Ongeluk op N4 eis ses van Sibanye Stillwater

Sondag se ongeluk op die N4 tussen Middelburg en Emalahleni in Mpumalanga het die lewe van ses werknemers van die mynmaatskappy Sibanye Stillwater geëis. Die oorledenes was ook almal lede van die National Union of Mineworkers (NUM).

Die oorledenes is intussen geïdentifiseer as Bonginkosi Mrasi, ʼn NUM-streeksekretaris; Zukile Maskot, ʼn NUM-taksekretaris; Lulama Madyosi, ʼn NUM-takvoorsitter, Thantaswa Sikani, ʼn NUM- taksekretaris, Retshidisitswe Mbirha, ʼn adjunksekretaris van ʼn NUM-tak en Dumisani Futshana, ʼn lid van NUM.

Die oorledenes was Sondag op pad terug van dié vakbond se nasionale jeugstruktuurkonferensie in Mbombela toe hulle verongeluk het.

“Die kamerade het saam met die NUM PWV-streeksekretaris Bonginkosi Mrasi, bekend as “Bongz” gery. Die ander vyf kamerade was lede van die NUM-jeugstruktuur by Klooftak en afgevaardigdes van die jeugstruktuurkonferensie,” aldus die vakbond.

Maroela Media het vroeër berig paramedici het Sondag omstreeks 06:30 op die toneel aangekom en ʼn motorwrak aan die kant van die pad onder die R35-brug aangetref. Die vyf mans en ʼn vrou is almal op die toneel dood verklaar.

Daar word vermoed dat Mrasi dalk moeg was, maar verdere ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van die ongeluk vas te stel.

“Ons betuig namens NUM se nasionale uitvoerende komitee, personeellede en almal verbonde aan hierdie reusevakbond ons innige meegevoel met die families, kollegas en vriende van die kamerade in hierdie moeilike tye,” sê NUM se adjunk-hoofsekretaris, Mpho Phakedi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ek het al agter ‘n stuurwiel ‘n “micro slaap” gehad. Nie lekker om daar wakker te skrik en jy kan nie die laaste 20 sekondes onthou nie.

Piet 6 ·

Toe ek sien vanwaar hulle gekom het, het ek geweet wat die oorsaak was.

So hartseer vir die naasbestaandes dievoorledenes. RIP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.