuur sal absoluut NIKS doen nie. Die bestuurder gaan skotvry wegloop.

Johan ·

Met die mentaliteit moet SANParke dan mos meer van hul voertuie instuur, sodat daar meer “brood” geproduseer kan word.

OU SAAR ·

Ek ruik ń rot…
Hoekom het hy so gejaag?
Wat was in sy voertuig wat niemand mag gesien het nie of wat wou hy weg steek?
Dis afgryslik dat ń onskuldige dier die prys moes betaal en vir wat…
Ek hoop van harte daar kom iets van die storie…
En Casper, mag jy 3 pap wiele kry volgende keer as jy ń wildtuin besoek. Jou kommentaar laat ń wrang smaak agter.

Danie ·

Niks sal verder gebeur nie.
Indien die ooggetuie nie baie naby aan die park woon en bereid is om hoeveel keer in en uit te ry om te getuig in n verhoor nie sal die saak uitgegooi word.

Spotty ·

Ou Saar ek hoop jys reg drie pap wiele vir Casper tussen n ongekrapte trop Olifante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.