Ondersoek ná mans konkoksie van vreemdeling drink

Argieffoto (Foto: PDPics/Pixabay)

Die polisie in Limpopo stel ondersoek in ná twee mans Saterdagoggend gesterf het. ʼn Derde man is steeds in die hospitaal.

Die mans het ʼn konkoksie gedrink wat ʼn onbekende motoris Donderdag aan die oorlewende slagoffer gegee het.

“ʼn 55-jarige man was een van die werksoekers in Rabestraat in Mokopane (Potgietersrus),” sê Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie. “ʼn Onbekende man het omstreeks 09:00 met ʼn wit motor langs hulle stilgehou en hom gevra of hy werk soek. Die man het glo vir hom ʼn brood en ʼn 2 liter-bottel met rooi vloeistof gegee. Hulle het aangeneem dit is koeldrank. Die man het daarna weggery.”

Met hul aankoms by Uitbreiding 14 het sy jonger broer, uitgeken as die 50-jarige Klaas Muvhalo, en nog ʼn man, die 36-jarige Thabo Thlako, die vloeistof gedrink. Hy het slegs ʼn klein bietjie daarvan gedrink. Muvhalo en Thlako was sterk onder die invloed van die drankie.

“Muvhalo se toestand het versleg en hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy Saterdag in die vroeë oggendure gesterf het. Thlako is Saterdagoggend omstreeks 10:00 dood aangetref in ʼn huis. Die oorblywende slagoffer is met maagpyn in ʼn hospitaal opgeneem.”

Die polisie is ontbied en het dadelik begin ondersoek instel. Die nommerplaat en tipe motor waarmee die onbekende man gery het, is nie bekend nie.

“Die polisie wat hierdie sake hanteer moet ten volle ondersoek instel oor wat tot die afsterwe van die mans gelei het,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van die mans se afsterwe te bepaal. Enigiemand met inligting word versoek om sers. Johannes Makgamatha te kontak by 060 887 7185.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snowball ·

Wie drink sommer net iets wat ‘n vreemdeling jou verniet in die hand stop? Dalk hulle eie konkoksie aanmekaar geslaan en nou vertel die oorlewende een dié storie – tipe motor en nommerplaat onbekend, so die polisie soek ‘n naald in ‘n hooimied.

SjN ·

Ek het al gesien dat hul battery suur by die skokkejaanbrousel gooi vir meer skop. Slim het sy baas gevang.

honeybee ·

Dit klink vir my n bietjie snaaks, dink ook dit was hulle eie konkoksie.

LD ·

Dankie MM, ek woon hier maar het nog glad nie iets gehoor van die storie nie, as dit nie vir MM was nie het ek nie eers geweet van dit nie. In hierdie dorp is dit elkeen vir homself, ons het nie eers ñ behoorlike koerant vir nuus nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.