Ontbind Emfuleni-raad onverwyld – ActionSA

(Foto: Emfuleni Local Municipality, Facebook)

ActionSA gaan die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) vra om die Emfuleni-munisipaliteit se raad onverwyld te ontbind en ʼn administrateur vir die sukkelende plaaslike owerheid aan te stel.

Die Emfuleni-munisipaliteit bedien onder meer Vanderbijlpark en Vereeniging in Gauteng.

Volgens Bongani Baloyi, voorsitter van ActionSA in Gauteng, sukkel die munisipaliteit al jare lank om selfs die mees basiese dienste te lewer, terwyl sy reeds benarde finansiële situasie net aanhou versleg.

“Die munisipaliteit is reeds sedert 2018 onder administrasie vir sy toenemende besteding en onreëlmatige uitgawes van meer as R1 miljard. Van dié ingryping het dadels gekom. Pleks daarvan het dienslewering selfs verder agteruit gegaan,” sê Baloyi.

Die situasie het nou ʼn punt bereik waar inwoners en sakelui betalings aan die munisipaliteit staak – weens die owerheid se versuim om dienste te lewer – en inwoners skuld die munisipaliteit al nagenoeg R8 miljard.

Die balju het Donderdag met Emfuleni se voertuie weggery (Foto: Eskom, Twitter)

Maroela Media het vroeër berig die balju het Donderdag op die munisipaliteit se voertuie beslag gelê om sy uitstaande skuld aan Eskom te verhaal. Die munisipaliteit skuld die kragvoorsiener nagenoeg R1,3 miljard.

Die munisipaliteit het daarna ʼn dringende aansoek by die hof ingedien om Eskom se optrede te stop.

“ActionSA glo ʼn administrateur moet aangestel word om die munisipaliteit se finansies te stabiliseer en te verseker dat basiese dienste aan die gemeenskap gelewer word. Die administrateur is ʼn tydelike oplossing totdat ʼn langtermynoplossing vir die munisipaliteit se verval gevind kan word.”

Artikel 139 van die Grondwet bepaal dat die provinsiale regering ʼn munisipale raad kan ontbind en ʼn administrateur kan aanstel, mits buitengewone omstandighede dit regverdig.

“Die Gautengse regering het oor die jare versuim om die uiters kommerwekkende situasie by die munisipaliteit te pak en daarom sal ons alles in ons vermoë doen om te verseker inwoners se behoeftes kry aandag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Lekker ou SA. Betaal eers die salarisse en daarna die volgende op die lys tot die geld op is. Wanneer gaan cANCer wakker skrik?

Chris dupreez ·

Net solank die administrateur van n ander politieke party is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nog ‘n job vir ‘n kader om sake verder op te voeter. Maar daar is wel intelligente inwoners wat sake kan oorneem.

Kokerboom ·

In net meer as 27 jaar het ANC SA op sy knieë soos vir 27 jaar in tronk beplan! Nou moet inwoners wat ernstig is hul land terugneem!

Geert ·

Die inwoners wat nou staak om te betaal vir dienste wat hulle nie kry nie doen die regte ding. Ek meen dit is tog irrasioneel om te betaal vir iets wat jy nie kry nie.

Johan ·

“Hou op betaal”, ek hou daarvan, daai klomp skep soveel hul kan vir solank hul daar is…ek sal met liefde my belasting geld self inspan en bestuur om alles om my aan die gang te hou.

Blom ·

Ons woon in Drie Riviere in Emfuleni. Oorkant die pad van ons is dit Risiville (Midvaal DA). Dit lyk soos hemel en hel so verskil dit. Ons bly op ‘n hoekerf. Die straatlig werk nou al meer as 14 jaar nie. Word elke maand op die erfbelasting rekening gesit. Ons het nou al meer as R 60 000-00 betaal vir ‘n lig wat nie werk nie. Slaggate is aan die orde van die dag. Vullis word nie verwyder nie. Die gras staan heuphoogte tussen die paaie en oop velde. Dit is ‘n absolute hool. Dan praat ek nog nie eers van Peacehaven nie. Daar loop die riool al vir jare in die strate af. Die reuk is iets verskriklik. Party dele in Emfuleni sit vir weke sonder krag of water. Die infrastruktuur word nie onderhou nie, NIKS word onderhou nie. Maar, betaal sal ons betaal, elke maand anders kry jy vinnig ‘n brief in jou posbus.

Marcello ·

Hulle kan regtig by Midvaal Munisipaliteit wat hulle buurdorp bedien gaan kers opsteek, hulle lewer dienste, alles is net reg. Ek het groot geword in Vereeniging, en dit is vir my skokkend hoe dit nou daar lyk. Dit is so ironies as ‘n mens in Risiville beweeg wat onder Midvaal Munisipaliteit val, en jy gaan oor die straat na Drie Riviere , (wat onder die Emfuleni munisipaliteit) val, hoe pateties alles vanaf die Drie Riviere tot in Vereeninging agteruit gegaan het, dit is hartseer om te sien hoe dit lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.