‘Onderwysdepartement se plan met wiskunde faal leerders’

Argieffoto.

Argieffoto.

Hoewel die matriekklas van 2016 gelukgewens kan word met hul uitslae is daar steeds rede tot diepe bekommernis oor die land se wiskunde-uitslae.

Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand, het die staat se huidige plan as ’n “doodloopstraat” beskryf.

“Slegs 51,1% van al die 2016 matrieks wat wiskunde (nie wiskundegeletterdheid nie) geskryf het, het deurgekom. ʼn Allemintige 48,9% het dus minder as 30% in wiskunde behaal. Van dié wat geslaag het, het slegs 33,5% bo 40% in wiskunde behaal en dit nadat die punte heelwat opwaarts aangepas is deur die departement. Sonder twyfel sit die sterker leerlinge in die wiskundeklas en hierdie skokkend lae persentasie gee ’n sterk aanduiding van hoe vrot ons wiskunde in werklikheid is.”

Vermeulen het gesê dit onderstreep wat die Timms-uitslae van 2015 ook bevestig het. Suid-Afrika was 35ste uit 36 lande in gr. 9 wiskunde. “Onderwys van wiskunde is krities swak en meer drastiese stappe moet gedoen word om dit te takel. Tans loop die departement se strategie met wiskunde in ’n doodloopstraat af”, het Vermeulen gesê

Van die 1 303 016 leerders wat in 2004 graad 1 begin het kon net 610 178 (46,8%) verlede jaar matriek skryf, slegs 135 958 (10,4%) het wiskunde in graad 12 geslaag en slegs 6,8% van hulle het bo 40% in wiskunde behaal.

Volgens Vermeulen moet die departement van onderwys net gaan kers opsteek by skole waar daar suksesvolle onderwys en bewese prestasie in wiskunde is. “Hulle hoef nie veel verder as Afrikaanse skole te soek nie. Navorsing onder die 721 Afrikaanse skole (alle skole wat Afrikaans Huistaal as vak aanbied) se 2016 matriekuitslae dui aan dat hierdie skole puik standaarde handhaaf. Hoewel dié skole net 10,6% van alle openbare skole verteenwoordig het hulle 32% van alle onderskeidings in wiskunde opgelewer.”

Vermeulen het gesê die puik uitslae kan toegeskryf word aan hoëkwaliteitopleiding vanaf voorskool, deur die grondslagfase, intermediêre fase tot senior fase deur goed opgeleide passievolle onderwysers wat hul leerlinge se volle potensiaal laat realiseer. “Die geheim is die kwaliteit van die onderwysers. Die onderwysdepartement sal wys optree om hierdie kundigheid te gebruik om onderwysers maar ook studenteonderwysers landwyd beter op te lei,” het Vermeulen bygevoeg.

Volgens Vermeulen gaan die SOS vanjaar weer verdere opleiding bied aan ongeveer 3 000 Afrikaanse onderwysers tydens hul middagseminare en kongresse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Lance ·

Verbaas mens gladnie …glo dit gaan weer gebeur Angie … wonder soms of sy weet watse dag dit van die week is …HALLOO !

julius ·

Wat help dit ons om te spog met ons hoë prestasies as die anc jeegliga ons goeie skole wil oorvat? Moenie ons goeie vordering op media versprei nie, hulle gebruik dit om ons aan te val. Baie geluk aan al die matrieks wat goed deurgekom het, ons sallueer julle en voorspoed met die toekoms.

Veritas ·

Baie insiggewende syfers wat jy hier noem Nico. Wat sou die rede wees vir die suksesse van Afrikaanse skole? Ek glo dat die vlak van dissipline, in hierdie skole, ‘n groot faktor is. Hierby bedoel ek nie net die leerlinge se dissipline nie maar ook dié van die onderwysers. Dit wil vir my voorkom asof daar, in Afrikaanse skole, iets uit die Afrikaanse geskiedenis voortleef. Dit, volgens my, is nederigheid, goeie maniere en respek teenoor onderwysers. Sonder hierdie eienskappe word ‘n omgewing van wanorde en swak dissepline geskep wat beslis nie bevorderlik is vir goeie resultate nie. Groetnis.

Disselboom ·

Daar is blykbaar ook meerdere leerlinge wat 100% vir wiskunde gekry het, en dit gebeur elke jaar. Dit wys groot fout met ‘n sif wat te groot gate het en nie werklik die prestasie peil nie. Dat sommiges 100% kan kry en soveel ander nogtans druip, wys die oorhoofse probleem is baie ernstig; maar om lofredes vir die Afrikaanse kinders te sing wat presteer in ‘n standaard wat bevraagteken moet word, is selfbedrog wat ons toekoms gaan benadeel.

Tammy ·

Veritas, baie geluk met jou skrywe. Jy weet beslis waarvan jy praat en slaan die spyker op sy kop. As kinders nie gedissiplineerd is nie, dit is by die huis….ja by die ouerhuis, nie die ouma se huis of “antie” se huis nie, dan vaar hulle al klaar beter op skool. Dis die klomp wat uit die stukkende gesinne, uitkom wat die skole ontwrig terwyl goed opgeleide onderwysers probeer klas gee….. dis hulle wat die hele land aftrek in die grond in. Ja, Madame Angie verdien n goeie pakslae , wonder baie oor haar vermoeens……

Cacophony ·

Is daar nie dalk ‘n overstatement oor die belangrikheid van wiskunde nie? In die ou SA kon kinders kies wisk HG, Std en selfs geen wiskunde nie. Steeds was onderwys van uitstekende gehalte en elke kind kon iewers ‘n plekkie vind. Jy kon selfs universiteit toe gegaan het sonder wiskunde. Jy kan of wiskunde doen of jy kan nie! Wat help dit jy dwing ‘n kind om wisk te vat en hy kry 30% daarvoor. Dis nie kennis bou dit nie! Miskien moet daar bietjie buite die boks gedink word oor die benadering. Wat van ‘n breër spektrum as net wisk en wetenskap? Kinders word ingeforseer in wiskunde of hulle aanleg het of nie. Nie almal kan wiskunde doen nie net soos nie almal kan teken dans of sport speel nie. Skuif die boks dink bietjie wyer as net wiskunde dalk is dit ons oplossing.

callie ·

Gaan kyk na die vakke wat hulle vat en dan is die slaagsyfer nog steeds laag. Ek glo iemand kan die persentasie van leerlinge deurgee wat wiskunde neem. Ek glo dit is alreeds om en by 50% Dus sonder wiskunde is die slaagsyfer laag. Almal dink lankal buite die boks.. Ongelukkig is wiskunde baie belangrik om verder te gaan studeer op meeste van die terreine.

Alida ·

Ag mense wat help dit tog hulle karring elke jaar met iets nuuts. Die mense wat al hierdie planne het is self ongeletterd wat verwag julle.

John ·

Daar is niks beter op skool as ‘n goeie Wiskunde-onderwyser nie; iemand wat slim en geduldig genoeg is om leerders wat sukkel se verkeerde gedagtegang te snap en te korrigeer. ‘n Wiskunde-onnie wat die dak af gil, is swak en dom. Skole kan eerder swak sportafrigters he as swak onderwysers.

Tinielle ·

Callie wiskunde is baie belangrik om ver der te gaan studeer in meeste rigtings. Die hoofdoel van wiskunde is om die brein te ontwikkel. Wat my wel uitboul is dat n kind wat medies studeer nooit weer wiskunde as n vak neem nie. Tog is baie hoe wiskunde punte n vereiste om keuring te kry.

John ·

“… die brein te ontwikkel” antwoord jy self. Dokters het soveel om te leer. Uiteindelik moet kennis, en wiskunde, toegepas word. Dokters moet reg kan diagnoseer en gepaste behandeling vind. Gereelde opvolgkursusse soos in Kanada en elders moet hier ook ingestel word want dokters is so besig dat hulle nalaat om nuwe medikasie/prosedures te bestudeer en raak verswelg deur Afrika se veeleisendheid. Party drs skryf glo medikasie voor wat reeds in die Weste verbied is. Miskien is jy tog reg. Weer ‘n bietjie wiskunde sal die brein dalk net opkikker om te wonder… Raak ek nie verroes nie?

Paul ·

Haal eers die balk uit jou eie oog.
Wat is 100 minus 51.1? Die antwoord is nie 49.9 nie…
As die Skoleondersteuningsentrum nie ʼn aftreksom kan doen nie, hoekom van matrieks verwag om dit te kan doen?

Mariné Lourens ·

Dagsê Paul

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Mariné Lourens ·

Dagsê Paul

Ons sal jou kommentaar en ons wysiging aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) stuur.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.