Ondersoek na ‘padda in burger’ baar ʼn muis

Die padda was met mayonnaise besmeer [Foto: Verskaf]

Ná afloop van McDonald’s se ondersoek na ʼn onlangse voorval waar ʼn padda in een van hul wegneem-hamburgers gevind is, kan dié kitskosrestaurantgroep steeds nie sê hoe die padda op die burger beland het nie.

Al deurbraak wat die ondersoek skynbaar gemaak het, was om die padda in die burger as ʼn Amietia delalandii, oftewel ʼn rivierpadda, te identifiseer. Dié soort kom algemeen in Suid-Afrika voor.

McDonald’s het die ondersoek gelas nadat Willem Bezuidenhout van Secunda, Mpumalanga, dit onder hul aandag gebring het dat sy dogter ʼn padda op haar McChicken-burger gekry het. Dié voorval het op 6 Mei plaasgevind.

Bezuidenhout sê nou die jongste skrywe vanaf McDonald’s oor die bevindinge van die ondersoek beantwoord geensins die vrae wat hulle oor die voorval het nie.

Daniel Padiachy, woordvoerder van McDonald’s in Suid-Afrika, het in ʼn vorige skrywe aan Bezuidenhout gesê dat hulle vermoed die padda het deur middel van die blaarslaai op die burger beland en dat hulle dit ondersoek.

Met die mees onlangse skrywe wat ná afloop van die ondersoek aan Bezuidenhout gerig is, gee die restaurantgroep egter geen direkte aanduiding oor hoe die voorval kon plaasgevind het nie. Daar word ook nie melding gemaak oor wat die aard en omvang van die ondersoek behels het nie.

McDonald’s het voorheen aan Bezuidenhout gesê dat die blaarslaai op die burgers direk van die verskaffer af kom en dadelik gereed is om te bedien. Hulle het erken die blaarslaai word nie gewas voordat dit op die burgers geplaas word nie.

Nou sê die restaurantgroep die verskaffer het weens die voorval sy prosesse hersien en bykomende beheermaatreëls ingestel. Dit is egter glad nie uit die skrywe duidelik of die padda wel van die verskaffer se blaarslaai afkomstig is, of wat die nuwe prosesse en maatreëls behels nie.

“Ons verskaffer voorsien al vir langer as 23 jaar aan ons blaarslaai en dit is die eerste keer dat ons bewus is van ʼn padda wat op een van ons produkte gekry is,” sê Padiachy namens McDonald’s.

“Met inagneming van ons streng voedselveiligheidstelsels, -prosesse en oudits binne ons verskaffers en restaurante, het ons werklik geen benul oor hoe hierdie voorval kon gebeur het nie. Ons bly daartoe verbind om te alle tye veilige kos aan al ons klante te bedien en het as sodanig ook heropleiding op restaurantvlak gedoen.”

As deel van die ondersoek het die restaurantgroep die burger ingesamel vir verdere ondersoek om die “vreemde voorwerp” in die “produk” te identifiseer.

Dié ondersoek is nou afgehandel, maar volgens Bezuidenhout het die restaurantgroep ʼn “flou verskoning” waarom die gesin nie die laboratoriumuitslae of -verslag kan sien nie. “Hulle sê omdat dit ‘ʼn derdepartyverslag’ is, mag ons dit nie sien. Dit maak nie sin nie,” sê Bezuidenhout.

Bezuidenhout sê hy en sy gesin is teleurgesteld in hoe McDonald’s die saak hanteer het.

“Ons ervaring met McDonald’s se hantering van die situasie laat veel te wense oor en ons het geen vertroue dat hulle daarin belangstel om aan ons die antwoorde te bied wat ons verlang nie.”

Die restaurantgroep het die Bezuidenhout-gesin genooi om die betrokke restaurant te besoek en te sien “wat agter die skerms gebeur”. Volgens Bezuidenhout stel die gesin nie belang om dié besoek af te lê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.